Mercedes-Benz se nuwe CLE is net om die draai - hy maak sy plaaslike verskyning in Mei - en ons het gedink dis 'n gawe geleentheid om die geheue oor dié Stuttgartse weelde-koepee te verfris.
Mercedes-Benz het 'n lang tradisie van elegante weelde-koepees.
Knap voor die Tweede Wêreldoorlog het hy straks een van sy mooiste modelle tot nog toe in dié tradisie gehad toe sy lang, slap SSLK-oopdakker die nuwe Autobahns getref het. Net 'n handvol is gebou en vandag is hulle in die honderdmiljoene euro werd - as jy een kan opspoor.
Sedertdien het ons die CL-koepees gehad, die S-klas se tweedeurweergawe en meer onlangs weer die C- en E-klas-koepee.

Strykdeur was die gedagte met dié klas voertuie dat hulle nie so sigbaar sportief hoef te wees soos 'n SL300 van die 1950's of 'n klein SLK van onlangs nie. Dit was eerder lang, viersitplek-koepees met 'n matige rit en sagte vering. Ideaal vir 'n statige toer na die kus of jou bergvilla.
Met dié dat sportnutse deesdae so gewild is het Mercedes-Benz besluit om sy koepees te rasionaliseer.
Die C- en die E-klas-koepee val dus weg en word vervang met die nuwe CLE, wat op 'n gerekte platform van die C-klas ry.
Dit beteken die asafstand is 25 cm langer, wat meer beenruimte agter en 'n groter laaibak bied.
Europese modelle bied 'n groot verskeidenheid enjinopsies, onder meer 'n inprop- hibridiese model en 'n watertand-3.0-liter-biturbo-V6.
Suid-Afrika kry (voorlopig) net twee modelle wat albei met die groep se 2.0-liter-turbopetrol toegerus is.
Die CLE200 se enjin sal 150 kW en 320 Nm wringkrag lewer, terwyl die warmer CLE300 190 kW en 400 Nm losdraai. Albei se krag gaan met 'n negegang- outomatiese ratkas na die agteras.
Ons sal nie verbaas wees as daar later ook 'n 2.0-liter-diesel en warmer CLE43 AMG-weergawes na ons waters kom nie.
Ons weet wel dat hy in die groep se AMG Line-afwerkingsvlak hier sal aanland, wat hom 'n blinker kajuit en meer weelde-aksente binne en buite sal bied.
Die CLE sal voorlopig net as 'n koepee hier aanland, maar die cabriolet-weergawe is wel later op pad.
Die oopdakker kom met 'n swart lapdak wat gewig bespaar en minder plek in die laaibak in beslag neem as hy weggevou is, vergeleke met 'n harde dak wat in drie dele platslaan.















