Die derde geslag Isuzu D-Max is reeds in 2019 in Thailand onthul, maar weens verskeie redes, onder meer die Covid-19-pandemie, het hy eers vanjaar in Suid-Afrika sy opwagting gemaak.
Ons was by die bekendstelling, waar selfs pres. Cyril Ramaphosa kom inloer het om Isuzu geluk te wens.
Die Isuzu D-Max word nes sy voorgangers in Gqeberha gebou volgens plaaslike behoeftes.
"Die nuwe Isuzu D-Max is taai en bekwaam - en gevorderder, veiliger én meer verfyn as tevore," het Dominic Rimmer, senior adjunkhoof van Isuzu Motors Suid-Afrika, by die glansgeleentheid gesê.
Ná die bekendstelling het ons agterpad langs van die Baai in die Oos-Kaap gery na George in die Wes-Kaap.

Buite en binne
Die nuwe D-Max lyk slanker en sportiewer as sy voorganger. Die dak is inderdaad 10 mm laer as tevore en die enjinkap en laaibak onderskeidelik 15 mm en 30 mm hoër.
Isuzu het die nuwe D-Max se asafstand met 30 mm verleng sodat hy die enkel- en verlengdekajuit-weergawes se deure langer kon maak. Die agterdeure van die dubbelkajuit is ook nou langer vir passasiers se gerief.

Die ontwerp is verder verfyn deur die gapings tussen bakpanele en tussen die kajuit en die laaibak te verklein.
Dit maak die bakkie blykbaar meer vaartbelyn en verbeter brandstofverbruik. Die agterste buffer het nou 'n trappie en hy is ontwerp om beter by die bakwerk in te skakel as tevore. Onderlangs is daar 'n botsplaat van 1,5 mm dik om die voorste deel van die enjin te beskerm plus 'n 1 mm-plaat onder die oliepan en ratkas.
Isuzu gee toe sommige eienaars sal dikker staalplate aanbring, maar die standaardbeskerming is voldoende vir die deursnee-motoris.

Die modelle met vierwielaandrywing kry 'n liggewig versterkte dryfas wat uit een soliede stuk aluminium bestaan.
Dit is glo sterker as wat nodig is, vir ekstra duursaamheid.
Hoe ry hy?
Ons het voorheen geskryf die nuwe Mazda BT-50 is op die nuwe Isuzu D-Max gegrond (sien Ry & Sleep #47) en dat die BT-50 'n besonder stamperig rit lewer.
Omdat Isuzu 'n reputasie het vir voortreflike rygerief, het ons uitgesien om te voel of die nuweling sy reputasie behou.
Die kort antwoord is ja, maar... Isuzu Suid-Afrika sê in 'n mediavrystelling hy het "uitgebreide veringontwikkeling uitgevoer om die nuwe Isuzu D-Max vir alle soort toestande te optimaliseer".
Dit is blykbaar gedoen omdat Suid-Afrikaners glo "uiterste eise aan bakkies stel wat wissel van hoë snelhede en lang reisafstande tot die laai van die voertuig tot kapasiteit, die sleep van swaar vragte en speel op uitdagende veldrytoestande".

Die gevolg is dat Isuzu 'n nuwe hooggemonteerde boonste beheerarm aangebring het om bakrol in draaie te beperk, terwyl 'n hersiene wielvlughoek (camber angle) die bande op die grond hou.
Die veranderings lei volgens Isuzu tot beter stabiliteit en 'n voorspelbare stuurgevoel. Die agtervering is ook herontwerp en het nou drie dikker bladvere pleks van die vorige vyf. Isuzu wou hierdeur die ritgehalte verbeter sonder om sleep- en vragvermoë prys te gee.
Isuzu kon dit na ons mening net gedeeltelik regkry. Ja, die D-Max stuur akkurater, maar jy voel die stywe vering beslis op slegte teerpaaie.
Hoewel die D-Max nie so stamperig is as die Mazda BT-50 nie, voel sy rit harder as byvoorbeeld die nuwe Toyota Hilux.
Ons moet noem die nuwe Hilux ry besonder gemaklik en dat die D-Max geensins ongerieflik is nie - hy's net effens harder as wat ons verwag het van 'n Isuzu-bakkie.
Die enjin bied geen verrassings nie aangesien dit dieselfde staatmaker-3.0-diesel is wat uit die vorige D-Max kom.
Daar is wel 'n nuwe 1.9 Ddi-enjin, maar ons kon hom net vlugtig toets. Hy het ons wel beïndruk in die kort tydjie agter die stuur.

Slotsom
Dit klink dalk of ons kla oor die stywe vering, maar dis werklik nie so erg nie en boonop slegs van toepassing op slegte teerpaaie.
Die nuwe Isuzu D-Max ry heerlik op 'n grondpad danksy die verlengde asafstand en opgeknapte vering, en dis al wat vir ons belangrik is.
Goeie werk, Isuzu!
Van die mededingers
4x4-dubbelkajuitbakkies met 'n grootkapasiteit-enjin en outomatiese ratkas

Mazda BT-50 3.0 Individual, R806300
Dis dieselfde bakkie, maar tog heeltemal anders. Die D-Max se ritgehalte is strate beter.

Ford Ranger 3.0 Power Stroke V6, Prys onbekend
Dit is 'n ope vraag of Suid-Afrikaners die D-Max gaan koop en of hulle die beursies gaan toeknyp tot die koms van die nuwe Ranger.

Toyota Hilux 2.8 GD6 4x4 Legend RS, R917900
Toyota dra dekades al die louere en ons glo nie die nuwe D-Max gaan dit afneem nie.




















