Ek het hierdie 1995 Nissan Sani 3.0 V6 4x4 in 2000 gekoop. In die vyf jaar vóór ek hom gekry het, het hy by die 100 000 km gery.
My vrou, Danielle, het die eerste twee jaar in die dorp met hom gery vóór ons besluit het dis tyd om hom as toervoertuig in te span. Ons het hom toe ‘Bush Master' gedoop.
Met die tyd saam het ek die Sani toegerus met die gewone katoeters wat 'n mens op 'n toertrokkie verwag - dinge soos Old Man Emu-vering, 'n Front Runner-dakrak, laaistelsel, National Luna-ys-vrieskas en 'n dubbelbatterystelsel. Op die dakrak laai ons 'n Oztent RV5-seiltent, ons jerrykanne en sandplanke.
Ons het ook 'n Jurgens Xcape wat ons met 'n Toyota Fortuner 3.0 D-4D sleep wanneer ons op plekke gaan kamp waar jy met 'n wa kan uitkom.
Ons verkies dit egter om op plekke te kamp waar daar nie regtig ander mense is nie, en daarvoor is die Sani nét die ding.
Wanneer hy op teer ry, gee die Sani gemiddeld 11-12 l/100 km, selfs al is die dakrak gelaai met die tent en jerrykanne wat sy aërodinamika belemmer. Die brandstofverbruik klim tot 18 l/100 km wanneer ons lang ente in 4x4 moet ry.

Ek het gelukkig nog geen ernstige probleme met my Nissan ervaar nie, maar op 200 000 km het die tweede rat begin raas en moes ek die ratkas laat oorbou. Ek het ook die koppelaar vervang. Ek was nog nooit gestrand met hom nie, maar ek sal graag vir hom 'n agterste ewenaarslot wil kry omdat ons nogal gereeld sagte sandpaaie teëkom.
Wat ek baie van die Sani waardeer, is die feit dat hy min elektronika het - selfs al het jy net basiese meganiese kennis kan jy hom steeds met draad en boereband regmaak. In die 200 000 km wat ons nou al met hom gery het, moes ek hom nog net twee keer langs die pad herstel.


Die eerste was weens 'n koeëllaer binne die dryfas wat onklaar geraak het - dié het ek reggesien deur 'n lap in die huls te stop, en dit was goed genoeg om ons van Ithala tot in Durban te kry.
Die tweede was toe die Sani in Botswana oorverhit het weens 'n klein gaatjie in die verkoelerpyp. 'n Bietjie boereband was meer as voldoende.
Ek het daarna ook die verkoelerprop verloor en het met my Leatherman een uit 'n bierblikkie en 'n bietjie draad geprakseer.
Met dié kontrêpsie kon ons van die Khama Rhino Sanctuary tot by Serowe ry, waar ek 'n nuwe een
aangeskaf het.
Ou Bush Master staan nou nader aan 300 000 km en dis vir my merkwaardig hoe goed alles die afgelope 18 jaar hou.

Gedurende die inperking was ons só gefrustreerd omdat ons by die huis moes bly dat Danielle besluit het ons kamp in die agterplaas met die Xcape tot die dag kom wanneer ons weer kan reis.
Hoe lyk jóú wiele?
Stuur 'n e-pos na rysleep@weg.co.za en vertel ons van jou ry- en sleepding.
Hierdie artikel het oorspronklik in November 2020 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.















