Motors

Motorwaghond blaf hard oor raakskerms

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Groot raakskerm oorheers deesdae weeldevoertuie se kajuite. BMW doen ook weg met ’n beheerknop, sodat die skerm gebruik moet word.
’n Groot raakskerm oorheers deesdae weeldevoertuie se kajuite. BMW doen ook weg met ’n beheerknop, sodat die skerm gebruik moet word.

'n Ligte skudding het verlede week deur die motorbedryf beweeg toe die Europese botstoets-instelling EuroNCAP bekend gemaak het dat hy voortaan punte gaan aftrek as voertuie nie meer sekere fisieke knoppies op sy instrumentpaneel gaan hê nie.

Die debat is reeds 'n paar jaar aan't broei. Met die koms van die slimfoon en sy raakskerm, waar jy met die vee van jou vingerpunt oor die skerm se oppervlak oor skermgrepe kan "blaai", het dié tegnologie gou ook sy weg na die motorbedryf gevind.

'n Groot raakskerm oorheers deesdae weeldevoertuie se kajuite. BMW doen ook weg met 'n beheerknop, sodat die skerm gebruik moet word.
'n Groot raakskerm oorheers deesdae weeldevoertuie se kajuite. BMW doen ook weg met 'n beheerknop, sodat die skerm gebruik moet word.

Aanvanklik het motors se instrumentpaneel uit 'n digitale skerm bestaan waar jy die funksies met 'n muisagtige beheerknop agter die rathefboom moes manipuleer. Lexus s'n het 'n pyltjie op die skerm gehad wat jy met die beheerknop moes rondskuif om na 'n ikoon te beweeg alvorens jy dit kon aktiveer met die druk van 'n knoppie op die beheerknop.

Audi het 'n draaiwieletjie gehad waar die ikone van bo na onder op 'n lang lys beurt ná beurt belig is. En so het elke vervaardiger sy eie, amperse-analoog-stelsel gebruik.

Die afgelope vyf jaar het raakskerms grootliks die beheerknop oorgeneem. Nou kan jy met die vingerpunt direk op die skerm tik om 'n ikoon te aktiveer of bladsye links en regs te blaai.

Mercedes se groot skerm met raak- en gly-oppervlakke.
Mercedes se groot skerm met raak- en gly-oppervlakke.

Vervaardigers sê dit is vin­niger en makliker vir die bestuurder as om 'n knoppie te druk. Die ontwerpers het ook van die skerms gehou, want nou hoef hul instrumentpanele nie meer met 'n rits knoppies en wieletjies bemors te word nie. Die instrumentpaneel is derhalwe nou 'n skoon, gladde oppervlak.

Klagtes het wel opgeklink dat raakskerms nie heeltemal so voordelig is as wat voorgehou word nie.

As jy in die ry met jou vingerpunt na 'n klein ikoon moet soek en tussen bladsye moet blaai op soek na 'n versteekte funksie, neem dit jou aandag weg van die pad voor jou.

Dit is ook moeilik om die regte ikoon te tik wanneer die motor beweeg en skud.

Hy gaan vervaardigers penaliseer as funksies nie meer met 'n knop­pie geakti­veer kan word nie.

En laastens is 'n knoppie, soos 'n volumeknop, baie vinniger en makliker om te beheer as 'n raakoppervlak waar jy op 'n spesifieke plek op die skerm 'n fyn streep horisontaal moet trek om die volume te verstel.

EuroNCAP het tot dieselfde gevolgtrekking gekom en daarom sy beoordelingsmaatstawwe aangepas. Van 2026 af gaan hy vervaardigers penaliseer (vyf punte in die kategorie vir veilige bestuurbaarheid) as bepaalde funksies nie meer met 'n fisieke knoppie of armpie geaktiveer kan word nie.

Dit sluit items in soos die ruitveërs, flikkerligte, noodligte en toeter.

Die meeste vervaardigers hou aparte knoppies vir dié funksies in hul instrumentpanele. Maar Tesla het reeds in sy Model 3 begin om die ruitveërs as 'n knoppie op die stuurwiel te plaas, waarna verdere verstellings in die raakskerm gedoen moet word.

Ons is te veel deur die ingenieurs aan ons neus gelei.

Volkswagen is een van die groot vervaardigers wat onlangs akuut bewus geword het van verbruikers se klagtes oor te veel funksies wat na die raakskerm verskuif is.

Thomas Schäffer, hoof van gesinsvoertuie in die VW-direksie in Wolfsburg, het verlede jaar gesê: "Ons is te veel deur die ingenieurs aan ons neus gelei.

"Hulle kom na ons met 'n nuwigheid en sê: ‘Julle móét dit in jul nuwe voertuig sit. Die mense gaan dol wees daaroor.'

"En dan glo ons hulle.

"Maar ons moet voortaan meer skepties wees daaroor."

Soos met die Golf 8 se skakelaars op sy raakskerm en onderkant dit waar jy met 'n vingerpunt gly- en vee-aksies moet uitvoer om die volume of die lug­versorger-temperatuur te verstel.

"Soms is dié nuwighede nie beter nie, maar meer omslagtig. Dan hou die verbruiker nie daarvan nie en word dit iets wat die verkope benadeel."

Een oplossing wat ingenieurs voorhou, is om meer funksies met stembevele te laat aktiveer eerder as knoppies. BMW is een van die vervaardigers wat al lank daarmee eksperimenteer in sy weeldemotors.

Die idee is dat jou aandag nie van die pad afgetrek word terwyl jy met die blikbrein praat nie.

'n Ander oplossing is handbewegings: Maak 'n sirkelbeweging met die vingerpunt voor die raakskerm en die blikbrein lees dit dat jy die volume wil verstel.

Maar sou die blikbrein sonder jou medewete vir handbewegings geaktiveer gewees het en jy beduie terwyl jy praat, kan die blikbrein die radiostasie verander of die klank laat bulder omdat hy dit as 'n opdrag lees en nie besef jy beduie net in die algemeen nie.

Eindelik lê daar nog 'n pad te stap tussen die mens en die masjien om die goue middeweg van tegnologiese ingryping te vind wat ons lewe makliker maar ook veiliger sal maak.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM