Motors

Gandini die Grote oorlede

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

"Met 'n motor moet jy emosie skep. Sonder emosie, is 'n motor eintlik nutteloos."

Marcello Gandini (85) is ver­lede week in Italië oorlede en daarmee saam die lewende geskiedenis van een van die motorbedryf se bekendste en gunstelingontwerpers tot nog toe.

Sekerlik een van Marcello Gandini se bekendste en gewildste ontwerpe was sy Lamborghini Miura, met sy opwip-hoofligte met hul "oogwimpers" bo en onder.
Sekerlik een van Marcello Gandini se bekendste en gewildste ontwerpe was sy Lamborghini Miura, met sy opwip-hoofligte met hul "oogwimpers" bo en onder.

Gandini was verantwoordelik vir ikoniese voertuie, soos die Lamborghini Countach en sy voorganger, die Miura. Maar ook meer alledaagse sportmotors, soos die pragtige Lancia Stratos en die Fiat X1/9, of gesinsmotors, soos Maserati se Quattroporte, die eerste BMW 5-reeks, Citroën se klein BX en die Renault 5 Turbo. En die eerste Volkswagen Polo.

Gandini is in 1938 in Turyn gebore. Sy pa was 'n klassieke musikant en het hom vroeg reeds by 'n skool vir klassieke musiek ingeskryf. Maar klavierlesse neem terwyl al sy vriende buite gespeel het, was nie iets waarvan hy gehou het nie.

Die eerste Volkswagen Polo van 1975 was ook 'n Gandini-skepping. Let op die strak, skoon lyne waarvoor hy so lief geword het.
Die eerste Volkswagen Polo van 1975 was ook 'n Gandini-skepping. Let op die strak, skoon lyne waarvoor hy so lief geword het.

Ná skool het hy sy merk gemaak toe hy in 1965 by die Ber­tone-stileerhuis aangesluit het. Dit was hier waar hy die Miura neergepen en sy eerste ontwerpe voortgevloei het.

In die laat 1970's en 1980's het die era van reguit lyne en wigvormige motors gevolg. Dit was straks die hoogtepunt van Gandini­ se ontwerploopbaan, want sy vandag klassieke Countach is in dié tyd gebore en beslaan al die tipiese kenmerke van dié gewilde styl: Plat, reguit lyne en 'n prominente wigvorm.

In die era van die wig-motor was Fiat se X1/9 nog 'n visuele treffer, met heelwat kenmerke wat aan die Lancia Stratos herinner het.
In die era van die wig-motor was Fiat se X1/9 nog 'n visuele treffer, met heelwat kenmerke wat aan die Lancia Stratos herinner het.

Vergelyk dan ook later se Polo en Quattroporte, en die Fiat X1/9, wie se profiele 'n sterk gemene ooreenkoms getoon het.

Vir Gandini was funksie en vorm 'n tandem-proses. Hy het altyd gesê 'n ontwerper moet ten eerste weet wat die doel van die motor gaan wees alvorens hy begin teken. Jy kon nie die ontwerp losmaak van die eindelike doel van die motor nie.

Hoewel die Countach vandag seker teen die meeste tieners se kamermure pryk, was dit die Miura van die 1960's wat as sy tegniese hoogtepunt beskou word. Gandini het gesê hulle wou 'n sportmotor hê wat eg in ontwerp moes wees, maar ook 'n sagte kant moes hê.

Nog 'n ontwerp van die 1970's was Alfa Romeo se Montreal, 'n groterige Grand Tourer met 'n rits interessante kenmerke, soos die luginlate agter en riffels by die hoofligte.
Nog 'n ontwerp van die 1970's was Alfa Romeo se Montreal, 'n groterige Grand Tourer met 'n rits interessante kenmerke, soos die luginlate agter en riffels by die hoofligte.

En dit het die Miura reggekry, met sy rondings en "ooghare" by die hoofligte, onder meer.

In die oorspronklike weergawe van die rolprent The Italian Job ry 'n oranje Miura deur die Italiaanse Alpe voordat dit in 'n tonnel in vlamme ontplof en deur die Mafia van die krans gestoot word. 'n Klassieke toneel vir 'n klassieke motor in sy pragtige, natuurlike omgewing.

Die motorlandskap het 'n grote verloor.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM