Een van die onbesonge helde van die afgelope Dakar-uithouren moet sekerlik die BRX-motor wees waarmee Sébastien Loeb gejaag het.
Die Fransman moes weliswaar eindelik met "net" die derde plek tevrede wees. Dit nou nadat hy die wêreld baie warm vir die eindelike wenner, Carlos Sainz (Audi), gemaak het. 'n Gebreekte stuk vering by die een voorwiel knap voor die einde van die ren het egter dié drome in die woestynsand laat wegsyfer.

Tog het die voormalige tydren-maestro gewys hoe vaardig hy agter die stuur is.
Die punt wat almal egter misgekyk het, was dat sy voertuig met biobrandstof aangedryf is.
ProDrive, wat die BRX Hunter bou, sê die brandstof is 'n mengsel van bio-brandstof en e-petrol.
Die bio-brandstof word van plantreste gemaak wat uit landboubedrywighede verkry word. Die e-petrol op sy beurt is 'n laboratorium-konkoksie. Die twee brandstowwe word gemeng, en die resultaat is 'n petrol wat geen meganiese aanpassing by die enjin verg om gebruik te kan word nie. Boonop is dit 80% skoner as gewone enjins wat uitlaatgasse betref.
Nou ja, 80% is nog nie 100% nie. Maar dis 'n baie groot tree soontoe.
Die ironie is dat die Dakar-organiseerders die afgelope twee jaar 'n spesiale projek van stapel gestuur het waar ren-voertuie met verskillende soorte aandryfstelsels getoets word. Dis nou EV's, waterstof-motors en enigiets wat hiermee verband hou.
- Is die antwoord nie om biobrandstof verder te ontwikkel nie as om litium te myn, en steenkoolkragstasies te benut nie?
Padsterftes in perspektief
Oor 'n week of wat, met die einde van Januarie in sig, gaan die verkeersowerhede hul jaarlikse verslae uitreik oor die land se padsterftesyfers vir die pasafgelope vakansieseisoen.
Dit gaan lelik wees. Motoriste raak al hoe meer roekeloos en wetteloos, en wetstoepassing al hoe minder sigbaar en effektief.
Knormoer vra wel dat ons almal 'n tikkie perspektief behou.
Met sowat 16 000 padsterftes per jaar, gaan 'n verwagte syfer van 1 500 sterftes nie werklik uit die pas wees met die maandelikse gemiddelde (1 300) nie.
Ons het dus 'n massiewe toename in verkeer oor Kersfees, maar ons het ook bewusmakingsprogramme, en verhoogde sigbare polisiëring.
Ons jaarsyfer is hemelhoog. Mense ry in die algemeen bloot net swak.
Tweedens, 40% van daardie padsterftesyfer is voetgangers.
Dink mooi hieraan. Dis nie insittendes nie. Dis mense wat langs die pad loop, of oorsteek.
Daar is politieke wil nodig om die padsterftesyfer af te bring.
- Maar Knormoer vermoed die realiteite is, nes met Eskom, polities te sensitief om werklik daardie projekte aan te pak wat 'n mens weet 'n impak op die syfer sou maak.
'n Gekonkel met die kode?
Knormoer het 'n voëltjie hoor fluit daar is 'n liederlike ding aan't gebeur wat die opleiding van nuwe bestuurders betref.
Pleks van om opleiding vir 'n kode 8-lisensie te kry, vra al hoe meer aansoekers nou om vir 'n kode 10-lisensie opgelei te word.
Die kode 10 is vir bestuurders van ligte vragmotors bedoel. Die werftoets - parkering meestal - is glo veel makliker as wat jy met 'n kode 8 moet kan baasraak. En as jy en die beampte op die pad gaan ry, kruie jy maar net teen 60 km/h aan. Maklik.
'n Swart instrukteur met sy eie bestuurskool sê vir Knormoer dis veral jong, swart vroue wat dié roete volg - soveel as 60% van al sy studente. Die resultaat is bestuurders wat nie na behore kan bestuur in verkeer en teen snelwegsnelhede nie.
As dit 'n landswye tendens is, sit ons op 'n tydbom. Mense leer taxi's se padgedrag is die norm.
- Baie ongelukke gebeur weens onkunde oor die gevolge van jou handelinge.




















