Die Chinese vervaardiger Chery het vir homself 'n stewige vastrapplek in die plaaslike mark uitgekerf sedert hy sowat drie jaar gelede sy terugkeer tot die land gemaak het.
Sy strategie is grotendeels op waarde vir geld gegrond, 'n benadering wat goed werk in 'n land waar die ekonomie water trap en 'n sukkelende middelklas na goedkoper vervoermiddels kyk wat steeds heel gaaf lyk en waarvoor jy nie enige luukses hoef prys te gee nie.
Chery het verlede jaar sy vastrap plaaslik verder verstewig deur die Omoda-handelsnaam na Suid-Afrika te bring wat aan kopers 'n meer eksklusiewe opsie bied.
Die C5-middelslag-sportnuts was die eerste model wat plaaslik sy verskyning gemaak het en is 'n paar maande later deur die sportiewer C5 GT gevolg wat net in beperkte getalle beskikbaar is. Laasgenoemde is die onderwerp van ons padtoets.
Wat het ons hier?
Chery, 'skuus, Omoda, het weggeskram van die konvensionele met die C5 en die C5 GT se ontwerp met 'n opwindende aanslag waarby veral jonger, modebewuste kopers byval behoort te vind.
Die C5 GT maak 'n sterk visuele standpunt met sy driedi- mensionele diamantrooster wat byna naatloos by die voorkant geïntegreer is. Ons hou van die futuristiese stilering, maar dit sal nie noodwendig in almal se smaak val nie en hoe goed dit gaan verouder, sal ons maar moet sien. Die amperse koepee-profiel en agterkant met sy skerp lyne dra by tot 'n sportiewe voorkoms.
Die gewone C5 en die C5 GT verskil nie drasties van mekaar nie, met die GT wat 'n paar ekstra tooisels en kleurkombinasies aan die buitekant het wat hom 'n bietjie "warmer" laat vertoon, terwyl daar ook agt verskillende opsies is waarmee kopers hul voertuig kan verpersoonlik.
Min wat skort
Die binneruim is nie heeltemal so progressief soos die buitekant nie, maar is steeds 'n verwelkomende, moderne ruimte met netjiese afwerkings.
Soos die mark deesdae dikteer, het die instrumentpaneel 'n skoon ontwerp met feitlik geen fisieke skakelaars nie, terwyl 'n lang, aaneenlopende skerm vir die instrumentasie en nutsfunksies die oorheersende ontwerpelement is. 'n Aparte raakoppervlak vir die lugversorging se verstellings is 'n welkome toevoeging. Die skerm het 'n hoëresolusiebeeld met 'n uitleg wat redelik gebruikersvriendelik is, hoewel daar ruimte vir verbetering is. So moes ons lank soek om die stop-ry-stelsel te deaktiveer en het ons dit "weggesteek" tussen een van die keuselyste opgespoor. Gelukkig hoef jy dit net een keer te deaktiveer en bly dit af totdat jy dit weer self aktiveer.
Die ontwerpdetails en afwerkings lyk netjies, met veral die "sportsitplekke" en atmosfeerbeligting wat opval. Die hooggeplaaste posisie van die herlaaivakkie verseker dat jou foon maklik binne bereik is, maar dis dalk nie die beste gebruik van die ruimte nie.
Die gehalte en afwerking lyk in die algemeen goed, tog oortuig van die harde plastiek nie heeltemal nie. "Gemiddelde" volwassenes behoort nie met kop- en beenruimte te sukkel nie en die laairuim bied 'n skaflike 378 liter se pakplek.
Die lang standaardtoerustinglysie is nog 'n pluspunt. Dit sluit in ventilasie vir die bestuurder en voorste passasiers se sitvlak, tweesone-klimaatbeheer, stembeheer, Android Auto- en Apple CarPlay-konneksie met jou foon, asook verskeie bestuurshulpmiddels.
Laasgenoemde word met wisselende sukses toegepas. Sommige van die stelsels, soos die baanverlaatstelsel se terugdu-funksie, is redelik aggressief en kan 'n gevaar skep eerder as om te help en die ingryping van die stelsel is nie altyd konsekwent nie. Die talle alarms kan ook steurend wees, veral as jy nie onmiddellik weet waarvoor dit is nie.
Klap 'n toon
As die sportiewer boet van die C5 is dit gepas dat die C5 GT ook 'n warmer enjin moet hê. Sy 1.6-liter-turbopetrolenjin lewer 'n stewige 145 kW en 290 Nm teenoor die matiger 115 kW en 230 Nm van die C5 se 1.5-liter-turbopetrolenjin. Die C5 GT word boonop met 'n sewegang-dubbelkoppelaarratkas gekombineer teenoor die gewone C5 se CVT-ratkas.
Die kragaanwins is opmerklik en die C5 GT het nie veel aanmoediging nodig om sy litte te roer nie. Die ratwisseling geskied ook glad, behalwe onder harde versnelling wanneer die ratkas soms talm wanneer jy juis vinnige skakeling verlang. Die versnellerpedaal is ook gans te sensitief, wat dit moeilik maak om glad weg te trek en is maar iets waarby 'n mens moet aanpas.
Ondanks sy sportiewer benadering, is die ritgehalte meer op gemak as ratse hantering ingestel.
Die vering verdoesel die meeste slegte padoppervlakke se stampe en stote, maar word soms op langer, opeenvolgende ongelykhede uitgevang, terwyl 'n redelike mate van bakleun nie juis vertroue om vinnige draaie inboesem nie.
Ons gemiddelde brandstofverbruik was 9,9 liter/100 km. Dis aan die swaar kant, hoewel ons nie juis altyd so ekonomies bestuur het nie.
Slotsom
Dis nie om dowe neute dat die Omoda C5 'n finalis in vanjaar se Motor van die Jaar-kompetisie is nie. Die Chinese maak met rasse skrede vordering met hul voertuie wat gehalte en waarde vir geld betref. Die C5 GT is geen uitsondering nie en verleen 'n bietjie ekstra skop aan die reeds bevoegde C5.
Hy is nie sonder sy foute nie, meestal wat die fynere nuanses van die ry-ervaring betref, maar daar is baie positiewe aspekte wat daarvoor vergoed.
- Prys: Omoda C5 GT - R589 990.





















