Motors

Drie bekostigbare Magnite-modelle tree aan

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Goeie nuus vir verbruikers onder druk is dat Nissan sy klein Magnite-gesin met ’n paar sakpas- outomatiese modelle uitgebrei het.
Goeie nuus vir verbruikers onder druk is dat Nissan sy klein Magnite-gesin met ’n paar sakpas- outomatiese modelle uitgebrei het.

Kort op die hakke van sy goedkoper Magnite-modelle wat nou met 'n natuurlik geaspireerde 1.0-liter-petrolenjin te kry is, het Nissan die onderkant van die modelreeks verder uitgebrei met drie outomatiese weergawes vir dié intreemodelle.

Aanvanklik was die klein Magnite, Nissan se kompakte sportnuts wat ook as 'n Renault Kiger by ons te kry is, net met die turbogedrewe weergawe van die 1.0-liter-enjin te kry. Die klein turbo-enjin het billike krag gelewer (74 kW, 152 Nm), maar was net as 'n vyfganghandrat te kry.

Hierna het Nissan die intreevlakmodelle bekend gestel, wat met die natuurlik geaspireerde 1.0-liter-enjins toegerus is (53 kW, 96 Nm). Dit bring die pryse met 'n drastiese sowat R60 000 per model af, wat die klein Magnite dadelik bekostigbaar maak vir soveel meer van die middelklas.

Waar die turbomodelle net weerskante van die R300 000-kerf gesit het, begin die nieturbo-Magnites al by skaars R227 900. Dis 'n groot sprong laer.

Dit is nou dié intree-Magnites wat verder uitgebrei is met die outomatiese modelle. Presies hoe gewild dit gaan wees, sal ons moet sien, want die outomatiese ratkas is nie werklik 'n tradisionele outo'kas nie, maar eerder wat ons noem 'n gerobotiseerde handrat.

Renault en Nissan (wat hierdie ratkas in verskeie van hul gedeelde produkte inspan) noem die ratkas 'n AMT - vir auto­mated manual transmission. Die ratkas is basies 'n gewone handrat, maar daar is geen koppelaarpedaal in die voertuig nie. Sodra die enjintoere hoog genoeg is, sal die blikbrein self die koppelaar aktiveer en die ratkas na 'n volgende rat oorskakel.

Dit verg 'n bietjie gewoond raak, want jy moet eers luister na die enjintoere en dan wanneer dit hoog genoeg is, jou voet effe lig van die petrolpedaal sodat die blikbrein die rat kan verwissel. Dan gee jy weer vet.

Renault en Nissan erken dis 'n kompromis, maar sê die boukoste is veel minder as met 'n tradisionele wringkragomsetter-ratkas. Die meganiese kompleksiteit is ook veel minder.

Die ratkas is uitsluitlik vir die Indiese mark ontwikkel, waar duisende eerstekeerkopers dié soort ratkaste verkies bo 'n gewone handrat. Ons voer die Kiger­ en die Magnite vanuit Indië in, vandaar dat ons dan ook hierdie ratkaste ontvang.

Goed toegeruste kajuit

Vir Nissan SA gaan dit oor prys-sensitiwiteit aan die onderkant van die mark. 'n Sportnuts wat jy teen R230 000 kan aanbied, teenoor R350 000 bloot omdat hy 'n deftiger ratkas het, is vir die invoerder 'n maklike besluit om te neem. Die mark kies op grond van prys, met middelslag-Suid-Afrikaners wat tans onder massiewe druk is. Die outomatiese Magnite sonder­ die turbo-enjin sal in al drie afwerkingsvlakke te kry wees.

Die Visia is die intreemodel en bied 'n eenvoudige radio, lugversorging, Bluetooth-konnektiwiteit en elektriese vensters.

Die Acenta voeg outomatiese spoedbeheer by, die Visia se staalwiele word opgegradeer na sierwiele, daar is 'n digitale inligtingskerm op die voorpaneel wat met jou slimfoon kan koppel en daar is 'n aansitknop.

Laastens voeg die Acenta Plus items by soos 'n tru-kamera, spoedbeheer, 'n banddrukmonitor en LED-hoofligte.

Al die Magnites het twee lugsakke en ABS-remme standaard ingesluit, en het 'n driejaar/30 000 km-diensplan en 'n ses- jaar/90 000 km-waarborg.

  • Magnite 1.0 Visia (out.) - R243 900;
  • Magnite 1.0 Acenta (out.) - R263 900;
  • Magnite 1.0 Acenta Plus (out.) - R279 900.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM