Porsche het pas die tweede generasie van sy gewilde Macan-sportnuts in Europa bekend gestel, met die grootste nuus dat dit (voorlopig) net as 'n EV beskikbaar sal wees.
Dis die eerste keer dat Porsche 'n nuwe weergawe van 'n bestaande model slegs as 'n batterygedrewe voertuig aan die mark gaan bied. Sy Taycan, die groep se bestaande EV, is 'n nuwe voertuig in eie reg, en nie 'n opvolger van 'n bestaande model nie.
Vir die nuwe Macan het Porsche 'n nuwe platform ontwerp (Premium Platform Electric) wat hy saam met Audi vir sy verrigtingsmodelle gaan inspan. Audi se nuwe Q6 e-tron gaan dieselfde platform benut.
Die nuwe Macan is 'n raps langer, breër en hoër as die bestaande model. Die groot 95 kWh-battery sit in die pens en dryf twee e-motore aan, een op elke as.
Daar sal twee weergawes wees, die Macan S en die Macan Turbo as verrigtingsmodel, maar albei benut dieselfde batterypak. Kragvlakke verskil wel; vir die Macan S is daar 300 kW en 650 Nm wringkrag onder die regtervoet beskikbaar, terwyl die Turbo 'n fris 470 kW en 1 130 Nm wringkrag het. Al vier die wiele bied dryfkrag.
Porsche maak ook aanspraak op 'n heel billike reikafstand van 613 km vir die S en 591 km vir die Turbo. Verrigting is natuurlik die e-Macan se brekfis: verwag 5.1 sekondes vir die intreemodel se versnellopie, terwyl die Turbo dit in 'n blitsige 3.1 sekondes kafdraf.

Hou by die wenresep
Dis tien jaar nadat Porsche sy Macan die eerste keer bekend gestel het. In dié tyd het die middelslag-sportnuts die Stuttgartse groep se gewildste model geword met meer as 800 000 weergawes wat in totaal verkoop is.
Dit is dus belangrik dat die nuweling weer 'n raakvatter is vir die vervaardiger. Porsche sê daarom het hy hard gewerk om die nuweling se reikafstand en verrigting so goed as moontlik te kry. Plus ook die Macan se hantering, wat met die massiewe battery 'n bykomende uitdaging vir die ingenieurs gebied het.
Wat sy voorkoms betref, het Porsche nie te veel van die bekende profiel en lyne afgewyk nie. Hy lyk steeds redelik kompak en uitkenbaar vanaf sy groter nefie, die Cayenne. Die reeks kan later ook uitgebrei word, sê Porsche.
Interessant genoeg het Porsche se ingenieurs ook met 'n slim nuwigheid vorendag gekom wat sy groot battery betref. Die 800V-argitektuur kan in twee eenhede van 400V elk verdeel word, wat beteken dit kan vinniger herlaai word by hoëspoed-herlaaipunte, sê die vervaardiger.
In dié opsig maak Porsche aanspraak op 'n herlaaispoed van slegs 21 minute sou jy hom vanaf 20% na 80% wil opklits.
Die kajuit bevat Porsche se jongste digitale raakskerm wat bykans van kant tot kant strek. Die rathefboom is nou net 'n kort pennetjie wat langs die inligtingskerm uitsteek. Voor die passassier is daar 'n aparte, derde inligtingskerm wat genoeg weggekantel is om nie sigbaar vir die bestuurder te wees nie. Die passassier kan na sy eie video's op die skerm kyk.
Die nuwe Macan kom wel eers volgende jaar na Suid-Afrika. Dit nou omdat Porsche eers sy belangrikste markte van modelle wil voorsien, en Suid-Afrika 'n kleinvolume-mark van EV's is.



















