Motors

Opel lig sluier van nuwe nuts

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Opel se nuwe Frontera het ’n heel besadigde ontwerp vergeleke met sy treffende Mokka-sportnuts. Die nuwe Frontera is vroeg volgende jaar na Suid-Afrika op pad.
Opel se nuwe Frontera het ’n heel besadigde ontwerp vergeleke met sy treffende Mokka-sportnuts. Die nuwe Frontera is vroeg volgende jaar na Suid-Afrika op pad.

Opel het die sluier gelig van sy nuwe Frontera, 'n kompakte sportnuts wat die Duitse vervaardiger later volgende jaar ook na Suid-Afrika wil bring.

Die klein Frontera sal onder die huidige Mokka in die portefeulje inskuif. Waar die Mokka 'n treffende voorkoms het met veral die skerp sierrooster wat opval, het die kleiner Frontera meer van 'n besadigde ontwerp.

Die Frontera sal op die Stel­lantis-groep se platform vir klein sportnutse gebou word wat hy onder meer reeds vir die Peugeot 2008 en die nuwe Citroën C3 Aircross inspan.

Die Frontera is 'n naam wat al 'n redelike tydjie in die General Motors-stal gebruik is.

In Europa was daar 'n sportnuts met 'n soortgelyke naam, terwyl Isuzu (destyds deel van die GM-stal) in Suid-Afrika een van die eerste sportnutse op die mark gehad het met sy omgeboude KB-bakkie, wat hy die Fron­tier genoem het.

Plaaslik sal die Frontera Opel se modelreeks netjies aanvul, aangesien sy veeldoelbussie, die Crossland, se dae getel is. Opel het enkele jare gelede met 'n twee-bussie-aanslag vorendag gekom: die klein Crossland; en die groot Grandland. Met sportnutse deesdae die gewildste klas voertuie, maak dit net sin om meer van hierdie soort voertuie in die portefeulje aan te hou as die gesinsbussies van voorheen.

Die bekleedsel word van herwinbare materiaal gemaak. Let ook op die minimalistiese voorkoms, met net die strak inligtingskerms wat sigbaar is.
Die bekleedsel word van herwinbare materiaal gemaak. Let ook op die minimalistiese voorkoms, met net die strak inligtingskerms wat sigbaar is.

Die Frontera is langer en ruimer as die Crossland, en sal gerieflike sitplek aan vyf volwassenes bied. Opel sê die kajuit se bekleedsel is van herwinbare mate­riaal gemaak, terwyl twee groot digitale skerms in die instrumentpaneel sal pryk.

Die raakskerm in die middel van die paneel sal 'n trukamera en ander nutsfunksies bevat. Onder die skerm is 'n vakkie waar jy jou slimfoon koordloos kan herlaai. Die vakkie word verkoel, aangesien jou foon vinnig kan verhit as dit in 'n motor herlaai word. Ons sien ook twee USB-sokke voor en nog twee sokke vir die agter-insittendes. 'n Gawe nuttigheid is die spesiale bêreholtes in die voorrugleunings vir jou slimfoon as jy agter sit. Opel noem ook dat die sitplekke ontwerp is om gerieflik op lang ritte te wees. Die agterste rugleuning kan in 'n 60-40-konfigurasie platslaan, om die 460 liter pakplek na 1 600 liter te vergroot.

Opel het nog geen tegniese inligting vir die Frontera bekend gemaak nie, maar ons vermoed hy sal die groep se 1.2-liter-petrolturbo inspan, gekoppel aan 'n sesgang- outomatiese ratkas.

Europese modelle kry ook hibridiese weergawes, waar 'n 48V-stelsel matige hupstoot verleen by die wegtrek en as jy parkeer, en ook om jou spoed te handhaaf op die snelweg as jy ligweg met die regtervoet ry.

Verwag die nuwe Frontera in die eerste semester van volgende jaar by plaaslike Opel-handelaars.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM