Met BMW se fokus en geld wat al hoe meer na sy batterygedrewe voertuie gaan, probeer die groep sy voormalige staatmaker, die 3-reeks, so lank moontlik aan die lewe hou.
Die huidige Drie het al twee keer 'n opknapping ondergaan en nou is 'n derde opknapping op hande.

Dié keer is dit baie matig, met die klem wat veral op die kajuit en sagteware geval het om die 3-reeks so vars en modern moontlik te hou.
Vir die buite-aansig is daar bloot 'n paar nuwe bakwerkkleure (metaal-blou en -rooi) en nuwe ontwerpe vir die allooiwiele opgedis.
Al meganiese opknapping is 'n regtrek van die vering wat die rit nou meer sportief maak, sê die Beierse vervaardiger.

Binnelangs is daar 'n nuwe stuurwiel, nuwe LED-beligting om die instrumentpaneel wat 'n waterval naboots, sê BMW, en nuwe keuses vir die bekleedsel.
Straks die grootste opknapping is die nuwe blikbrein vir die raakskerm, wat nou met BMW se jongste, agtste-generasie-stelsel opgegradeer is. Dis dieselfde as wat pas in die nuwe Mini's ook in die land aangekom het.
Die stelsel bied nuwe beelde en ikone op die skerm, asook nuwe kleure. 'n Mens blaai deur die verskillende skerms soos op jou slimfoon en van die beelde kan met die vingerpunt heen en weer oor die skerm getrek word.
Die modelreeks bestaan nou uit ses weergawes (voorheen agt) met die 318i, die ou intreemodel met die groep se 1.5-liter-driesilinderenjin, wat weggeval het.
Die modelreeks begin nou met die petrolgedrewe 320i, wat 'n mak weergawe van BMW se 2.0-liter-turbo ontvang (135 kW, 300 Nm).

Die 330i het dieselfde 2.0-liter-enjin, maar dié keer draai hy meer krag los (190 kW, 400 Nm). Hy kom ook standaard met die M Sport-pakket.
Hierna volg die 320d, wat 'n 2.0-liter-turbodiesel (140 kW, 400 Nm) het.
Die topmodel (benewens die M4) is die M340i, wat 'n 3.0-liter-turbo-V6 benut. Kragsyfers is van die pronk soort: 285 kW en 500 Nm wringkrag, wat permanent na al vier die wiele gaan.
Al die modelle is ook toegerus met 'n agtgang- outomatiese ratkas. Dis dieselfde ZF-ratkas wat ook die Volkswagen-groep in verskeie modelle inspan.
'n Gawe opsie op die aankooplys wat kopers kan spesifiseer, is die kristal rathefboom, stop-ry-skakelaar en draaiknop vir die iDrive-stelsel.





















