Ek het deur die April 2019-uitgawe geblaai toe ek Peter en Sandy Schuurmans se klein waentjie sien. Toe besluit ek om die storie van my eie kampbusse met julle te deel.
Hy is 30 jaar gelede deur Natal Awnings as 'n boumodel verkoop en dit was ook die tyd dat ek my dae as renjaer gegroet en 'n belangstelling in die natuur en buitelewe ontwikkel het.
Ek het jare lank vir die departement van verdediging gewerk en het omvattende tegniese kennis; dus het ek geweet ek sou 'n bouprojek soos dié kan baasraak. Ek het die onderstel en ratkas van 'n vriend se Volkswagen Kombi T2 gekoop en dadelik my boumodel by 'n man met die naam Roy bestel. Hy was destyds mede-eienaar van Natal Awnings en die man wat ek op die buiteleweskou ontmoet het. Myne is die sewende een wat hulle gebou het.
Ons het die Kombi se bakwerk met 'n hoekslyper en blaaslamp van die onderstel verwyder. Ons het 'n Toyota HiAce se stuurkolom gebruik en 'n Corolla se voorsitplekke. Die sitplekke het vir 'n gemakliker rit gesorg, want in daardie ou Kombi's het dit soms gevoel of jy 'n vragmotor bestuur. Ons het die kampbussie met 'n 2 l-enjin uit 'n Alfa Romeo Berlina toegerus, maar met nuwe onderdele - soos nokaste, suiers en die silinderkop - warmgemaak. Ons het die enjin 'n klompie jare later aangepas om met loodvrye brandstof te werk.

Ons het baie met die binneruim geëksperimenteer en destyds al 'n dubbelbatterystelsel aangebring. Ons het ook 'n dubbelbed gehad wat jy met houtpanele gebou het en dan 'n matras oorgesit het.
Ek en my vrou, Lorraine, het baie interessante plekke besoek en wonderlike goed beleef, maar ná 'n besoek aan Botswana, waar ons ámper in sagte sand vasgeval het, het ek besluit dis tyd om vir my 'n Land Rover Discovery 300 Tdi aan te skaf. Ons het hom ook met 'n daktent toegerus.
My susterskind Dara gebruik nou die kampbussie. Ons is nie meer vandag se kinders nie, en weens rugprobleme kan ek nie meer die daktent gebruik nie. Ons kamp nou met ons Gypsey Romany wat ons met 'n 2015-model Ford Ranger 2.2 TDCI 4x4 sleep.
Dit het 'n handratkas, want my vrou hou nie van outomatiese karre nie. Ons kamp ook soms in tente, maar is nou lus vir 'n klein woonwa wat opgewasse is vir die paaie hier en in ons buurlande. Ons geniet dit om wildreservate te besoek. Gelukkig is hier 'n hele klomp keuses plaaslik en in lande soos Namibië en Botswana
Laat ons weet...
Het jy iewers in jou omswerwinge 'n seldsame sleepsel of ryding gesien? Vertel ons daarvan en stuur vir ons 'n foto na rysleep@weg.co.za
*Hierdie artikel het oorspronklik in WegRy & Sleep#25 (Augustus 2019) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het - stuur 'n e-pos na digitaal@weg.co.zaas jy so iets raaksien.












