Motors

F1: Dis ’n Max-imum aanslag!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Dis weer tyd vir Greta Thunberg om te gril en vir oktaan­verslaafdes om te jil.

Ná 97 slapies sedert 2023 se slotronde brul die turbohibriede V6'e Saterdagaand eindelik weer in Bahrein met die begin van vanjaar se Formule Een-seisoen.

Nie dat Max Verstappen, Lewis Hamilton of Charles Leclerc se paspoort-ink nog nat sal wees wanneer hulle vanoggend die Sakhir-renbaan met hul strydwaens in die jaar se eerste oefensessie aansê nie: Dié spoed-smulpape sit al sedert verlede week die brijani tussen die sandhope weg nadat 2024 se enigste voorseisoense toets by dieselfde baan afgelê is.

Gaan Ferrari vanjaar reeds vir Red Bull kan uitdaag? Foto: Reuters
Gaan Ferrari vanjaar reeds vir Red Bull kan uitdaag? Foto: Reuters

En gegewe dat die tegniese regulasies onveranderd van 2023 oorgedra is bied dit straks 'n redelik akkurate prentjie van die jaar se verwagte vertonings.

Met een of twee voorbehoude is dít hoe die F1-rooster vertoon het en elke span se vooruitsigte lyk.

RED BULL-HONDA

Jaers:Max Verstappen; Sergio Pérez

Vinnigste toetsrondtetyd:1:30:755 (C4-band)

Rondtes:390

Die verdedigende kampioene, wat verlede jaar die geskiedenis herskryf het deur 21 uit die seisoen se 22 renne te wen, se horings staan nou reeds skerpgemaak vir die wentrofee.

Trouens, so omvattend is die Red Bull-span se begrip van die huidige aëro-reëls dat hulle waarskynlik vanjaar se kroon met 'n blote evolusie van verlede jaar se motor kan inpalm.

Verstappen se snelste toetstyd was dalk op papier goed genoeg vir die vierde posisie, maar is gelewer op 'n gebruikte stel van die duursamer, stadiger C3-band in die snikhete middagure met 'n gepaardgaande ongunstige baanoppervlak-temperatuur.

ál drie motors voor hom se tye is op die sagter C4-band vasgelê wat 'n geraamde 0,6 sekondes sneller per rondte as die C3-band is.

Alles in ag genome (sonder die raaisel van watter motors die minste verrigting-vretende vrag brandstof moes saamsleep), word daar gereken die Red Bull het daarom 'n voordeel van bykans 0,4 sekondes bo sy naaste mededinger - die Ferrari.

Verstappen is foutloos en sonder gelyke; sy motor óók. Red Bull se enigste achilleshiel bly die ewig onderpresterende Pérez, wat hulle jaarliks punte in die vervaardigerskampioenskap kos.

MERCEDES

Jaers:Lewis Hamilton; George Russell

Vinnigste tyd:1:30:368 (C4)

Rondtes:361

Met 'n enkele sege uit die laaste 44 renne is die room van die Driepuntster-dinastie nou bloukaas. Hul baasskap van 2014 tot 2020 is lankal vergete, en met hul talisman, Lewis Hamilton, wat volgende jaar sy statige S-klas-maatskappymotor vir 'n sexier, plat, Italiaanse rooie verruil, het die span se motivering na nuwe dale geduik.

Die W15 is 'n reusetree vorentoe, maar geen van sy mededingers het stilgestaan nie.

FERRARI

Jaers:Charles Leclerc; Carlos Sainz

Vinnigste tyd:1:29:921 (C4)

Rondtes:416

Te midde van onsekerheid oor wie van Mercedes, McLaren of moontlik Aston Martin die oortuigendste uitdager van Red Bull se alleen-wenreg in 2024 sou wees, het die enigste span wat Red Bull van 'n Grand Slam in 2023 kon ontneem sy kleim in die woestynsand verlede week danksy die vinnigste rondtetyd afgesteek.

Ferrari het in die buiteseisoen gewoeker om die SF-24 'n stabiele aëro-platvorm te besorg wat sy jaers ooglopend meer selfvertroue gee; asook sy voorganger se aptyt vir Pirelli's skynbaar geblus heg.

Ferrari begin dus 2024 as naasgunstelinge, maar of hulle die skietgoed het om die geoliede Bulle vir 'n hele jaar lank op hul agterhoewe te hou, is te betwyfel.

Leclerc is F1 se vinnigste kwalifiseerder; net jammer hy vergeet te dikwels waar die perk van sy motor se greep is. Klein jakkalsies knibbel kampioenskapspunte.

MCLAREN

Jaers:Lando Norris; Oscar Piastri

Vinnigste tyd:1:31:256 (C3)

Rondtes:327

2023 se Lasarus-span, wat die jaar met 'n flou polsslag begin maar soos 'n feniks afgesluit het, se belofte het jammerlik nie na 2024 oorgespoel nie.

Piastri en Norris is albei wêreldkampioen-materiaal, maar die MCL38, wat verlede week sy bande kommerwekkend hard gekou het, is nie die motor wat hulle die kroon kan besorg nie.

ASTON MARTIN

Jaers:Fernando Alonso; Lance Stroll

Vinnigste tyd:1:31:159 (C3)

Rondtes:378

In 2023 was Aston Martin se trajek die teenpool van McLaren s'n: blitsig uit die wegspringblokke met die tweede vinnigste motor vir die eerste derde van die seisoen, totdat 'n ontwikkelingsdwaalspoor hulle 'n handvol vervaardigersposisies gekos het.

Die tweemalige kampioen Alonso, wie se kontrak vanjaar verstryk, vry buitendien na Hamilton se Mercedes-sitplek vir 2025, wat vrae oor sy verbintenis tot Aston kan laat ontstaan.

Sy bonatuurlike vermoë om haas ongeloofbare resultate uit middelmatige motors te wurg, bly onwrikbaar. Verwag om heelwat groen in die veelkleurige McLaren-Mercedes-mengelslaai te sien.

ALPINE

Jaers:Esteban Ocon; Pierre Gasly

Vinnigste tyd:1:32:061 (C3)

Rondtes:334

F1 se onsigbaarste - en futloosste - fabriekspan begin 2024 met sy derde spanhoof in vyf jaar. Nie net is Alpine se moedermaatskappy, Renault, onrealisties in hul verwagting en onbereidwilligheid om genoeg ontwikkelingseuro's voor te skiet nie, maar hul ongeduld om resultate te sien beteken die bestuurskoppe rol vinniger as die Jakobyne se teenstanders s'n tydens die Skrikbewind.

Met twee jaers wat boonop mekaar haat, is daaglikse oorlewing 'n prestasie by Alpine. Gevolglik is die aanteken van enige noemenswaardige punte 'n revolusie teen die nare werklikheid.

WILLIAMS-MERCEDES

Jaers:Alex Albon; Logan Sargeant

Vinnigste tyd:1:30:984 (C4)

Rondtes:298

Die Williams-span se FW46, wat oudergewoonte ruimskoots onderdele (onder meer die enjin, ratkas en agtervering ten doel kostebesparing) by die Mercedes-fabriekspan leen, is enkele ure voor die aanvang van verlede week se toets eers onthul.

Ongeag hierdie ongerief was die motor weer die snelste onder die F1 se tweededivisie-viertal, waaronder Stake, RB en Haas tel.

RB-HONDA

Jaers:Daniel Ricciardo; Yuki Tsunoda

Vinnigste tyd:1:30:755 (C4)

Rondtes:366

In Amerika was daar eens 'n Nascar-jaer met die naam Dick Trickle.

En 'n bofbalspeler wat Rusty Kuntz geheet het. (Rêrig.)

En toe, in 2024, word F1 gestraf met die gelykstaande kruis van 'n kommentator-se-nagmerrie genaamd "RB Visa Cash App RB F1 Team". Rêrig.

Dis eintlik die herdoopte AlphaTauri-span van 2023, oftewel die junior-Red Bull-span. Maar hulle hou vol RB staan nie vir "Red Bull" nie, so dis net "RB" vir nou.

Die span was laas jaar redelik hopeloos, maar met meer moederspan-DNS (soos die 2023-Red Bull-vering) kan hulle vanjaar verras. As jy hul naam kan onthou.

STAKE-FERRARI

Jaers:Valtteri Bottas; Zhou Guanyu

Vinnigste tyd:1:30:647 (C4)

Rondtes:378

Hierdie ewe identiteitlose span, wat Alfa Romeo-plakkers die afgelope paar jaar gedra het, is in 2023 aan die Volkswagen-groep verkoop en trap nou water tot einde 2026 (met die gepaardgaande tekort aan investering en resultate), waarna hulle in 2026 as die Audi-fabriekspan sal bekend staan.

Laasgenoemde is waarskynlik F1 se opwindendste vooruitsig, maar ongelukkig moet jy eers jou bokkoms afwurg voordat jy die crème brûlée mag geniet.

HAAS-FERRARI

Jaers:Nico Hulkenberg; Kevin Magnussen

Vinnigste tyd:1:31:686 (C3)

Rondtes:439

Opvallend genoeg het F1 se verwagtingloosste span die meeste toetsrondtes afgelê om op bandgebruik te fokus. Hul matroosbek-spanbestuurder, die Drive to Survive-held Gunther Steiner, het ná 'n uitval met die eienaar in die buiteseisoen die, uhm, hasepad gekies, hoofsaaklik oor laasgenoemde se toegegomde ontwikkelingsbeursie.

  • Sy frustrasie is goed gevestig in hul geskiedkundige onderprestasie - en 'n voorgevoel dat vanjaar net nog 'n herhaling van die span se hartseer geskiedenis gaan wees. Vanjaar se F1-seisoen beslaan 24 rondes en sluit af op 8 Desember in Abu Dhabi.
  • Volg die naweek se eerste Grand Prix Saterdag regstreeks van 17:00 op kanaal 215 op SuperSport.
Braam Peens

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM