Motors

Klein Mahindra sit China ore aan

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Mahindra se kompakte nuts, die 3X0, het mooi lyne en ’n lewendige 1.2-liter-turbo. Foto: Marnus Hattingh
Mahindra se kompakte nuts, die 3X0, het mooi lyne en ’n lewendige 1.2-liter-turbo. Foto: Marnus Hattingh

Vir 'n vinnige wegbreek-naweek na die Suid-Kaap het ons keuse op iets ongewoons geval: Mahindra se nuwe XUV 3X0, 'n model wat eintlik bekender is as wat sy afkorting-besaaide naam suggereer.

Die 3X0 is inderdaad die op­geknapte weergawe van die XUV 300, 'n kompakte sportnuts (net onder 4 m lank) wat al 'n wyle op ons mark is. Dis egter 'n besige segment in die mark, dié vir kompakte sportnutse met 'n lae prys, sodat hierdie opknapping 'n belangrike rol speel om die klein Mahindra 'n voorsprong bo die rits ander mededingers te bied.

Onthou, die ganse Suid-Afrika koop vandag 'n klein sportnuts by sowat die R350 000-pryskerf, so die mededinging is fel. Dink maar aan die Nissan Magnite en die Renault Kiger, die Chery Tiggo4 (wat seker die gewildste tans in die land is) en die twee Koreane, die Hyundai Creta en die Kia Seltos.

Mahindra het dit reggekry om sy 3X0 tussen die belangrike grense van sowat R250 000 tot R420 000 in die land in te bring en daarom gaan hy 'n belangrike rolspeler hier wees.

Gooi kole

Wat bied die klein Indiër als?

Eerstens, die ou XUV 300 se platform is oorgedra, maar die vering, voorkoms en kajuit is opgeknap en gemoderniseer.

Standaarditems in die topmodel (wat ons gery het) sluit in 'n sondak, volgafstandbeheer, trukamera, 'n terugdu-funksie en blindekolgonsers en 'n banddrukmonitor. Dit nou tesame met die gewone items soos elektriese vensters, sleutellose toegang en aansitknop, kleur-raakskerm, koordlose herlaaivakkie vir jou slimfoon en outomatiese hoofligte.

Benewens dié lang lys standaardtoerusting vir 'n sakpas voertuig, bied die Mahindra-nuts ook 'n lewendige 1.2-liter-petrolturbo. Benewens die Chinese, wat almal 'n 1.5-liter-turbo het (met hoë verbruiksyfers), is die 3X0 die frisste van die klompie teen wie hy meeding. Die ander (soos die Suzuki Fronx en Toyota Urban Cruiser) het natuurlik-geaspireerde enjins of 1.0-liter-turbo's.

Ek het gehou van die Mahindra se sportiewe voorkoms. Die toetsmodel was in 'n pragtige, omkykwaardige goue kleur getooi. In die kajuit is die afwerking netjies. Maar hier en daar het daar wel 'n paar jakkalsies ingesluip. Die knoppies op die stuurwiel waarmee jy die ritrekenaar moet beheer, werk byvoorbeeld stram en is baie oudmodies. Dit verg onder meer 14(!) klikke van die een pennetjie om die terugdu-funksie te deaktiveer. Dis absurd en omslagtig (die funksie is elke keer by verstek aangeskakel wanneer jy die voertuig aansit). 'n Ander lastigheid was die gonser wat kort-kort sou raas dat jy die sondak moet toemaak, want jy ry vinniger as 100 km/h. Die turbo-enjin is wel lewendig. Daar is nie te veel enjingeraas nie en die versnelling en ratskakeling geskied als seepglad en sonder 'n geruk.

'n Vreemdheid was wel dat die blikbrein se verbruik-eenhede in km/liter is - 'n stelsel wat niemand gebruik nie (die normale stelsel is liter/100 km). 'n Mens kan dit ook nie aanpas of omswaai nie.

Afsaal

In die geheel was die klein Mahindra 'n aangename knaap om mee te ry. Die verbruik was billik (6,5 liter) en dit was eers bokant 100 km/h dat die klein enjin gestoei het om momentum op te bou as jy wou verbysteek. Vir die stad behoort hy reg te wees.

Ons sou hom bo een van die talle klein Chinese nutse kies.

Die Mahindra is fluks
Die Mahindra is fluks

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM