Motors

Feit: Max is net tydelik gestuit

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die vreugdevure het hoog gebrand nadat Carlos Sainz ’n ietwat onverwagse sege in die naweek se Australiese Grand Prix in Melbourne behaal het. Die groot gunsteling, Max Verstappen, moes hom vroeg weens tegniese probleme aan die ren onttrek. Foto: Get
Die vreugdevure het hoog gebrand nadat Carlos Sainz ’n ietwat onverwagse sege in die naweek se Australiese Grand Prix in Melbourne behaal het. Die groot gunsteling, Max Verstappen, moes hom vroeg weens tegniese probleme aan die ren onttrek. Foto: Get

Soos die wêreld van weleer in die 1980's gemuteer het na 'n volslae verbruikerskultuur, is die taalvaders se grafkiste terselfdertyd stelselmatig van binne deur hul besetters se tornadotolle verniel.

Beskuldigde Nommer Een was (en bly) liegfabrieke se ongeneesbare klingelverslawing, wat destyds gepleeg is ten koste van sin- en smaakvolle Afrikaans.

Dink net terug aan die slagspreuk van die wingerdnektar wat sy naam deel met 'n Vrystaatse moedverloor-myndorp: Die wyn vir manne wat manwees geniet.

So of die plesier van manlikheid opsioneel is. En behoed jou tog as jy 'n eva is.

Terug in die hede is daar wel 'n groepering van persone, wat sedert verlede maand geensins meer man (askies; liewer: mens)-wees geniet nie.

Wie? Enige Formule Een (F1)-span behalwe Red Bull.

Die panieksaadjie is in Februarie geplant toe die lappe uitdagend soos 'n japon van 'n ontkleedanser se lyf van die verdedigende Red Bull-span se RB20-motor geglip het.

Red Bull se nuwe RB20 werk vernuftig met lugvloei bo-oor, onderdeur en weerskante van die bakwerk verby. Dis een van die geheime waarom Max Verstappen so oorheersend is in renne deesdae.
Red Bull se nuwe RB20 werk vernuftig met lugvloei bo-oor, onderdeur en weerskante van die bakwerk verby. Dis een van die geheime waarom Max Verstappen so oorheersend is in renne deesdae.

En die debutant twee weke later die openingsren in Bahrein met 'n verdoemende 25 sekondes voor die naaste mededinger, wat nie 'n Red Bull was nie, afgeransel het.

Einde verlede jaar het die res van die F1-sirkus gebid dat vanjaar se weergawe 'n blote evolusie sou wees, hoewel laasgenoemde op sy eie reeds 'n angswekkende vooruitsig was. Want hoe oortref jy 'n motor wat 21 uit 22 van verlede jaar se renne vertrap het?

En daar begin die broeke bewe­. Gegrond op die RB20 se sigbare dele (en wie weet watter wáre voedoe skuil onderlangs?), impliseer sy skoon lei dat die motor se ontwerpspan reken hul benadering van sy twee voorgangers, die RB18 en die RB19, sy perk bereik het. En om sy voordeel te behou, slegs 'n nuwe, onontginde aanslag vanjaar sou deug.

Dit was 'n dubbelses wat Red Bull se opponente onmoontlik kon voorspel. Ja, ná al 2022 en verlede jaar se gestoei met bokspringery, verfoeilike vering en gepaardgaande roofvormende rithoogtes - weens lug wat onderdeur die motors gesuig word - kon die res van die veld eindelik die gelyke van Red Bull se 2023-motor bou. In 2024.

Toe gee Red Bull twee treë vorentoe.

Die vloei van lug om, oor en deur oppervlakke is een van 'n spoedsoekende F1-ontwerper se talle tameletjies. Aan die een kant vereis die enjin, ratkas, hibridiese stelsel se battery en tussenverkoelers elk 'n sekere hoeveelheid verkoeling. Op sy beurt word die elektriese motor se battery deels weer met turbo-aanjaer se uitskot-hitte gelaai. En aan die ander kant skep bewegende lug deur die verkoeler-inlate turbulensie en sleur, waarvan albei laasgenoemde die haal van spoed se formidabelste vyand is.

Hierdie toutrekkery tussen beweeglikheid en betroubaarheid word verder verfoes deurdat die motor se ondervloer-area sentraal staan vir die opwek van afwaartse druk.

En dis daarom dat hedendaagse F1-motors se verkoeler-inlate jaarliks soos sjoebroekies krimp en teen 'n skuins helling geposisioneer is, doelbewustelik om die bo-voorvloer-area te vergroot wat lug langs en agtertoe na die vlerk en lugsnoer onder die motor kanaliseer.

Terwyl ander voortploeg met twee konvensionele horisontale verkoelerinlate, beskik die RB20 oor nie minder nie as ses kleintjies: Twee kieue sny styf teen die bakwerk, nóg twee posbusgleufies onder die boonste lip van die bakwerkrant, asook 'n paar moltonnels agter die jaer se skouers wat 'n paar kanonlope weerskante van die enjinkap voer. (Om hulle agie-agtige mededingers te fnuik, is laasgenoemde twee inlate by die motor se onthulling weggesteek.)

Almal ten doel, benewens doeltreffende hitte-uitskeiding, om die miniskuulste sleursyfer en die grootste voorvloer-area te skep. Waarvan laasgenoemde die maksimale opwekking van ondervloerse afwaartse druk en die in staat stel van 'n kleiner, minder sleurhonger agtervlerk om meer spoed in die hand te werk.

Kortom beoefen Red Bull hoërgraad-lugvloei-teorie teenoor standaardgraad vir die res.

Die RB19 se enkele swakheid was sy onvermoë om sy bande voldoende in 'n enkele opwarmingsrondte voor kwalifisering te verhit. Dit was wel 'n doelbewuste daarstelling van korttermyn-pyn, wat verseker het dat bandverbruik egaliger en doeltreffender oor die langer ren-afstand sou wees.

Ditto vir vanjaar.

Max Verstappen is bykans gewaarborg om deurlopend een van die twee voorste wegspringplekke te beklink, maar naweek in en naweek uit is dit die wedren self waar die RB20 werklik sy verwoesting saai.

Dít word verklaar deur die kwantum-gapings tot die naaste motor wat nie 'n Red Bull was nie in vanjaar se afgelope eerste twee Grands Prix.

Totdat die Bul-trein verlede Sondag in Melbourne (tydelik) ontspoor het.

Ongeag die uitwerking van 'n oorywerige regter-agterremknyper wat die 26-jarige Nederlander se eerste onvoltooide uitslag in twee jaar teweeggebring het, is sy kampioenskap-voortou onverstoord. Dit is omdat­ die wenner, Ferrari se Carlos­ Sainz (wat volgende jaar plek maak vir Mercedes se Lewis­ Hamilton), twee weke gelede om mediese redes aan die ronde in Jeddah moes onttrek.

Verstappen se niedeelname het kykers beroof van 'n naelbytstryd in Australië. Die semi-straatbaan se gladde oppervlak bied beperkte greep; en waar die Pirelli's oorverhit by ander bane op die kalender (iets wat Red Bull meesterlik in 2022 en verlede jaat onder die knie gekry het) was ekstreme slytasie in Albert Park 'n troefkaart waarvoor nie eens húlle 'n antwoord gehad het nie.

Met die gevolg dat ten spyte van die voorste wegspringplek 'n tiende opeenvolgende sege vir Verstappen allesbehalwe 'n uitgemaakte saak was danksy die beter afgeronde Ferrari's en daarmee die lans gelig het om hulself onteenseglik te verhef tot Red Bull se gedugtigste teenstander vanjaar.

Nie dat hy gepla is nie - en met nog 21 wedrenne om vanjaar te beslis, is daar elke kans dat hy daardie rekordpoging kan voortsit.

Of oortref.

So 'n scenario voorspel 'n treurspel vir die res van die seisoen. Trouens het 61% van 150 000 lesers van 'n vooraanstaande F1-webwerf in 'n onlangse meningspeiling hul misnoeë met F1 se voorspelbaarheid en nypende gebrek aan 'n aangrypende kampioenskapnarratief uitgespreek.

In ag genome die onbuigsaamheid van F1 se enjin- en lugvloei-reëls is dit bevraagtekenbaar of die sport se onhoubare status quo voor 2025 of 2026 sal kan verander. Gevolg deur die ongemaklike vraag van of kykers se geduldsdrempels nog so lank kan strek.

Want tans is F1 dalk nog goud aan kleur, maar raak al hoe meer vrank van geur.

Braam Peens

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM