Motors

Fris Tanks lei Chinese aanslag

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

GWM se swaargeskut, met 'n nuwe­, groter P-reeks bakkie en die middelslag Tank 500-weeldenuts aan die speerpunt, is aanstons op pad hierheen, met besoekers aan die pas afgelope Nampo-skou wat reeds 'n voorsmakie van dié twee nuwelinge se potensiële slaankrag in die plaaslike mark kon kry.

Bo en behalwe dié twee groot kanonne, asook 'n opgekikkerde Haval Jolion en H6 wat binne die volgende paar maande hier kan aanland, het die Chinese vervaardiger onlangs op die Auto­ China-motorskou in Beijing, asook 'n besoek aan sy Baoding-tuisbasis, 'n string nuwe­linge in sy arsenaal aan motorskrywers vertoon.

Die groot Tank 500 sal ’n sterk mededinger vir die Land Cruiser-modelle wees wanneer hy opdaag.
Die groot Tank 500 sal ’n sterk mededinger vir die Land Cruiser-modelle wees wanneer hy opdaag.

Benewens bogenoemde modelle het hierdie slagorde ook die volgende rygoed ingesluit - in volgorde van slaankrag, die nuwe­ Haval H9-vlagskip, die Tank 700 en 400, die Ora 07 (Lightning Cat), die jongste Ora 03 (Funky Cat), die interessante Ora Ballet Cat en die opgekikkerde Haval Jolion.

Ook 'n Wey-model of twee was aanwesig, maar synde hierdie handelsnaam (nog) nie Suid-Afrika beskore is nie, is daar grotendeels aandag gegee aan die nuwe Tank-, Haval-, GWM- en Ora-rygoed wat wel hierheen kan kom.

Sekerlik die belangrikste, en opwindendste, model wat op pad is, is die GWM "Shanhai Cannon"-dubbelkajuitbakkie - soos dit in China bekend staan - oftewel die "Poer Sahar", soos dit in Thailand heet, of die "CannonAlpha", soos die Australiërs dit noem.

GWM P500-bakkie

Hierdie volgrootte bakkie, wat nie net ontwerpsgewys nie maar ook grootte-gewys sterk op die Ford F150 trek, sal plaaslik as die P500 bekend staan en dit sal hier bo die gewone P-reeks (wat heel moontlik tot P300 herdoop sal word) en die Steed in die slagorde inval.

Die groot nuweling vertoon aantreklik en imposant, veral in topmodelvorm kompleet met swart sierrooster, eiesoortige voorbuffer, uitgeboude swart wielboë, kanttrappe, snorkel en swart "kragbult" op die enjinkap. Wat afmetings betref, is die P500 sowat 12 cm langer as 'n Toyota Hilux-dubbelkajuit.

Plaaslik sal die Chinese strydros met 'n nuwe 2.4-liter turbodiesel (135 kW, 480 Nm) aangedryf word, toegerus met 'n negegang- outo'kas en 4x4-vastrap. As alternatief sal die 2.0-liter hibridiese turbopetrolenjin, wat ons hier reeds in die Tank 300 ken, ingespan word.

Hierdie tweeliter-hibried gee 'n stewige 255 kW en 648 Nm se wringkrag, en 'n negegang- outotransmissie en 4×4-aandrywing is standaard. Tog lyk dit nie of die opper-kanon, bedeeld met 'n 3.0-liter dubbelturbo-V6-petrol­enjin wat 'n allemintige 260 kW en 500 Nm draaimoment lewer, tans vir Suid-Afrika geoormerk is nie.

Ons kon die grootmeneer (en die verskeidenheid van ander modelle) vir versnellings- en hanteringsritte op kort uitgelegde roetes op die Baoding-toetsbaan vat, en hier was die V6 se kraglewering indrukwekkend, hoewel sy 2 ton-plus gewig in die kort draaitjies voelbaar was.

Benewens die verskil in grootte teenoor die gewone P-reeks, het die P500 ook 'n eiesoortige agterklap wat nie net normaalweg plat oopmaak nie, maar ook met 'n 60:40-verdeling na die kante uitgeswaai kan word. En die driemodus-"veelterrein"-stelsel in die topmodelle sluit ook sluit­ewenaars voor en agter in.

Synde gegrond op die Tank 500, deel die P500 sy Tank-eweknie se ruim en weelderige kajuit, met hoogstaande afwerking en als wat kan oop en toe maak, onder meer 'n groot raakskerm en 'n 10-luidspreker Infiniti-klankstelsel.

Te oordeel aan aanvanklike belangstelling, asook ons eerste indrukke, gaan die P500 beslis die plaaslike weeldebakkie-landskap deurmekaarkrap. Dit geld ook die "normale" P-reeks, wat ook aanstons met die nuwe, kragtiger 2.4-liter turbodiesel hier beskikbaar sal wees.

Tank 500

Benewens die groot P500-kanon, is die 500-tenk, 'n Toyota Prado-mededinger wat grootte, stilering en toerustingvlak betref, ook in aantog. Dié weelde-sportnuts, die tweede model in die Tank-stal, is reeds drie jaar gelede oorsee bekend gestel, maar onlangs met die Hi4-T-dryfstelsel en 'n inprop- hibridiese weergawe opgegradeer.

Met 'n leerraamonderstel, 'n ryhoogte van 22 cm, 'n waaddiepte van 80 cm en 'n 29º-naderhoek is die Tank 500 nie net luuks nie, maar ook heel veldry-vaardig en plaaslik sal die Tank 500 waarskynlik met dieselfde enjin- en dryfstelsel-opsies as die P500 beskikbaar wees, vermoedelik in Luxury- en Super Luxury-variante.

Ook beskikbaar vir toetsritte was die nuwe, modern en hoe-kig gestileerde Tank 700 en die Tank 400-model. In vlagskip-formaat, toegerus met die kragtige V6-dubbelturbo-petrolenjin, het die Tank 700 vir heelwat pret op die toetsbaan gesorg terwyl dit by die wegspringslag soos 'n Range Rover Sport op sy agterhurke gaan sit het.

Of die Tank 700 wel in die toekoms hier gaan aanland, is nog 'n ope vraag, want in dié sta­dium is dit (soos die Tank 400, wat glad nie in oorweging is nie; 'n jammerte, myns insiens) net met linkerstuur- en petrolturbo-enjin beskikbaar. Tog, 'n groter turbodieselenjin word klaarblyklik vir die 700 ontwikkel.

Haval H9

Benewens die opgekikkerde Jo­lion (met 'n Pro-model, drukvlerk en al) en die H6, word die splinternuwe Haval H9-vlagskipmodel, wat steeds deur 'n 2.0-liter-turbo-petrolenjin met agtgang-outo'kas aangedryf word, ook vir plaaslike bekendstelling oorweeg.

Die nuweling, met sy aantreklike boksie-stilering, wat dit 'n besliste mededinger vir die nuwe Prado maak, word nou ook met die nuwe 2.4-liter turbodieselenjin en negegang- transmissie toegerus, en hierdie diesel-H9, 'n eerste in sy soort, behoort stewige aftrek plaaslik te kry, maar dis nog onseker of en wanneer dié Haval-vlagskip hier mag aanland.

Wat Ora betref, is daar sprake dat die blitsige 07-vlagskip, met sy duidelike Porsche Panamera-lyne, dalk hier beskikbaar gestel kan word, terwyl die opgekikkerde 03-modelle reeds op pad is. Die Ballet Cat, duidelik 'n elektriese kopie van die finale VW Kewer, blyk nie op die inkopielys te wees nie.

Dit was duidelik op ons besoek aan GWM se imponerende geriewe dat dié Chinese vervaardiger nou oor oorgenoeg hoëgehalte-skietgoed in sy Tank-, Haval- en Ora-divisies beskik om die Suid-Afrikaanse mark binne die afsienbare toekoms met mening te kan stormloop.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM