As jy nog altyd jou oog op 'n BMW M3 gehad het, maar dit net nie heeltemal kon bybring nie, is daar 'n alternatief waarmee jy heelwat geld sal spaar, maar nie te veel toegewings hoef te doen nie.
BMW se M340i xDrive is die topmodel in sy 3-reeks en die laaste model in die tou voordat jy die sprong na die M3 doen.

Hoewel sportnutse toenemend oorneem, verkoop die Duitsers se premium-sedans steeds in genoeg getalle om hul bestaan te regverdig. Net so is daar steeds 'n plek vir die sportsedan onder diegene wat die beter en ratser hantering van dié soort rygoed waardeer wat jy nie sommer van 'n sportnuts sal kry nie.
Kan die M340i die pyp rook as 'n blitswa of moet jy maar eerder verder spaar vir 'n M3?
Wintiewa met styl
Die 3-reeks is redelik onlangs opgeknap, wat 'n paar subtiele veranderinge aan die buitekant insluit, asook meer opmerklike verbeteringe aan die binnekant.
In sy standaardvorm het die 3-reeks reeds 'n sportiewe ontwerp, maar die M340i kry 'n paar ekstra ontwerpelemente by om sy status as M-voertuig te beklemtoon. Dit sluit 'n rooster met 'n maasontwerp, groter byekorf-luginlate by die buffer, asook sportiewe, glansswart kantspieëls soortgelyk aan dié van die M3, in.
Die agterkant word met 'n subtiele swart drukvlerk en groter openings vir die uitlaatpype afgerond, terwyl die buffer ook 'n aggressiewer ontwerp het met 'n lugspreier wat in glansswart afgewerk is.
Die M340i handhaaf 'n fyn balans tussen styl en 'n sportiewe houding; sonder die potensiële aanstoot van die M3 se regaf rooster.
Die 3-reeks het die meeste baat gevind by die veranderinge wat binne aangebring is. Die instrumentpaneel het 'n gedaanteverwisseling ondergaan in die vorm van 'n langwerpige, geboogde paneel waarin die digitale instrumentasie en mediaskerm geakkommodeer word en wat deur BMW se jongste iDrive 8-bedryfstelsel gedryf word. Die stelsel werk flink met 'n helder hoëresolusiebeeld met netjiese grafika, terwyl die talle funksies en opsielyste op 'n redelik intuïtiewe manier aangebied word.
Ongelukkig is die fisieke skakelaars vir die lugversorging verwyder en moet die verstellings nou op die raakskerm gedoen word. Die basiese verstellings word wel permanent op die skerm vertoon en is maklik binne bereik. Nog 'n weglating waaroor sommige sal brom, is die ratkierie wat nou deur 'n klein skakelaar vervang is. 'n Jammerte vir diegene wat daarvan hou om die ratte self te verwissel. Sou jy wou, is daar darem ratspane agter die stuurwiel vir dié doel.
Ons is wel bly dat die draaiknop en skakelaars vir die iDrive-stelsel in die middelkonsole behoue gebly het vir verstellings sonder dat die raakskerm vol vingermerke word.
Die voorsportsitplekke het verskeie elektriese verstellings en sit nie net gerieflik nie, maar lyk ook treffend met blou stikwerk wat 'n netjiese detail is.
Die afwerking en gehalte binne is eersteklas en die standaardtoerusting omvangryk sonder veel ekstras wat jy op die opsielys hoef af te merk. Dit sluit in ruitvertoon, driesone-klimaatbeheer, herlaaivakkie vir jou selfoon, 'n 3D- panoramiese kamerastelsel en 'n lang lys veiligheidstoerusting en bestuurshulpmiddels.
Die M340i bied in die algemeen voldoende ruimte binne en die bagasieruim van 430 liter sal jou naweekbagasie met gemak sluk.
Gee vet en klou vas
BMW het sy reguitses-drieliterpetrolenjin met twee turbo's (285 kW en 500 Nm) in die M340i se neus geprop, gekoppel aan 'n agtgang- outomatiese ratkas. Dié enjin word wyd as een van die beste sessilinders in die bedryf geag en ook onder meer in die Toyota Supra gebruik. Die enjin span ook ligte-hibried-tegnologie in wat 'n bietjie ekstra skop gee by versnelling en help met brandstofverbruik. BMW vermeld 'n 0 km/h-100 km/h-versnellopie van 4,3 sekondes; dis nie veel stadiger as die M3 se 3,5 sekondes nie.
As jy hom in sport-modus sit en die lepel trap, versnel die M340i of sy stert met terpentyn gesmeer is, terwyl die enjin se sportiewe klankbaan tot die sensasie bydra.
Gelukkig byt die remme styf en wanneer jou greep op die stuurwiel verslap en jou ingewande weer na hul normale posisie teruggekeer het, kan jy hom na Comfort oorskakel vir 'n rustige en gerieflike rit huis toe.
Dis daardie naatlose gemak waarmee hy albei baadjies dra wat hom so aantreklik maak.
Die M340i dryf met sy xDrive-stelsel deur al vier wiele, met die meeste krag wat onder normale omstandighede na die agterwiele gestuur word. Voeg daarby 'n stuur wat gewigtig genoeg teen hoër snelhede is, en jy kan die M340i veilig om draaie looi sonder dat jou pret bederf word.
Die ritgehalte is aan die ferm kant, maar nie ongemaklik nie, hoewel dit in die sport-verstelling op slegter paaie wel redelik stamperig kan raak. As jy sy verrigting in ag neem, was ons gemiddelde brandstofverbruik van 10,4 liter/100 km glad nie sleg nie.
Slotsom
Jy kan 'n bul van 'n enjin in 'n sportnuts prop en skrikwekkende versnelling ervaar, maar die hantering ly onder 'n hoë profiel en swaar gewig.
Dít terwyl daar min dinge is wat die sportiewe karakter van 'n goeie sportsedan kan klop en dan is hy boonop prakties ook.
En onder die sportsedans is BMW se M340i een van die beste wat ook as alledaagse vervoermiddel uitblink.
Hy is nie 'n M3 nie, maar hy kom deksels naby en as sy prys jou afskrik, gaan kyk wat kos die "ware Jakob".
) Prys: BMW M340i xDrive - R1 363 206.














