Die Prado is 34 jaar gelede in die lewe geroep (terloops, "prado" beteken in Portugees en Spaans "weiveld") en dit is die vyfde geslag wat nou sy verskyning gemaak het. Die Toyota Land Cruiser Prado word in drie aanlegte gebou, onderskeidelik Tahara en Hamura in Japan, en die Chengdu-aanleg in China.
Soos jy op die foto's kan sien, herinner die nuweling ietwat aan die heel eerste Prado, die 1990-model, veral as dit by die hoekige bakwerk kom. "Dit is nie bloot 'n huldeblyk nie," sê Yoshito Watanabe, die man wat die jongste Prado ontwerp het. "Die oorspronklike elemente in hierdie moderne ontwerp bring hulde aan die wese van Land Cruiser."

Wat het ons hier?
Die nuwe Land Cruiser Prado word aangedryf deur dieselfde 2,8 l-dieselenjin wat in sy voorganger beskikbaar was, maar die enjin is nou gekoppel aan 'n nuwe agtgang-Direct Shift- outomatiese ratkas, wat hom in staat stel om 'n gewig van 3,5 t te sleep.
Die Prado is beskikbaar in drie afwerkingsvlakke - TX, VX-R en First Edition - en volgens Toyota beskik al drie oor die robuuste vermoë wat die Land Cruiser-naam waardig is, met verbeterings aan "rybaarheid" en tegnologie.
Die Prado TX (R1 296 300) het 'n stewige spesifikasie-grondslag met 'n kajuit wat volledig in leer gestoffeer is, verhitte sitplekke vir die bestuurder en voorste passasier, 'n verhitte stuurwiel, windskermweerkaatsskerm en koordlose laaistasie vir jou slimfoon. Die Prado VX-R (R1 448 900) voeg op sy beurt 'n magdom kenmerke by, waaronder 'n digitale truspieël en 'n groter inligtingvermaakskerm.

Die vlagskipmodel, die VX-R First Edition (R1 462 400), is slegs in beperkte getalle en vir 'n beperkte tydperk beskikbaar, en as jy bereid is om R10 000 ekstra te betaal kan jy die First Edition Bi-Tone (R1 472 600) aanskaf - die skaarsste een van die lot met sy bakverf in twee kleure.
Die First Edition word onderskei van die TX en VX-R deur die ronde hoofligte vergeleke met die reghoekige ligte in die ander modelle.
Alle Toyota-eienaars kan inteken vir 'n persoonlike MyToyota-profiel. MyToyota is deur Toyota SA ontwerp om 'n platform te bied vir eienaars om vinnig en gerieflik toegang te verkry tot alle inligting en dienste wat met hulle voertuig (of voertuie) verband hou. Teken in en jy het toegang tot wifi-vermoë in die motor (met 25 GB data gratis), saam met aanvullende aanlyn dienste.

Hoe vergelyk hy?
Vir die Toyota Land Cruiser Prado se binneruim het jy 'n keuse van 'n vyf- of sewesitplekuitleg, en dit is om dié rede dat ons hom vergelyk met die GWM Tank 500, Defender 110 en Volvo XC90, wat almal dieselfde sitplekuitleg bied.
Uit hierdie drie mededingers het ons die Defender en Volvo reeds getoetsbestuur, maar nog nie die Tank 500 nie. Die Tank 500 is reeds in Australië te koop teen $66 490 (R840 000) en behoort eersdaags in Suid-Afrika beskikbaar te wees.
Hy kan 3 t sleep vergeleke met die Prado se 3,5 t, en die Tank 500 het 'n grondvryhoogte en waaddiepte van onderskeidelik 224 mm en 800 mm teenoor die Prado se 216 mm en 700 mm. Die Tank 500 is petrolaangedrewe met 'n 80 l-brandstoftenk, en die 2 l-enjin lewer 255 kW en 648 Nm wringkrag.
Die sewesitplek-Volvo XC90 B5 Plus kos R1 452 600. Sy maksimumsleepgewig is 2,7 t en sy grondvryhoogte en waaddiepte is onderskeidelik 266 mm en 450 mm. Die XC90 se turboaangejaagde 2 l- petrolenjin wek 183 kW en 350 Nm op en die brandstoftenk neem 'n beskeie 71 l. Die sewesitplek-Defender 110 D250 kos R1 969 878. Hy kan 3,5 t sleep, nes die Prado, en spog met 'n grondvryhoogte en waaddiepte van onderskeidelik 290 mm (lugvering) en 900 mm.
Die Defender D250 se 2 997 cc-dieselenjin sorg vir 249 Kw en 570 Nm en hy het 'n 89 l-brandstoftenk. Die Land Cruiser Prado se prys is dus soortgelyk aan dié van die Volvo XC90, maar met 'n veldryvermoë van die duurder Defender. En wat herverkoopwaarde betref, is die Toyota ligjare vooruit.

Spesifikasies
Model Land Cruiser Prado 2.8GD VX-R First Edition
Enjin 2 755 cc-viersilinder-turbodiesel
Krag 150 kW @ 3 000 r.p.m.
Wringkrag 500 Nm @ 1 600 r.p.m.
Ratkas 8 spoed-outomaties
Grondvryhoogte 216 mm
Nader- en vertrekhoek 30° en 17°
Tenk 110 l
Standaardbande 265/70R18
Rymassa 2 520 kg BVM 3 100 kg
Sleepgewig 3 500 kg
Waarborg 3 jaar/100 000 km
Diensplan 9 dienste/90 000 km
Prys R1 462 400
Van die mededingers
Spoggerige sportnutse met sewe sitplekke.

GWM Tank 500 Prys onbekend
Ons het hom nog nie gery nie, maar sy kleiner boetie, die Tank 300, het ons beïndruk.

Volvo XC90 Plus R1 452 600
Die XC90 is Volvo se veiligste ryding met geen sterftes in hom weens ongelukke sedert sy bestaan nie.

Defender 110 D250 R1 969 878
Die Defender 110 is nie meer die hardebaard ryding van ouds nie, maar hy vind aanklank by 'n nuwe soort Landie-eienaar.




















