Een van die veldrygemeenskap se bekendste hardebaarde, Mercedes-Benz se Geländewagen, het nes Ferrari se Purosangue-sportnuts nou ook die Rubicon oorgesteek.
Dit was eens haas ondenkbaar dat die gedugste 4x4 ter wêreld ook as 'n batterymotor die lig sou sien, maar hier is hy nou: Mercedes-Benz se G580 met EQ-tegnologie (soos hy formeel bekend staan).
Die nuwe naam is 'n aanduiding dat Stuttgart goed weet hoe versigtig sy nis-mark van die G-Wagen oor 'n batterygedrewe weergawe sou voel. Daarom dat dit nie - soos algemeen verwag is en in die pas met Merc se eie naamgee-strategie van die afgelope dekade - die EQG gedoop is nie. Trouens, selfs die konsepmodel het as die EQG bekend gestaan. Maar dalk het die internetforums van hulle laat hoor . . .

G-Wagen word die E-Wagen!
Die nuwe G-klas EV is die eerste keer dat Mercedes-Benz sy ikoniese veldryer met slegs batterye as aandryfmiddel toerus. Die wa kry 'n massiewe litiumioon-batterypak van 116 kWh (die grootstes tans in die topweeldesedans is maar 96 kWh) wat vier e-motors aandryf.
Twee e-motors sit op die voorste as en twee agter. Mercedes-Benz het die leerraamonderstel spesiaal so ontwerp dat die vier motore naby elke wiel geplaas kan word. Dit bied die batterygedrewe G-klas derhalwe die nodige 4x4-aandrywing wat so nodig vir sy reputasie as enige-plek-ryer is.
In nog 'n tegniese nuutjie is die EV G-wagen se enkelrat-ratkas - wat alle EV's kenmerk - met 'n laestrek-rat toegerus. Dit stel hom in staat om in moeilike toestande of steil bulte met meer gemak te kan uitklouter.
Een nadeel van die huidige EV-tegnologie (litium-batterye) is hul massiewe gewig. In die "groen"-G-klas met sy groot 116 kWh-battery is dit nog meer akuut so. Die battery (in twee rye bo-op mekaar gestapel, waar dit op die leerraamonderstel onder die vloer lê) laat dié 4x4 die skaal op 'n ongelooflike 3,1 ton kreun.
Dit verduidelik dan ook die elektriese G-klas se matige reikafstand, ondanks daardie groot battery. Mercedes-Benz maak aanspraak op 470 km, wat 'n mens kan verwag in normale ry-toestande nader aan 400 km sal wees.
Ry jy in sy laestrek en in sanderige toestande of teen bulte uit, gaan jou reikafstand maklik gehalveer word weens daardie 3,1 ton dooie gewig wat gekarwei moet word.

Slim veldry-truuks
Daar is wel enkele voordele wat die nuwe e-tegnologie bied bo dit wat jy in die petrol- of dieselgedrewe G-klas sou aantref.
Dit het te doen met die gebrek aan ingewikkelde asse. Waar die binnebrand-modelle sluitewenaars voor en agter het en dus 'n kompromis moet maak as jy skerp wil draai, kan die batterymodel letterlik in sy spore draai. Dit nou danksy die vermoë om sekere wiele vas te hou met die remknypers en ander vorentoe en agtertoe te laat draai.
Natuurlik is hierdie funksie (Mercedes-Benz noem dit G Turn) net beskikbaar as jy op sand of gruis staan, waar die wiele hoogs beweegbaar is.
Die tweede nuttigheid hou daarmee verband, met Mercedes-Benz wat dit G Steering noem. Soos die naam suggereer, werk dit wanneer jy vorentoe beweeg en help dit jou om skerper te draai. Weer moet jy op gruis of sand ry, terwyl die blikbrein die binneste wiele vasknyp sodat die voertuig 'n skerper draaisirkel kan bewerkstellig.
Dis veral nuttig as jy in 4x4-toestande sê maar 'n skerp U-draai moet doen of skerp om 'n boom moet draai met klippe aan die buitekant wat 'n wye sirkel onmoontlik maak.

Steeds veldry-gedug
Die blikbrein beperk die topspoed tot 160 km/h, terwyl 'n muurboks by die huis wat tipies 11 kW sterk is, jou battery in tien uur sal herlaai. Die elektriese G-klas se battery kan ook by 200 kW hoëspoed-kragpunte herlaai word, met Mercedes-Benz wat sê om hom van 20% tot 80% te herlaai, kan jou teoreties 'n halfuur neem.
Die vier e-motore lewer tesame 432 kW krag en 'n massiewe 1 164 Nm wringkrag. Dit maak hom die kragtigste weergawe van die G-klas tot nog toe. Maar ook die swaarste. Versnelling geskied in 'n blitsige 4,7 sekondes, wat vergelykbaar is met die G63-petrolmodel (4.0-liter-V8, met twee turbo's) se 4,5 sekondes.
En as jy gewonder het oor sy praktiese nut in die veld, stel Mercedes-Benz se witjasse jou ook gerus met die syfers dat hy 'n waaddiepte van 85 cm het en dat die battery in 'n metaaljas toegemaak is wat hom teen stof, sand en water beskerm.
Daar is nog geen nuus of Suid-Afrika ook die elektriese G-Wagen gaan ontvang nie.




















