Dit het vier jaar se beplanning geverg, maar Honda Suid-Afrika het eindelik die model - sy nuwe Elevate - in sy arsenaal waarmee hy weer goeie volume-verkope kan najaag.
Die groep het 'n jaar of drie gelede gehoop sy klein WR-V - basies 'n omgekrapte Honda Fit op stelte - sal die knoop kan deurhak. Veral noudat die res van sy portefeulje sportnutse so duur raak. Trouens, net verlede week het die Japanse vervaardiger stil-stil die nuwe CR-V bekend gestel, met 'n miljoenrandprys, nogal.
Dis nie die segment waarin Honda goeie verkope gaan bereik nie, maar die nuwe Elevate mag straks net die saki wees wat Suid-Afrikaners se voete na Honda-verkoopsvloere kan laat wikkel.
Reg vir ons mark
Die Elevate is 'n projek waaraan Honda Japan vier jaar werk: 'n Bekostigbare sportnutsie wat hy in Suidoos-Asië en Afrika kan bemark.
Die Elevate is in oorleg met Honda se Indiese fabriek ontwerp en word ook daar gebou.
Die klein nuts se voorkoms en grootte herinner sterk aan ander Indiese rygoed waarmee ons reeds vertroud is, soos die Suzuki Grand Vitara en Toyota Urban Cruiser.
Met pryse wat strek tussen die belangrike grense van sowat R370 000 tot R460 000 mik die Elevate sekuur na die hart van die Suid-Afrikaanse kopersmark.
Dit is geen wonder dat die Urban Cruiser en diesulkes so goed verkoop nie. Almal bied die kombinasie van 'n ruim kajuit, 'n geligte bakwerk, 'n sportnuts-voorkoms en, baie belangrik, 'n sakpas prys om die R400 000-kerf.
Daar is voorlopig net twee modelle ons mark bestem, die Comfort en die Elegance, en albei benut dieselfde 1.5-liter-petrolenjin wat 89 kW en 145 Nm wringkrag na die voorwiele stuur.
Die Comfort dien as intreemodel met 'n basiese afwerkingsvlak, en is slegs met 'n sesgang-handratkas te kry. Die duurder Elegance het meer weeldes en toerusting, en kom met 'n CVT-tipe outomatiese ratkas.
Die Comfort is die intreemodel, maar hy is steeds goed toegerus.
Jy kry byvoorbeeld elektriese vensters en leerbekleedsel, 'n koordlose herlaaivakkie vir jou slimfoon, 'n kleurraakskerm wat koordloos met jou slimfoon verbind, en 'n trukamera.
Daar is ook ses lugsakke, LED-hoofligte, lugversorging en sleutellose toegang - als geriefsitems wat nie te versmaai is nie.
Die duurder Elegance bied groter 17-duim-sierwiele, outomatiese hoofligte, 'n sondak en 'n selfsluit-funksie as jy uitklim.

Stil kajuit
Honda het baie moeite gedoen met klankdemping.
Op ons kort toetsrit was dit opvallend hoe stil die kajuit is.
Daar is min bandgeraas te hoor, maar die CVT-ratkas se hoë gedreun as jy versnel was wel skerp te hoor.
Die vervaardiger het onder meer matmateriaal by die enjinruim en wielboë geplaas, asook sponsmateriaal binne die deure, om 'n stiller rit te help bied.
Honda maak aanspraak op verbruik van 6,7 liter vir die handrat en 6,1 liter vir die outomaties. Die rit en hantering was heel gemaklik, hoewel die CVT-ratkas eers 'n goeie maats-maak-sessie verg om sy ideale ritpatrone te verstaan. Trap jy die versneller diep skiet die toere op en dreun die enjin, maar min aksie gebeur. Versnel jy egalig is daar matige vordering met 'n aangenamer (stiller) kajuit.
Benewens die lekker praktiese geriewe van die sleutellose toegang en aansitknop, asook die tru-kamera en outomatiese hoofligte, was ander items wat 'n kopknik gekry het die goeie beenruimte voor en agter. Die laaibak sal ook 'n gesin van vier se bagasie met gemak kan sluk.
Afsaal
Ons reken Honda het eindelik die model in sy portefeulje gekry waarmee hy sy groter mededingers soos Hyundai, Mazda, Toyota en Suzuki kan aanvat.
Die nuwe Elevate is 'n sakpas, kompakte sportnuts wat 'n lekker ruim, eenvoudige ryding vir die middelklas-gesin bied. Die stilering lyk vars en modern, en die toerustinglysie is lank.
Nou moet Honda hom net die nodige bemarkingsrugsteun gee wat hy verdien, dan sal die voete na die handelaars stroom.
- Pryse:
Elevate Comfort - R369 900;
Elevat Elegance - R429 900.















