Dit het soos net nog 'n ren in verlede jaar se seisoen gevoel toe Max Verstappen Saterdag in die Bahreinse Grand Prix van begin tot end in sy Red Bull voor gejaag het om vanjaar se seisoen op 'n emfatiese wyse te wen.
Sergio Pérez, sy spanmaat, het hom in die tweede plek oor die wenstreep gevolg, terwyl Ferrari die "wenner" van die tweede-beste-span-trofee was toe Carlos Sainz in die derde plek, voor enige Mercedes of McLaren, oor die wenstreep kon jaag.
Die statistici is goed besig gehou, want Verstappen se segetog wat hy moeiteloos ná die afloop van die vorige seisoen net so voortgesit het, het die wenkbroue laat lig.

Eers het die Vlieënde Hollander die voorste wegspringplek verower, toe die vinnigste rondtetyd opgestel en daarna die ren op 'n drafstap gewen. Trouens, so gemaklik was sy voorsprong dat hy dikwels gedurende die ren 'n halwe baanlengte voor die naaste motor agter hom was.
Verstappen het die voortou reeds by die eerste draai geneem en is nooit weer uitgedaag of verbygesteek nie.
Die 26-jarige jaer is op soek na sy vierde agtereenvolgende kampioenskapstitel.
Die lae temperature in die woestyn het talle jaers onverhoeds betrap. Charles Leclerc, Ferrari-spanmaat van Sainz, het heelwat probleme met sy rembalans ervaar, terwyl Lewis Hamilton ook soms te diep in 'n draai ingejaag het.
Die meeste jaers het vroeg na die kuipe teruggekeer om hul sagte bande vir die harde weergawe te verruil.
Met Red Bull se motors klaarblyklik weer loshande strate beter as die res van die veld s'n, blyk dit vanjaar gaan weer 'n stryd wees om die tweede en die derde plek op die rooster.
Ferrari het goed gelyk, maar Mercedes was aan die ontvangkant van jaersfoute eerder as 'n stadige motor.
McLaren se Lando Norris en Oscar Piastri het ook haastig gelyk, maar kon nie die Ferrari's agter hulle hou in belangrike oomblikke nie.
- Net so het Fernando Alonso ook vroeg reeds tevrede gelyk met sy negende plek, wat hy enduit behou het. Die volgende ren is die Saoedi-Arabiese Grand Prix in Djedda wat weer op 'n Saterdag (9 Maart) beslis word. Volg die aksie regstreeks vanaf 19:00 op SuperSport 215.





















