Motors

Op merke, gereed . . . en zoem!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die intog van nuwe Chinese toetreders tot die Suid-Afrikaanse motormark het nog glad nie stoom verloor nie met 'n heel nuwe­ handelsnaam, GAC Motors, wat pas sy buiging op ons paaie kom maak het.

Die eerste produk uit die Guangzhou­ Automotive Company se stal is 'n kompakte nuts, die Emzoom, terwyl 'n groter nuts later vanjaar op pad is en 'n klein elektriese motor straks vroeg volgende jaar.

Nou, vir so 'n lawwe naam (ken die Chinese nie Mazda se Zoom-Zoom-veldtog van twee dekades gelede nie?) is die kordate nuts 'n heel gawe kêrel.

Zoom-zoom, sê hierdie nuwe Chinees! GAC Motors se nuwe toetreder tot ons motormark is die Emzoom, 'n parate klein sportnuts met hope karakter en wikkel in die bene. Kyk net daardie handvatsels en treffende lyne.
Zoom-zoom, sê hierdie nuwe Chinees! GAC Motors se nuwe toetreder tot ons motormark is die Emzoom, 'n parate klein sportnuts met hope karakter en wikkel in die bene. Kyk net daardie handvatsels en treffende lyne.

Die Emzoom het 'n treffende ontwerp propvol skerp aksentlyne en diamantmotiewe van toon tot stert getooi. Veral in die topmodel, die R Style, waar hy 'n tweekleur-dak het en van die stylelemente (die dakrak, die C-pilaar, die sierwiele en by die buffers) in 'n mooi koper afgewerk is, vertoon hy treffend spoggerig.

Die Emzoom sal in drie afwerkings te kry wees, die Comfort, die Executive en die R Style, en met pryse tussen sowat R370 000 en R550 000 bied hy hope waarde vir geld.

Dis 'n nuts wat so reg in die kraal is van middelklas-gesinne wat sukkel om by die tradisionele handelsname se R700 000-sportnutse uit te kom.

Die standaardlysie van toerusting is lank, hy lyk modern binne en buite, en hy jaag soos Dricus op 'n weghol-bokser se spoor.

Die kajuit is modern afgewerk. Die Emzoom is stil op die oop pad en gee jy vet, haak hy af met 'n reguit-regter soos sy turbo inskop.
Die kajuit is modern afgewerk. Die Emzoom is stil op die oop pad en gee jy vet, haak hy af met 'n reguit-regter soos sy turbo inskop.

Wat het ons hier

Onder die enjinkap sit 'n 1.5-liter-turbopetrol wat 'n billike 130 kW en 270 Nm wringkrag na die voorwiele stuur. Die Emzoom benut 'n sewegang- outomatiese ratkas wat 'n lekker gladde skakelaksie bied en sit jy die voet neer by die wegtrek, tol sy voorwiele dat die klippers spat.

Dis nou 'n Chinees wat sê "Hoesit, my China!" aan die verbaasdes by die verkeerslig.

Natuurlik wissel die luukses en weeldes tussen die drie afwerkingsvlakke. Maar almal bied 'n groot raakskerm wat koordloos met jou slimfoon kan gesels. Tans is net Apple CarPlay beskikbaar, maar GAC sê binnekort sal jy ook Android Auto op die raakskerm kan benut.

Die ratskakelaar is 'n klein pennetjie van kristal - bykans ongehoord hoe deftig en modern die kenmerke in so 'n bekostigbare model is.
Die ratskakelaar is 'n klein pennetjie van kristal - bykans ongehoord hoe deftig en modern die kenmerke in so 'n bekostigbare model is.

Die Executive bied onder meer 'n trukamera, sleutellose toegang met 'n aansitknop, 'n herlaaivakkie vir jou slimfoon, 'n netjiese kristal-rathefboom in die middelkonsole en drie ritmodusse om

As veiligheidstelsels is daar 'n terugdu-funksie sou jy uit jou baan uit dwaal, 'n selfstopfunksie sou die blikbrein vermoed jy gaan in die voertuig voor jou vasry, blindekolgonsers en parkeergonsers agter.

Die R Style bied benewens die treffende voorkoms, ook 'n panoramiese sondak. Maar so van die mooi voorkoms gepraat, dit begin met die twee vet uitlaatpype wat in die middel van die agterbuffer geplaas is. Daarna let jy die koperafwerkings en kopergekleurde wiele op. En laastens die tweekleur-afwerkings vir die bekleedsel binne.

Gawe nuus is ook dat al die Emzoom-modelle daardie plat, dun deurhandvatsels het wat versonke in die deure sit. Sluit jy die motor oop, wip die handvatsels so met die een punt uit, terwyl die ander punt nog versonke bly.

Ons hou van die fyn detail in die ontwerp, soos hierdie talle diamant-motiewe met hul oranje aksente.
Ons hou van die fyn detail in die ontwerp, soos hierdie talle diamant-motiewe met hul oranje aksente.

Flukse, stil rit

Teen dié tyd het ons al gewoond geraak aan die jongste generasie Chinese voertuie se treffende, moderne ontwerpe. Kyk maar na BAIC se X55, die Omoda C5 en selfs die jongste Jolions van Haval.

In die GAC Emzoom se geval is dit selfs 'n tree verder geneem met diamant-motiewe by die ligte, LED-dagryligte by die flanke en C-pilaar, en agter by die luikdeur.

Wat grootte betref, kan jy hom met Hyundai se Kona vergelyk of die Omoda C5, Mazda CX-30 en die Toyota Corolla Cross. Maar met pryse van weerskante van die R500 000-kerf gaan die nuwe Emzoom sommer heelwat belangstelling wek.

Op die pad het drie dinge dadelik opgeval. Eerstens was die kajuit baie stil - GAC het duidelik moeite gedoen in windtonnels om die nuts so stil as moontlik deur die lug te laat klief. Die Chinese se fabrieke het groot insetkoste by hul regering gekry sodat die toerusting omvattend en modern is. Dit wys in klein aspekte, soos die afwesigheid van pad- en windgeraas.

Die tweede ding wat opgeval het, is hoe woelig die klein vyftienhonderd is. Ja, hy't 'n turbo. Maar so baie van die Chinese voertuie sukkel met modulasie by die wegtrek (te veel krag wat skielik 'n rat gryp, dat jy rukkerig wegtrek) en 'n dors brandstofverbruik.

Dit wil voorkom, op ons kort kennismaking, of die Emzoom albei kis geslaan het. Ons verbruiksmeter het op 7,5 liter gedraai - met harde versnelling - wat heel billik was. En as jy vet gee, dan skiet hy soos 'n Faf op 'n niksvermoedende losskakel neer.

En derdens was die vering heel gaaf sonder om te ferm soos 'n Duitse voertuig te wees. Nader aan 'n Franse ry-ervaring, wat gemak betref.

Afsaal

Ons sal later langer met die Emzoom deurbring, maar ons aanvanklike kennismaking was heel positief. Daar's 'n rits Chinese produkte vandag daar buite, maar hierdie outjie - ondanks daardie vreemde naam - is werklik iets om te oorweeg.

Sien ook ons kassie hiernaas om meer oor die invoerder en GAC as sulks uit te vind.

20 handelaars teen jaareinde

GAC Motors is 'n baie jong maar vinnig groeiende Chinese motormaatskappy. Die groep is deur die staat in 1997 in Guangzhou gestig en het sedertdien gegroei tot die vyfde grootste Chinese vervaardiger met 2,5miljoen verkope (sedert sy ontstaan) in 39 lande teen verlede jaar.

Die groep het eers in die laaste paar jaar begin om sy produkte buite China te versprei. Ander markte sluit Suid-Amerika en Suidoos-Asië in.

GAC het drie fabrieke in China en bou ook Toyotas, Hondas en Mitsubishi's vir die Japanse groepe vir die Chinese tuismark. Hy het onlangs eers begin om sy eie produkte te ontwerp en te bemark.

Die Portugese nywerheidsgroep Caetano is die verspreider van GAC-voertuie na markte oor die wêreld heen. Caetano het in 1946 begin as 'n busvervaardiger. Vandag oorheers hy die mark vir busse wat op lughawens oor die wêreld heen gebruik word - jy sou dit al gesien het as die Cobus-busse op lughawens van O.R. Tambo tot Frankfurt en Charles de Gaulle.

GAC Motors beplan om 20 handelaars in Suid-Afrika se grootste stede teen jaareinde te hê, met nog 'n handvol wat volgende jaar bygevoeg kan word om 'n goeie verteenwoordiging op die landkaart te hê. Sommige handelaars sal onafhanklik wees, maar die meeste sal multi-franchise-handelaars wees.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM