Toe die Prado byna 40 jaar gelede (in 1985) aanvanklik as kortas-weergawe van die bewese Land Cruiser J70 ontwikkel is, is dit as die "ligte diens"-variant van die 70-reeks beskou en sodanig bemark.
Wel, vyf geslagte later - strekkend van die J70, J90 en J120 tot by die J150 en nou die J250 (soos dit in sekere markte bekend staan) - is dié Land Cruiser allermins 'n "ligte diens"-model, soos ons eerstehands by die mediabekendstelling verlede week in Mosambiek uitgevind het.

Hierdie meer willewragtig-beeld vir die Prado is sommer met die eerste oogopslag duidelik, want vele elemente van sy hoekige retro-stilering slaan terug na sy J70-oorsprong. Tog is dit geheel in pas met die jongste ontwerpneigings in die mark vir sportnutse van mediumgrootte.
Eintlik is dit juis hierdie aspek wat aandag trek, want Toyota was nog nooit bekend om sy baanbreker-ontwerpe nie. Tog lei die nuwe Prado die stylrevolusie in sy segment - met ander, soos GWM (met sy Tank-produkte) en Defender (met die nuwe Octa), wat nou dieselfde rigting volg.
Ook, in pas met sy sterk en gespierde dog eenvoudige buite-ontwerp, steur die nuwe Prado hom nie aan al die frille, grille en foefies wat deesdae in vele van sy middelklas-mededingers te vinde is nie.
Soek jy 'n diskoteek van atmosfeer-beligting in die binneruim? Of 'n klankstelsel met sogenaamde meesleurende (die beste vertaling vir "immersive" wat ek kan vind) klankervaring? Of die grootste LED-inligtingskerm in die voertuig-heelal? 'n Spesiale deuntjie (wat naderhand irriterend kan raak) en lig-vertoning om jou te verwelkom? Of wat van 20-duim-plus laeprofiel-teerpadbande en 'n ingewikkelde lugveringstelsel?
Jammer, dan moet jy maar eerder na 'n Defender, 'n Tank of 'n sagtevel-sportnuts soos 'n BMW X3/5 of 'n Mercedes-Benz GLB/E-model gaan kyk. Want hierdie soort fieterjasies is (dankie tog) nie in die jongste plaaslike Prado-modelle beskikbaar nie. En tereg so, want hierdie Land Cruiser het nog altyd sulke (meestal onpraktiese) oorbodighede vermy.

Wat bied hy als?
Standaard beskikbaar in al die modelle is permanente vierwielaandrywing, 'n aangepaste weergawe van Toyota se bewese 2.8-liter-turbodieselenjin, nou gekoppel aan 'n nuwe outomatiese agtgangratkas, parkeersensors, leersitplekke met laerug-steun, dubbelsone-klimaatbeheer, C-tipe USB-sokke, 'n selfstop-stelsel, blindekol-monitering, 'n elektries beheerde agterdeur en 18 duim allooiwiele met normale-profiel-veelterreinbande.
Wat interessant is, is die vooraansig-verskille tussen die drie modelle wat aanvanklik plaaslik beskikbaar is, met die First Edition (met soortgelyke spesifikasies as die vlagskip-VX-R-model), wat deur klassieke ronde hoofligte, eksklusiewe mono- en tweekleurige sandkleur-bakverf en First Edition-kentekens van die normale VX-R- en TX-modelle onderskei word.
Eintlik was die idee om die First Edition voor die ander weergawes bekend te stel, maar in die praktyk het dit toe nie so uitgewerk nie.
Die slegte nuus is dat die hele besending First Edition-modelle reeds uitverkoop is.
Tog meen ek daar gaan 'n stormloop van kopers wees wat die ronde hoofligte van dié model op hul normale VX-R'e wil hê (dis nie aanpasbaar vir die TX nie).
Bygesê, die dun, individuele drie-oog-rangskikking van die ligdiodes op die VX-R en 'n eenvoudiger weergawe op die TX (met misligte in die bufferhoeke versteek om skade te voorkom) is ook aantreklik en vele kopers sal dit verkies.

Lekker spoggerig binne
Net so is die nuwe Prado ook binne vernuwe, en die ontwerp van die instrumentpaneel, met eenvoudige lyne en 'n sterk horisontale uitleg, is myns insiens van die aantreklikste in sy klas. Die multimediaskerm en saamgestelde instrumentpaneel is hoog geplaas vir maklike sigbaarheid en het 'n wye konsole - 'n Land Cruiser-eienskap - met die kontroles vir die bestuurder saamgegroepeer.
Die multimediastelsel het 'n hoëdefinisie-raakskerm, maar in teenstelling met die norm word alle funksies deur eenvoudige skakel- of drukknoppe beheer, met 'n kombinasie van 'n draaiknop en 'n drukskakelaar om die ritmodusse te selekteer. Ook die nuwe stuurwielontwerp eggo die nuwe Prado se bonkige buitestilering.
Tog, selfs al is die nuwe model - met 'n lengte van 4,9 m (met die spaarwiel nou onder die laairuim agter) - effens groter as sy voorganger, voel dit knusser binne, maar heelwat moderner, met uitmuntende afwerkingsgehalte.
Soos voorheen is die heel agterste sitplekke in die sewesitplek-ryding maar aan die knap kant en vir langer ritte beslis net geskik vir kinders.
Nog 'n praktiese aspek is dat die agterste glasluik onafhanklik kan oopmaak vir makliker toegang tot die laairuim.
Wat toerusting betref, is die intreevlak-TX omvattend toegerus met onder meer geventileerde voorste sitplekke met sitplekverwarmers, Android Auto en Apple CarPlay (met kabels), outomatiese hooflig-gelykstelling en 'n klankstelsel met ses luidsprekers.
Die VX-R kry 'n digitale truspieël, 'n groot inligtingskerm, vyf ritmodusse, (teenoor drie in die TX), stabiliseerder-ontkoppelmeganisme, elektries opvoubare agtersitplekke, geprojekteerde ruitinligting, 'n verkoelde middelkonsole, verhitte stuurwiel, 'n fris klankstelsel en elektries beheerde sondak by.
MacGyver in die veld
Nou ja, met die nuwe Prado wat nou al geruime tyd by Toyota-handelaars beskikbaar is, is daar geen punt aan 'n lang tegniese verduideliking nie. Belangrik om te weet, is dat die nuweling met dieselfde turbodiesel-kragbron as die Hilux en die Fortuner toegerus is, met 150 kW en 500 Nm wringkrag beskikbaar - genoeg om 'n vrag van 3,5 ton te sleep.
In die Prado is die enjin egter aan 'n nuwe outomatiese agtgangratkas met wringomsetter gekoppel, en hierdie ratkas met sy nouer verhoudings en seepgladde skakelings maak 'n groot verskil wat rybaarheid betref, synde dit verseker dat die enjintoere heeltyd in die optimale wringkragstrek bly.
Dit het gesorg dat ons rit van Maputo na Ponta Malongane in Mosambiek uiters gerieflik was, maar op die sandpaaie in hier-die omgewing en in veldrytoestande - veral teen laer enjintoere en in laestrektoestande (met 'n verbeterde laestrekratkas) - het die ratkas nog meer tot sy reg gekom.
Die ander groot verskil teenoor sy voorganger is die elektriese kragstuur (die nuweling is die eerste Land Cruiser-model met dié stelsel) wat vir 'n meer direkte en sekure stuurgevoel met minder terugslag sorg, op en van die pad af. Die stelsel bespaar ook energie, synde die elektriese krag net inskop wanneer dit nodig is.
'n Nuwe elektronies beheerde remstelsel, tesame met groter skyfremme, verbeter die nuwe Prado se remgevoel en in 'n kort duinry-sessie kon ons ook die jongste afdraandebeheerstelsel, wat in H4 en L4 as 'n spoedbeheerfunksie tussen 4 km/h en 30 km/h gebruik kan word, toets.
In hierdie toestande was die verbeterde wringstewigheid van die GA-F-platform duidelik voelbaar, en tesame met die ritmodusse wat die stuur, dryfkrag en hidrouliese rembeheer volgens die terrein aanpas en die wyehoek-kamerabeelde van wat om die voertuig aangaan, kon ons ook die Prado se nuwe kruipbeheerfunksie ervaar.
Met dié funksie geaktiveer, is dit moontlik om 'n Prado wat behoorlik in die sand vassit, uit sy sandgraf te wikkel. Tog moet 'n mens geduldig wees, want die stelsel werk op sy eie tyd.
Ons het egter nie die Prado se ander nuwigheid - 'n ontkoppelingsmeganisme vir die voorste teenrolstaaf, wat die veringbeweging vergroot - beproef nie. Daar was egter nie werklik 'n nodigheid daarvoor nie.
O, en vir diegene wat 'n unieke verwelkomings- of tot weersiens-klingel soek, die nuwe Prado uiter 'n interessante "prrt"- klank deur die uitlaatpyp - soos 'n perd met konstipasie - wanneer dit afgeskakel word of wanneer dit skielik teen lae toere loop. Wat die rede daarvoor is, kon ons nog nie vasstel nie.
Afsaal
Als in ag genome, is die nuwe Prado, hetsy met TX of VX-R-afwerking, 'n indrukwekkende ryding. Dit bring 'n nuwe dimensie aan die kenmerke eie aan Land Cruiser en neem dit na 'n hoër vlak. Laasgenoemde, asook mededingende pryse, behoort dié reeks selfs gewilder as sy voorganger(s) te maak, soos plaaslike verkope reeds bewys.





















