Mazda-aanhangers het binnekort iets sappigs om na uit te sien in die gedaante van 'n deftige sportnuts toegerus met een van die kragtigste enjins in sy segment.
Die Japanse vervaardiger bring sy CX-60 3.3 DE Takumi in Maart na Suid-Afrika, met 'n prys wat net bokant die R1 miljoen-kerf gaan draai.
Die CX-60 het verlede jaar sy buiging in Suid-Afrika gemaak as die effens groter opvolger vir die gewilde CX-5. Die CX-5 was jare lank 'n staatmaker in die Mazda-stal, maar sy ouderdom, veral in sy kajuit, het die laaste paar jaar begin wys.
Die groep van Hirosjima is wel besig om sy portefeulje heeltemal te vernuwe, eerstens met die CX-30, wat in die pandemie sy buiging by ons kom maak het.
Die nuwe modelle ry op nuwe, groter platforms wat meer ruimte skep, maar kry ook opknappings wat enjins betref.
In die CX-60-reeks het ons tot dusver weliswaar nog nie daardie voordeel gesmaak nie: Daar was net twee modelle en albei is met 'n flou 2.5-liter-viersilinder opgesaal wat 'n so-so 141 kW en 261 Nm wringkrag losdraai.
Ons vermoed Mazda SA het besluit om hierdie natuurlik geaspireerde enjin na ons mark te bring bloot omdat dit die goedkoopste opsie beskikbaar is. Met die pap rand is dit bitter moeilik om ingevoerde voertuie mededingend hier te posisioneer. Die swak rand jaag hul koste buitensporig op na buite die teikenmark - die middelklas - se bereik.
Daarom kry ons nou die topmodel in die reeks, die Takumi met Mazda se nuwe 3.3-liter-turbodiesel. Teen 'n prys van R1 049 200 kan Mazda hom hier met vertroue aanbied, want hy bied alles behalwe 'n swembad in die bagasiebak.

Mazda vat voor
Maar kom ons praat eers oor daardie opwindende aandryfstelsel.
Dis nou wel nie die eerste keer dat Mazda 'n turbodiesel hier by ons aanbied nie, daarvoor was daar 'n dekade gelede 'n 2.2-liter met vier silinders in die CX-5 hier te kry.
Maar dis wel die eerste keer dat ons so 'n groot diesel ontvang. Die enjin het 'n inlyn-sessilinder-uitleg, wat 'n stukkie uniekheid is teenoor die tradisionele keuse by vervaardigers om V6-diesels aan te bied.
Die diesel bied 'n lekker stewige 187 kW en 550 Nm wringkrag, wat herinner aan die Porsche Cayenne se 3.0-liter-diesel, wat soortgelyke kragsyfers gelewer het.
Maar laastens het die Mazda nog 'n verrassing om te bied: 'n klein battery en e-motor op die vooras.
In motorterme noem ons dit 'n ligte hibried, want die piepklein litiumioon-battery van net 0,33 kWh is skaars fris genoeg om hom aan die rol te kry wanneer jy wegtrek. Vervaardigers praat dus eerder van 'n 48V-stelsel wat by die enjin geïntegreer is, met die e-motor wat eerder krag op spoed sal verskaf, soos wanneer jy wil verbysteek of as jy op 'n gelyk pad net jou topspoed wil behou.
Krag gaan na al vier die wiele deur 'n outomatiese agtgangratkas. Mazda sê versnelling geskied binne 8,7 sekondes, terwyl jy 'n verbruik van net 4,9 liter kan verwag. Trouens, dis eintlik verbasend dat vervaardigers tot op hede weggeskram het van hibridiese dieselvoertuie. Dieselenjins bied die laagste verbruiksyfers en as jy dit met 'n hibridiese stelsel kan kombineer, verminder jy sy uitlaatgasse en kan die e-motor help met versnelling as die turbo nog nie op spoed is nie.
Intussen
Soos genoem, word die diesel-CX-60 eers in Maart bekend gestel, maar ons weet jy kan weelde verwag soos 'n panoramiese sondak, leerbekleedsel, 'n digitale raakskerm, gonsers vir kruis- en blindekolverkeer en outomatiese hoofligte.
Ons sien werklik daarna uit om hierdie nuwe kombinasie van diesel en hibried op die proef te stel. Dit is ook goeie nuus, ondanks sy hoë prys, dat Mazda nou eindelik die kragbron in sy CX-60-reeks het wat die nodige oemf het om by die voertuig te pas.
Ons vertel meer sodra hy plaaslik aangeland het.





















