Motors

Norris maak Max lekker skrik

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
McLaren se Lando Norris (agter) haal Max Verstappen se Red Bull dramaties oor die laaste paar rondtes in. Ondanks die laat aanslag kon die jong Nederlander sy plek verdedig en met die louere wegstap.Foto: Getty Images
McLaren se Lando Norris (agter) haal Max Verstappen se Red Bull dramaties oor die laaste paar rondtes in. Ondanks die laat aanslag kon die jong Nederlander sy plek verdedig en met die louere wegstap.Foto: Getty Images

Ná 'n stadige begin het Sondag se Emilia-Romagna Grand Prix op die Imola-renbaan in Italië behoorlik spoed gevang in die laaste tien rondtes toe McLaren se Lando Norris met hernude vaart die gaping tussen hom en die voorloper, Red Bull se Max Verstappen, dramaties begin verklein het.

Die Vlieënde Hollander het tot in daardie stadium die Grand Prix met gemak oorheers aan die voorpunt. Die grootste geveg was agter hom, waar hard om die volgende plekke gestoei is.

Totdat Norris besluit het hy het sy bande genoeg gespaar en kon sy oranje motor vrye teuels gee. Die jong Brit het Verstappen met groot treë ingekatrol. Maar met enkele rondtes nog oor het ook sy bande hande in die lug gegooi - terwyl Verstappen self sy bene begin lig het.

Die resultaat was 'n naelbytsege vir Verstappen met net 'n 0,7 sekonde gaping tussen hom en Norris. Verder terug het Charles Leclerc die laaste podiumplek met sy Ferrari ingeneem.

Hoewel Verstappen met hierdie sege en voorste wegspringplek sy voorsprong op die puntelys kon rek, het Norris homself as 'n belangrike uitdager gevestig.

  • Die reeks skuif nou na die historiese Monaco-straatbaan oor twee weke (26 Mei), waar die haastige motors die smal roete met sy min verbysteekpunte aandurf.
  • Volg die aksie regstreeks van 15:00 op kanaal 215 op SuperSport.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM