Iewers in die 1970's het Hergé, Belgiese skepper van die strokieskarakter Kuifie, in oorleg met sy uitgewer begin om al sy ou werke te moderniseer.
Ou Citroëns het skielik 'n vriendelike 1970's-Jaguar XJ geword.
En van die karakters se karikatuuragtige voorkoms is aangepas om meer realisties te wees, in tandem met die nuwe gees waar daar op die koloniale vooroordele gefrons is.
Dit het 'n gefladder veroorsaak onder Kuifie-aanhangers.
Want hoe benader jy 'n geliefde "instelling" met 'n bepaalde karakter wat skielik vir die nuwe tye se behoeftes aangepas moet word?
Dit is dieselfde dilemma waarmee Mercedes-Benz se AMG-aanhangers sit.
Sedert die 1990's, toe die warm-sedan-gier in Europa gebore is, waarna elke vervaardiger 'n spesiale, witwarm weergawe van 'n bestaande model sou opdis, is daar geen moeilike vrae oor dié soort rygoed gevra nie.
Die belangrikste was hul jongste kragsyfers (verkieslik beter as die ou model s'n), die topspoed en die versnellopie. O ja, en hoe onheilspellend hy kan lyk.
Sowat drie dekades lank was als klopdisselboom. V8's van 6,2 liter is gebou en middelklasmense met 'n goeie spaarvarkie kon 'n sedan kry wat Ferrari-verrigting bied.
Tye verander en die C63 ook
Maar toe kom klimaatsvrese.
En daarmee saam 'n heel nuwe drukbeweging op die vervaardigers. Skielik was daar nie meer vrye teuels nie, maar verantwoordelikheid. Amper, soos Kuifie van vroeër, moes die sorgelose, onskuldige spore van die verlede doodgevee word.
Die warm sedan moes omgewingsvriendelik word.
En so sit ons vandag met 'n nuwe Mercedes-Benz C63 AMG in die oprit; die oorspronklike moker-motor vir die gesin wat nou nie meer 'n V8 het nie. Ook nie 'n V6 nie. Maar 'n inlyn-vier. Vier silinders, soos gr. 1's langs mekaar ingeryg.
Die verplasing is nie 6,2 liter nie. Dis nou net 2 liter. 'n Derde van weleer. Dis of iemand al die manne in rokke laat aantree het en toe met 'n swaard verbygestap en geswiep-swiep-swiep het.
Daar's goeie nuus ook. Vandag se C63 het inderdaad meer krag as sy silinder-bedeelde voorgangers. Hoe so? Danksy meer tegno-truuks onder die enjinkap as wat kapt. Kirk in die Starship Enterprise tot sy beskikking had.
Die grootste geheim is die e-motor op die vooras en die massiewe batterypak wat hom van krag voorsien. Lê hy lepel met die A45 AMG se skopboks-tweeliterturbo, nou in die C63 se neus ingedruk, kry jy in kombinasie 'n Eben Etzebeth-hou in die maag van 1 030 Nm wringkrag en 343 kW se woeligheid in 'n streepsak.
Plant die regtervoet en gryp die stuur vas, en stuur skietgebedjies daar's nie 'n spietkop naby nie. Maar wel enige M4 of hoopvolle GTI.
Gooi kole
Die ervaring bly opwindend.
Soos in 1998.
Daar's nou net minder enjingeloei agter jou rug. Dis soos braai met eko-brikette, terwyl die res met kameeldoring rol. Jy verstaan die konsep, maar die jakkalse anderkant die grensdraad lag vir jou.
In wese was al hierdie moker-motors meer oor die gedreun as die rit self. Die belofte. Die gedagte. Eindelik word die nuwe C63 'n wilde masjien, soos van ouds, solank sy battery gelaai is. Jy kan hom oornag by die muursok inprop en dan 'n paar ritte met al daardie syferkrag geniet.
Maar as die battery op 25% te staan kom, moet die tweeliter oortyd werk om die battery te herlaai, wat jou verbruik deur die dak laat skiet.
Die nuwe, moderne C63 is 'n monster-masjien vir die nuwe era. Witwarm pret, met 'n gewete. Maar dit als kom teen 'n prys, soos minder klank en meer battery-bewustheid.
Ons sal die ou C63 mis.















