In Brittanje is wit bestelwaens net so volop soos wit Hiluxe (of is dit nou Rangers?) in Suid-Afrika, en dit het gelei tot die eg-Britse, half-beledigende “wit bestelwa-man” (white van man) beskrywing vir dié algemene verskynsel.
Met die Transit en Transit Custom Custom wat al vir jare Brittanje (en Europa) se voorverkoper-paneelwa is en reeds vyf keer die Internasionale Bestelwa van die Jaar-titel (insluitende verlede jaar met die jongste modelreeks) ingepalm het, is die meerderheid van dié wit waens van Ford-oorsprong.
En dis juis dié toedrag van sake (asook eienaar-terugvoer) wat die motorreus genoop het om ’n hupse weergawe, die kortas-Transit Sport – kompleet met stylvolle sierwiele, dubbele renstrepe oor die bakwerk, helder kleure en ’n hoë toerustingvlak – beskikbaar te maak.
Die tweede Sport-model is in Oktober verlede jaar hier bekend gestel om die jongste Transit- en Tourneo-modelreeks verder uit te brei.
Hierdie eiesoortige variant gemik op ’n nis binne die bestelwa-mark; eenman-ondernemings of eienaar-operateurs wat ’n uiters ruim en praktiese voertuig soek om aan hul avontuurlike en lewenstyl-georiënteerde behoeftes te voldoen, asook diegene wat wil uitstaan van die ‘wit bestelwa”-stereotipe.
Met Volkswagen se Transporter T7-model sterk in aantog (meer hieroor later) het Ford onlangs ’n media-padreis met ’n vloot Transit Custom Sport-modelle vanaf Gqerberha in die Oos-Kaap na Durban in KwaZulu-Natal onderneem. Die doel? Wel, om benewens media-dekking spesiale klein rystoele vir gestremde kinders by hospitale in Oos-Kaapland af te lewer.
Hierdie unieke stoeltjies, spesifiek vir kleintjies wat loop-probleme ondervind of glad nie kan loop nie, is deur Ford-werknemers by die vervaardiger se aanleg in Silverton ontwerp en in hulle vrye tyd gebou.
’n Oos-Kaapse afleweringsreis
Die roete vir die vloot Transit Sport-modelle met hul vrag stoeltjies het vanaf Gqeberha met die N2-deurpad al langs die skilderagtige Wilde Kus af na Mthatha gelei, met ons eerste afleweringspunt die Nompumelelo Provinsiale Hospitaal naby Peddie.
Op die kronkelroete deur die Oos-Kaap, verby helderkleurige gehuggies oral op die vloeiende heuwels, grasgroen na oorvloedige reëns, het die sportiewe bestelwa se opgegradeerde tweeliter- enkelturbo-dieselenjin weer met sy wringkragtigheid en soepel kraglewering verras.
Met 125 kW en 390 Nm se draaimoment beskikbaar (25 kW en 30 Nm meer as in die Transit Custom Base-model), gekoppel aan ’n gladde agtgang-outokas met vier ekstra bestuursmodusse (eko, glibberig, sleep en sport), het die bulterige terrein g’n uitdaging aan die wa gebied nie.
Ook sy rygerief, selfs met 17-duim bande geskoei op netjiese swart allooiwiele, was bo verdenking op die goeie teerpaaie, maar dit was minder tuis op gruis- en rowwer grondpaaie (waar die normale model met hoër-profiel 16-duimers beter behoort te vaar).
Bygesê, die N2 deur die Oos-Kaap is in goeie toestand, maar nog onvoltooid en met vele padwerke. Rondloper-diere is steeds die grootste probleem vir padgebruikers, maar in geheel is die gebied nou heelwat skoner en netjieser as vantevore...
Ná ons kuiertjie by die Nompumelelo Hospitaal, waar vier van die stoeltjies aan die dankbare personeel oorhandig is, het los reënbuie ons op die finale strek na die besig Mthatha vergesel, en die LED-hoofligte met LED-dagryligte het hier baie gehelp om gevaarlike padsituasies te vermy.
Die volgende oggend het ons die N2 vanuit Mthatha verder noord na Mount Frere (deesdae bekend as KwaBhaca) gevolg om die volgende besending rystoeltjies by die heel moderne Madzikane Ka Zulu-Gedenkhospitaal af te lewer.
Op pad daarheen het die gerief van die Custom Sport se ruim kajuit, en die sitplekke met hul sportiewe blou strepe, weer opgeval. Die herontwerpte voorpaneel met ’n 13-duim raakskerm vir die Ford SYNC4-inligtingstelsel en ’n 12-duim-instrumentepaneel, het ’n netjiese, eenvoudiger uitleg, wat dit half uit plek in ’n bestelwa (selfs ’n hupse een) laat lyk.
Ander geriefsopgraderings in die kajuit (met opsionele verdeelpaneel met venstertjie agter die sitplekke) sluit in 10-rigting-kragverstelling (met verhitting) vir die sitplekke, dubbel-armrusse vir die bestuurdersitplek, dubbelsone-klimaatbeheer, ’n boonste paneelkissie met deksel (groot genoeg vir ‘n skootrekenaar), en dubbele USB-C-kragpunte.
Vanaf KwaBhaca het die roete ons tot duskant Kokstad gevat, alvorens die konvooi kuswaarts in die rigting van Port Edward op pad na die Oliver en Adelaide Tambo-Streekshospitaal, die voormalige St. Patrick’s-Hospitaal, gedraai het.
Hier is die laaste rystoeltjies uit die groot laairuim, met ’n maksimum-laaivolume van 5.8m3 – groot genoeg vir drie standaard Euro-palette van 1 023kg elk – gelaai en oorhandig. Terloops, die Transit Custom kan ’n waentjie met ’n gewig van tot 2 500 kg (gerem) sleep.
Uitmuntende verbruik
Die vloeiende en breë R61-kuspad langs die Natalse Suidkus het die afstand na Durban kort gemaak, en ons dieselverbruik (oor die grootste deel van die 1 000 km-roete) was tot so laag as 7.4 liter/100 km, uitstekend gegewe die grootte van die bestelwa.
Wees egter bedag dat die Transit Custom (nou beskikbaar vir R932,500 wat ’n ses-jaar/90 000 km diensplan en vier-jaar/120 000 km waarborg insluit), saam met die 55-liter dieseltenk, ook ’n 20-liter AdBlue-tenk het (om skadelike uitlaatgasse teen te werk), en dié moet ook opgetop bly...
Benewens gevorderde veiligheidstelsels het die Sport het ook ’n uitgebreide reeks bestuurshulpstelsels, wat onder meer aanpasbare togbeheer, blidekol-monitering, baanhoubeheer, intelligente spoedhulp en -beheer, en rolvoorkomingbeheer insluit. Ook is daar bestuurder-waaksaamheidmonitor, maar dié was naderhand so irriterend dat ons dit afgeskakel het.
Beste van als is egter dat die rit met die Custom Sport ons ’n goeie voorskou gegee het van wat ons te wagte kan wees in die nuwe Volkswagen Transporter-reeks... Want, dié modelle, wat in Turkye deur Ford Otosan gebou word en aanstons hier gaan aanland, deel hulle onderstel en dryfstelsels met die Transit-reeks.
Wat egter duidelik was ná ons padreis deur van die mooiste dele van die land, was dat hierdie Custom Sport-model in die Transit-reeks glad nie meer voel soos wat mens jou voorheen van ’n ‘wit bestelwa-man” se ryding voorgestel het nie.















