Motors

Einde van ’n era – en nog een begin

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Dit was met 'n knop in die keel dat daar vir 'n laaste keer met 'n V8-Jaguar om 'n renbaan geblits is, want die Britse vervaardiger wil voortaan net elektriese motors bou. Ferdi de Vos het die silinders vir oulaas laat brul.

Die einde van die era van petrolgedrewe Jaguars het aangebreek. Die laaste spesiale modelle is dié donker ZP Edition van die F-Type, ’n kopknik na Graham Hill se renmotor van destyds.
Die einde van die era van petrolgedrewe Jaguars het aangebreek. Die laaste spesiale modelle is dié donker ZP Edition van die F-Type, ’n kopknik na Graham Hill se renmotor van destyds.

Met die finale F-Type wat op 13 Junie vanjaar gebou is - presies 50 jaar nadat die laaste E-Type van dieselfde monteerbaan gerol het - en die laaste beperkte weergawe F-Pace wat in Mei bekend gestel is, het Jaguar Suid-Afrika dit goedgedink om verlede week 'n laaste, eksklusiewe ontmoeting met hierdie petrolgedrewe V8's te reël.

Noem dit 'n ode aan die V8-katte van Coventry, want selfs met sprake van sintetiese petrol vir binnebrandenjins in die nabye toekoms het Jaguar geensins van sy elektrifikasie-planne afgesien nie en die eerste model in Jaguar se nuwe elektriese era - volgens die vervaardiger 'n unieke vierdeur-GT-koepee - word reeds volgende jaar verwag.

Al was dit 'n sessilinderenjin - die legendariese XK wat 40 jaar lank in produksie was - wat die verrigtingsvermoë van Jaguar se sportmotors gevestig het, is dit sy meer onlangse V8-kragbronne wat 'n onmiskenbare, gril-lekker grom aan die knorrige Coventry-katte besorg het.

En dit was 'n uitsoek-keuse van hierdie modelle wat as deel van 'n pasmaak-ondervinding ('n mens kan dit 'n Jaguar-belewenis noem) geduldig by 'n private renbaan in die Franschhoek-omgewing op ons gewag het - waaronder, as spesiale toegif, die enigste twee F-Type ZP Edition-modelle (die laaste normaal geaspireerde welp in die Jaguar-trop) in die land.

'n Subtiele kenteken wys dié warm Kat is een van net 150 modelle wat wêreldwyd beskikbaar gestel gaan word.
'n Subtiele kenteken wys dié warm Kat is een van net 150 modelle wat wêreldwyd beskikbaar gestel gaan word.

Ode aan Graham Hill

Net 150 van die ZP Edition-weergawes is wêreldwyd beskikbaar, en hierdie eksklusiewe modelle, aangedryf deur 'n 5.0-liter- drukaangejaagde V8 wat 423 kW en 700 Nm wringkrag lewer, is geïnspireer deur die lig gemodifiseerde E-Type-modelle, wat in 1961 onder die projeknaam ZP die eerste van 'n rits renoorwinnings vir die ikoniese E-Type-motor behaal het.

Die ZP Edition, in koepee- of afslaankapvorm, is net beskikbaar met 'n "Oulton"-blou kleurbaadjie met rooi binneruim en ivoorbekleedsel (soortgelyk aan die E-Type waarmee Graham Hill desjare op Oulton Park geseëvier het) of met 'n kristalgrys buitekant en donkerblou-en-ivoorkleurige binneruim (soos dié van Roy Salvadori se E-Type waarmee hy in die Crystal Palace-ren gewen het).

Albei kom kompleet met ronde, wit nommerplate op die deure, porseleinwit-omboorsel vir die sierrooster, verskeie ZP Edition-kentekens, blinkswart aksente en blinkswart allooiwiele geskoei met 20-duim-bande.

Hoewel die eksklusiewe paar na hartelus bekyk kon word, was baangebruik ons toe nie beskore nie.

Terloops, die finale F-Type gebou in die Castle Bromwich-aanleg is 'n 5.0-liter-V8-afslaankapmodel met Giola-groen bakkleur, swart dak en bruin Windsor-leer-binneruim - soortgelyk aan dié van die finale E-Type, 'n 5.3-liter- V12-afslaankap wat in 1974 gebou is met die registrasienommer HDU 555N.

Dié spesiale F-Type (die laaste uit 'n totaal van 87 731) is nou, tesame met die finale E-Type, in die sorg van die Jaguar Daimler-erfenistrust.

Wel beskikbaar vir 'n paar laaste rondtes om 'n renbaan was 'n duet van F-Pace SVR-modelle, die vlagskip in Jaguar se weelde-sportnutsreeks, twee F-Type 3.0 V8-koepees, asook twee elektriese I-Paces, die model waarmee die vervaardiger die wêreld van EV's in 2018 betree het, maar wat van volgende jaar af nie meer gebou sal word nie.

Met die klank van die kragti-ge V8-enjins in die F-Pace- en F-Type-modelle wat om die baan weergalm het, het die nostalgie dik gevloei, want dis moeilik om enige toekomstige Jaguar sonder 'n magtige brul en kenmerkende agtsilinder-grom voor te stel.

F-Pace gee die pas aan

Die SVR 575 Edition, tesame met die 90th Anniversary Edition, is die swanesang-modelle in die F-Pace-reeks.

Die SVR 575 Edition is ook die kragtigste F-Pace tot nog toe, synde sy knorrige, druk­aangejaagde V8 'n ekstra 18 kW lewer (423 kW), wat tesame met 700 Nm se wringkrag dié Kat van 0 km/h-100 km/h in net 4 sekondes laat spring.

Benewens sy karaktervolle 5.0-liter-enjin, vind dié beperkte weergawe baat by 'n unieke SVR-bakwerk met swart afwerking en 22-duim-wiele, wyl die 90th Anniversary Edition - wat 90 jaar van Jaguar-innovasie en binnebrandenjin-ontwikkeling vier - gegrond is op die D200 R-Dynamic SE-model.

Benewens subtiele kentekens buitelangs, is daar 'n rits bykomstighede as standaard ingesluit.

In teenstelling met sy knorrige broers het die I-Pace, met sy twee elektriese motors wat 294 kW en 696 Nm wringkrag lewer, stil en doeltreffend om die baan geblits.

As 'n pionier in die premium- EV-mark is die I-Pace ondergewaardeer in terme van sy vermoë, en dis 'n jammerte, want dié elektriese sportnuts was sy tyd vooruit. Dié bekroonde model (dit was die Suid-Afrikaanse Motor van die Jaar in 2019) het egter die toekomsrigting vir Jaguar aangedui en die nuwe tydvak breek volgende jaar aan.

Tog was dit swaar om afskeid te neem van die binnebrandenjin-gedrewe modelle, wat tot nou toe as getuigskrifte van die vervaardiger se verrigtings- en weeldebekwaamheid gedien het.

Dog, wat as 'n ode aan Jaguar se V8's gesien kan word, het terselfdertyd ook 'n nuwe neiging geopenbaar - met eienaars van kragtige, petrolgedrewe supermotors wat al hoe meer aan private byeenkomste op renbane gaan deelneem om hul rygoed se grommende, gillende en knorrende klankbaan te kan geniet.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM