Ek het hierdie 2013-model Dodge Ram 1500 Laramie in die middel van laasjaar gekoop, en kom ek vertel jou 'n ding: Dit is die volmaakte sleepvoertuig. Ek het hom by 'n maatskappy genaamd US Trucks in Richardsbaai gekry, en hulle doen alles vir jou: Hulle omskep hom in 'n regterhandstuur, registreer hom én bied naverkoopdiens en onderdele.
Die Laramie-spesifikasie beteken hy het heelwat katoeters en luukshede, soos die UConnect-stelsel waarmee jy inlig- ting en vermaak op 'n raakskerm kry. Hy het ook vollengte gordynlugsakke, wegtrekhulp teen 'n heuwel, en 'n sensor in die elektriese vensters wat weet as daar 'n arm in die pad is en dan die venster laat sak. Nodeloos om te sê is hier meer as genoeg ruime binne-in. Ek sleep nou al 'n hele klompie maande met hom en alles wat ek al aan hom bygevoeg het, draf sonder moeite saam. Hy spog met die maatskappy se beroemde 5,7 l-HEMI-V8 onder die enjinkap.
Dié meneer sorg vir 'n massiewe 295 kW krag en 552 Nm wringkrag. Dis kinderspeletjies om my nuwe Jurgens Exclusive, my 24 voet-Sensation-boot of my Cobra Cat 625-diepseeboot te sleep. Ek gebruik altyd spoedbeheer wanneer ek sleep.
Die Ram is só swaar jy voel dit skaars wanneer jy sleep, maar miskien het sy veiligheidstoerusting - soos swaaibeheer, vastrapbeheer en stabiliteitsbeheer - iets daarmee uit te waai. Met sy kragtige V8-petrolenjin moet 'n mens seker nie nederige brandstofverbruik verwag nie. Die Ram is dors en sluk 16-20 l/100 km. Daarom het ek hom met 'n bykomende 150 l-petroltenk toegerus sodat ek 'n bietjie verder kan ry.
Een van my gunstelingdinge omtrent die Ram is die feit dat die wielvellings heel toevallig soortgelyk is aan my Jurgens s'n. Hulle komplementeer mekaar nogal mooi.
Het jy iewers 'n seldsame sleepsel of ryding gesien?
Vertel ons daarvan en stuur vir ons 'n foto na rysleep@weg.co.za of Weg Ry & Sleep, Posbus 740, Kaapstad 8000.















