Wêreldwyd is die kleine Polo al vir die afgelope halwe dekade Volkswagen se tweede gewildste model. Egmont Sippel het die jongste Life-variant beproef.
In die middel van 2015 was daar 16 luikrugvariante van Volkswagen se Golf in Suid-Afrika te koop, asook vyf Golf SV's, oftewel Golfs met 'n hoër en derhalwe ruimer lyf.
Terselfdertyd kon mens uit een van 13 VW Polo-variante kies. Sewe van hulle was sedans, die ander ses luikrugte. Tel daarby 15 Polo Vivo's, waaronder vier sedans, en uit die 49 Golfs en Polo's is die hele lot buiten een Polo-diesel deur viersilinders gedryf waarvan die kleinste enjinkapasiteit 1,2 liter was, die driesilinderdiesel ingesluit.
Die Golf is dus nie meer die Golf nie. Die Polo is nou die Golf. Só gesien kry sy prys 'n heel ander kleur.
Deesdae, met die oordonderende gewildheid van kruisvoertuie en lewenstylers?
Wel, daar's steeds 13 Polo-variante, maar net as jy die Polo Vivo bytel. Dis 15 minder as agt jaar gelede. En van 21 Golf-variante het drie oorgebly: Twee GTI's en die Golf R.
Nie alles het afgeskaal nie.
Teen 4,074 m is die sesde-geslag-Polo-luik ewe lank as Golf 3 en net 'n knerts korter as Golf 4, wat op sy beurt net 96 mm korter as Golf 8 is.
Die baba-Golf het dus mooi groot geword, hoewel sommige variante sedert einde 2015 ten minste aan een front gekrimp het en dis onder die enjinkap.
Afgeskaalde enjinkapasiteit en turbo's
Downsizing, of dan die tendens om kleiner enjins se karige verbruik met die groter krag van aangejaagde enjins te kombineer, het sy wortels al in 2005 begin skiet met bronne soos VW se 1.4-liter TSI "Twincharger" (menende 'n turbo- én 'n superaanjaer).
Maar dis Renault se 1.1-liter-turbobron vir 2007 se Twingo II wat die filosofie in alle erns gevestig het. Twingo II had sy wêreldbekendstelling in die Sloweense hoofstad en as jy dink Ljubljana is pragtig en bekoorlik moet jy die stad se vroueskoonhede sien!
Vyf jaar later het VW die turborevolusie wat op brandstofbesparing gemik was (eerder as ekstra spiervesel; dink doerietyd se ikoniese Subaru Impreza WRX STI) met 'n 12-kleppige 1.0-liter-driesilinder (70 kW/160 Nm) uit Wolfsburg se reeks van EA211-petrolenjins onderskryf.
Deesdae bied einste 999 cc-driesilinder 'n kragkeuse: 70 kW/5 000 r.p.m. plus 'n nuwe wringpiek van 175 Nm/2 000 r.p.m. of (vir R23 000 meer) dieselfde enjin met pieke van 85 kW/200 Nm.
Rapport het onlangs 'n herontmoeting met die 70 kW-weergawe in die hersiene Polo 1.0 TSI Life geniet.
Groot motorgevoel
Die eerste gewaarwording was dat die driesilinder oor die jare heen tot 'n juweel geslyp is.
Tweedens het die vyfgang-handratkas beïndruk. Dis steeds jou tipiese VW-skuif, effe springerig van rat tot rat, maar met wonderlike skoon en goed gedefinieerde gleuwe wat ligte, maklike en akkurate gooie bevorder.
Ten derde het dit opgeval hoe verfynd die Polo deesdae is. Die dryfsamestel werk as 'n lieflik geïntegreerde eenheid, van die koppelaar se intrap, deur die kieriehaak tot by die koppelaar se uitlaat plus die versneller se goed gekalibreerde invoer op 'n enjin wat feitlik ten volle van driesilinderbronne se tradisionele ruheid ontslae geraak het.
Die 70 kW-Life, met 'n verbasende wakker wegtrek en verbysteek, voltooi die 0-100 km/h in minder as 11 sekondes voordat 'n topspoed van amper 190 km/h gehaal kan word. En dit sonder dat die waentjie ooit voel of hy uitmekaar wil bars van al die stresse en kragte wat teen hoë toere op hom inwerk.
Goed. Dis 'n Volkswagen. Dis wat jy verwag.
Maar met die nuutste Polo kry jy meer as wat verwag kan word, want die ontwerp, ingenieurswese, tegnologie, bougehalte, afwerking en verfyndheid - plus 'n pragtige kajuit met goeie toerusting - skep ook 'n grootmotorgevoel.
En dis die belangrike wins wat die Life bied, dat jy in 'n kleinmotor ry wat na 'n grootmotor voel. Nie 'n groot motor nie, maar wel 'n grootmotor; een wat klas, gehalte, stewigheid en stabiliteit bied en derhalwe die rit-ervaring tot iets spesiaals verhef.
En dit alles sonder dat die Life buitensporig drink. Gemiddelde verbruik kan maklik tot minder as 8 liter/100 km beperk word. Met 'n bietjie omsigtigheid kan 'n bestuurder selfs deur ongeveer 6 liter/100 km breek. En as jy regtig probeer sal die Life sy dors met net 'n slukkie of twee meer as 5 liter/100 km les.
Die Polo is voorts goed geveer om, saam met 185/65-R15-rubber se diep profiele op 15"-allooie, puik ritgehalte te lewer.
Normaalweg sou mens 'n oordeel soos dié natuurlik soos volg moes kwalifiseer: "Vir 'n klein motortjie (4,074 m) met 'n kort asafstand (2,552 m) ry die Polo lekker."
In die Life se geval is die kwalifikasie egter oorbodig. As laaste pyl in die Polo se gesofistikeerde koker ry hy lekker en klaar.
Toerusting en slotsom
Die Polo Life bied materiaalsitplekke, kragvensters alom, 'n hoogteverstelbare bestuurderstoel, twee leesliggies voor en twee agter, verhitbare kragspieëls, reënsensor vir ruitveërs, misligte voor en agter en heelwat toerusting wat normaalweg net in duurder motors gevind word soos kruisbeheer, gordynsakke voor en agter, parkeerhulp voor en agter en 'n puik veelkleurige, digitale infovermaakstelsel en -skerm.
Gevorderde opsies sluit voorts 'n panoramiese sondak in plus sleutellose deurontsluiting, radionavigasie, stembeheer, laanbeheer, 'n trukamera en IQ.Light-LED-matrikshoofligte.
'n Mens betaal vir hierdie soort dinge; die Polo Life is allermins goedkoop.
Wat die vraag laat: Hoekom word helfte van die toerusting nie weggelaat sodat die Polo meer bekostigbaar kan wees nie? Die intreevlakluik reik al na R350 000.
Die antwoord het te make met VWSA se Kariega-aanleg, waar amper 3 600 mense daagliks na die bou van 710 Polo's, Polo Vivo's en Polo GTI's in linker- én regterstuur omsien. Kariega, terloops, is die enigste aanleg ter wêreld wat die Polo GTI bou.
Hier's egter die punt: 75% van Polo's en Polo GTI's word na Europa en Asië uitgevoer - wat goeie spesifikasievlakke ononderhandelbaar maak.
Soek jy dus 'n goedkoper Polo en daar's altyd die Vivo, wat eksklusief vir Suid-Afrika gebou word.
Of jy kan heeltemal anders oor die saak dink. Soos dat die Golf ten minste sedert die bekendstelling van sy sewende geslag in 2012 feitlik universeel as die wêreld se beste motor beskou is.
Maar waar het dit VW se eertydse ikoonmotor gebring? By die twee genoemde GTI's en een R wat in Suid-Afrika oorgebly het? Vir pryse wat van R777 000 tot R945 000 strek?
Dis tragies, maar dis waar. Min mense kan sulke soort pitte rondstrooi. Die Golf is dus nie meer die bekostigbare wiele van ouds nie. Plaaslik het hy 'n elite-motor geword.
Sy plek is wel deur die Polo en Polo Vivo geneem. Sedert laasgenoemde se bekendstelling in 2010 het Suid-Afrikaners jaar in en jaar uit meer Vivo's as enige ander mousterkar gekoop.
Sedert 2019, en met 2022 as 'n uitsondering, was die Polo selfs wêreldwyd Wolfsburg se topverkoper naas die Tiguan.
Die Golf is dus nie meer die Golf nie.
Die Polo is nou die Golf.
Só gesien kry sy prys 'n heel ander kleur.
- Pryse: VW Polo Hatch 1.0 TSI 70 kW Life - R391 000; 1.0 TSI 85 kW Life - R414 000. Albei bied 'n 3 jaar/120 000 km-waarborg en 'n 3 jaar/45 000 km-versienplan.


















