Met die somer net-net op die horison het Mercedes-Benz SA pas die pryse en modelreeks bekend gemaak vir sy nuwe CLE Cabriolet, wat eersdaags hier te kry sal wees.
Die CLE is twee maande gelede hier in sy koepee-vorm bekend gestel, met die nuwe oopdakweergawe wat nou kort op sy hakke hier sal aanland.

Daar sal twee modelle wees wat albei deur 'n tweeliter-turbopetrol aangedryf sal word. In die CLE200 Cabriolet bied die viersilinderenjin 150 kW en 320 Nm wringkrag wat met 'n outomatiese negegangratkas na die agterwiele gestuur word, terwyl die CLE300 deurgaans 'n fris 190 kW en 400 Nm wringkrag na ál vier die wiele stuur.
Soos jy sal onthou, vervang die nuwe CLE albei die vorige C- en E-klas-koepees en cabriolets met een skoot.
Dis 'n segment wat algaande krimp, soveel so dat Mercedes-Benz besluit het om net een tussenin-grootte model aan die mark te bied eerder as weer 'n kleiner C-koepee en 'n groter E-koepee.
Die lapdak van die ou model is ook behou. Dit bespaar heelwat gewig teenoor 'n wegvoubare metaaldak. Die ander voordeel van die lapdak is dat dit veel minder plek in die bagasiebak in beslag neem wanneer dit weggevou is.
Die kleur van die CLE se lapdak sal in room, rooi en swart beskikbaar wees.

'n Ander gawe aspek wat ons van die nuwe CLE Cabriolet oplet, is dat die groot digitale raakskerm, wat al die nutsfunksies huisves, nou in die nuwe oopdakker heen en weer in die instrumentpaneel gekantel kan word met die druk van 'n knoppie.
Mercedes-Benz sê dis om steurende weerkaatsing van die son daarop te minimaliseer sodat beelde te alle tye leesbaar vir die bestuurder sal wees.
'n Ander slim aspek van die oopdak-Merc is dat die voorruit verder terugbuig tot amper bo die insittendes se koppe om beter windbeskerming te bied.
Die lapdak kan binne 20 sekondes oop- of toevou en kan selfs teen 60 km/h nog toegevou word -gaaf vir wanneer die rooi lig skielik na groen oorslaan en jy nog halfpad is om die dak oop of toe te maak.
Die CLE200 Cabriolet kos R1 515 350, wat 'n premie van R120 000 bo die koepee is, terwyl die CLE300 4Matic Cabriolet se prys van R1 573 651 'n bykomende premie van R143 000 bo die koepee vra.














