Motors

Seltos kry vars gesig, digitale lyf

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Kia het homself onverwags in die middel van 'n draaikolk bevind met sy middelslag-nuts, die Seltos. Toe die sakpas sportnuts in 2019 hier aangeland het, was die segment vir bekostigbare kompakte sportnutse redelik yl bevolk.

Die Volkswagen Tiguan het al hoe duurder begin word en die Toyota RAV4 al hoe groter. Net so het die Volvo XC40 en Audi Q5 hulself ook in 'n nuwe prysklas begeef - duurder en meer eksklusief.

Vir die Seltos was dit dus net die Hyundai Creta en Renault Duster wat basies dieselfde lyfgrootte en prysklas gehad het.

En toe kom die Chinese, net ná die Covid-19-tydperk.

Vandag boks hulle vierkant in die Seltos se kryt. Maar dis nie net 'n rits nuwe en ekstra mededingers waarmee die Seltos vandag moet meeding nie. Die Chinese toetreders bied ook tipies 'n groter, ruimer sportnuts met 'n lang lys standaardtoerusting.

Hoe boks 'n mens teen hulle?

Met die opgeknapte Seltos wat pas hier aangeland het, het Kia sy voetwerk ietwat verander. Die reeks is herrangskik, die toerustinglysie is langer en die pryse steeds matig genoeg vir die middelklas - in die algemeen tussen R470 000 en R630 000. As die rand sterker en nader aan sy gepaste waarde was, kon die Seltos plaaslik vir maklik R100 000 goedkoper verhandel het.

'n Nuwe vooraansig met 'n platter rooster en hooflighulsels kombineer om die opgeknapte Seltos 'n skerper voorkoms te bied. Kia se klein nuts het pas 'n opknapping ondergaan en bied nou meer waarde vir jou rand.
'n Nuwe vooraansig met 'n platter rooster en hooflighulsels kombineer om die opgeknapte Seltos 'n skerper voorkoms te bied. Kia se klein nuts het pas 'n opknapping ondergaan en bied nou meer waarde vir jou rand.

Só lyk die reeks

Die vorige intreemodel, die EX, is nou weggelaat, met die LX wat nou die Seltos-gesin begin. Maar dit is belangrik om te onthou dat jy meer en nuwer toerusting ontvang vir R5 000 minder as wat die ou EX gekos het. Min, maar elke bietjie help.

Daarna is daar 'n EX-model, 'n EX Plus en eindelik die GT Line, wat die vlagskip is.

Almal ontvang 'n nuwe vooraansig met 'n platter sierrooster, nuwe LED-hoofligte met 'n platter, breër ontwerp en 'n nuwe voorkoms vir die buffer. Die GT Line lyk ook spoggerig met sy wit omboorde misligte onder op die hoeke.

Agter het Kia nog 'n meesterslag gelewer met 'n klein maar visueel treffende aanpassing. Die LED-remligte word nou verbind met 'n rooi LED-staaf wat regdeur strek.

Die nuwe digitale skerm is effe na die bestuurder gekantel. Kies die turbodiesel-model as jy na 'n ligte verbruiksyfer soek.
Die nuwe digitale skerm is effe na die bestuurder gekantel. Kies die turbodiesel-model as jy na 'n ligte verbruiksyfer soek.

In die kajuit is die grootste opknapping die nuwe digitale skerm wat voor die bestuurder sit en tot in die middel van die instrumentpaneel strek. Onder die raakskerm is 'n ry knoppies wat dalk 'n bietjie besig vertoon, maar die voordeel is dit beheer die lugversorging afsonderlik sodat jy nie in die blikbrein rond hoef te krap net om die temperatuur te verstel nie.

Onder die enjinkap het Kia die enjin-gesin ook effens aangepas. Die ou natuurlik geaspireerde 1.6-liter-petrolenjin is weggegooi en vervang met 'n moderner 1.5-liter-weergawe. Krag is effens laer (84 kW, 144 Nm), maar verbruik is beter en uitlate skoner. As intreemodel is hy te kry met óf 'n sesgang-handratkas óf 'n CVT-agtige outomatiese ratkas. Dis op gebruiksgerief in stadstoestande toegespits.

Die 1.4-liter-petrolturbo (118 kW, 253 Nm) is behou vir die topmodelle (GT Line) en eksklusief gekoppel aan 'n sewegang- outomatiese ratkas (dubbelkoppelaar-soort).

Kia se troefkaart met die Seltos is die 1.5 liter-turbodiesel, wat behou is in die reeks. Benewens die Duster (wat einde vanjaar vervang word met die nuwegenerasie-model), is die Seltos die enigste dieselmodel in hierdie klas.

Die klein diesel bied 85 kW en 250 Nm wringkrag, en is gekoppel aan 'n outomatiese sesgang-ratkas.

Gooi kole

Eerste indrukke wanneer jy agter die opgeknapte Seltos se stuur inskuif, is dat die nuwe instrumente hom heelwat moderner laat vertoon as vantevore.

Sommige modelle het dowwe aluminium-insetsels om die swart plastiek af te wissel, terwyl ander spoggerig lyk met blinkswart plastiekpanele.

Die breë raakskerm lyk ook treffend. Hy buig effe na die bestuurder en met sy mat afwerking staan die ikone duidelik uit, selfs in helder daglig.

Op die pad ry die Seltos lekker stil met klankdigting, wat duidelik hoog op die Koreaanse ingenieurs se werklysie was. Min band- en windgeraas dring die kajuit binne.

Die petrolturbo versnel flink en seepglad deur die ratte, terwyl die diesel effe stadiger is, maar op sy beurt beïndruk met sy lae verbruik - ek het lag-lag 5,1 liter gehandhaaf.

Kia en ander gevestigde vervaardigers het almal met die nuwe­ uitdaging te kampe wat die Chinese inkomelinge bied: lae prys en lang toerustinglys. Die eerste vraag is hoe lank gaan die Chinese hul pryse kan handhaaf; en daarna hoe sterk is hul naverkopediens en hul gehalte op die lange duur?

Intussen bied die Seltos goeie waarde vir sy prys - en dit boonop met daardie heerlike turbodiesel wat min hom kan nadoen.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM