Die Stellantis-groep, waaronder die Peugeot-, Citroën-, Jeep-, Opel-, Alfa Romeo- en Fiat-handelsnaam plaaslik val, het bevestig dat die Peugeot Landtrek-bakkie voortaan in 'n nuwe fabriek by die Coega-nywerheidsone in die Oos-Kaap gebou gaan word.
Die nuwe fabriek (wat van Stellantis die agtste plaaslik vervaardiger sal maak) vorm deel van 'n R3 miljard-belegging om die bakkie hier te bou en terselfdertyd is aangekondig dat twee nuwe weergawes van die Landtrek - 'n enkel- en 'n dubbelkajuit-werkesel - aanstons hul verskyning hier sal maak.

Stellantis het ook op die voorskou-geleentheid die opgekikkerde Opel Corsa, die jongste Citroën C3 Aircross en 'n C3-turbo-model, asook die jongste Jeep Wrangler en 'n warm Abarth-weergawe van die elektriese Fiat 500e, asook die normale 500e, vertoon.
- Peugeot
In die voorlegging het Mike Whitfield, nuut aangestelde besturende direkteur van Stellantis Suid-Afrika, aangekondig dat die maatskappy die Landtrek-bakkie van 2026 af in Coega gaan bou. Stellantis beplan om 50 000 Landtreks per jaar - 60% vir uitvoer en 40% vir die plaaslike mark - hier bou.
In ag genome Peugeot se Landtrek-verkope lyk dié syfer optimisties, maar in ag genome dat linker- en regterstuur-modelle gebou sal word, bestaan die moontlikheid dat hierdie produksie oor handelsname (te wete RAM, wat nie hier beskikbaar is nie) heen versprei kan word, maar daaroor wou Stellantis nie uitwei nie.
Die Landtrek-enkelkajuit, asook 'n intreevlak-dubbelkajuit, sal deur dieselfde 1.9-liter-turbodieselenjin en outomatiese sesgangratkas as in die huidige model aangedryf word. Interessant om op te let, is die enkelkajuit se groot laaibak, wat twee Euro-palette kan vat.
Met die huidige modelle wat vir onderskeidelik R619 900 en R705 900 verkoop word, sal die prysposisionering van die werkesels interessant wees, veral as Peugeot sy markaandeel stewig wil verhoog.
- Opel
Binne kry die Corsa dieselfde middelkonsole as die Mokka, maar geen verandering aan die huidige 1.2-liter-kragbronne (wat onderskeidelik 74 kW en 96 kW lewer) word verwag nie.
Die Corsa behoort middel vanjaar in Suid-Afrika aan te land.
- Citroën
Dit sal voorafgegaan word deur die bekendstelling van die nuwe C3 Aircross in die derde kwartaal vanjaar. Die nuwe C3 Aircross is die eerste in dié modelreeks wat 'n sewesitplek-model (die Max-weergawe) sal insluit.
Nog 'n nuwe Citroën-sportnuts word volgende jaar verwag; heel moontlik die nuwe Basalt, wat onlangs as konsep vertoon is.
- Jeep
Die opgekikkerde Wrangler word aanstons plaaslik verwag.
Hoewel die aangepaste model geringe stileringsveranderinge buite en binne het, is die groot nuus die nuwe 2.0-liter-turbopetrol-kragbron in die jongste Wrangler.
Hierdie enjin lewer 200 kW en 400 Nm se wringkrag teenoor die 209 kW en 306 Nm van die 3.6-liter-V6-Pentastar, soos gebruik in die huidige Wrangler.
Die nuweling kry ook 'n herontwerpte sewestaaf-sierrooster en 'n voorruit met 'n geïntegreerde antenne.
Binne is daar 'n nuwe digitale raakskerm gekoppel aan die groep se Command Centre-inligtingstelsel.
- Fiat
Fiat steun sterk op die gewilde 500 en dié reeks word in die tweede helfte van vanjaar met die elektriese 500e uitgebrei.
Die Abarth-weergawe (wat ook vertoon is) verruil sy 1.4-liter-turbo-petrolenjin vir dieselfde litium-ioonbatterypak as in die elettrica, maar in die skerpioen-weergawe lewer dit 113 kW en wringkrag van 235 Nm vir 'n 0 km/h-100 km/h-tyd van sowat 7 sekondes.
Howel nie aangedui nie, sal hierdie hoëverrigtingweergawe waarskynlik laat vanjaar of vroeg volgende jaar hier aanland.
Ook kry die bestaande modelreeks nuwe benamings, met die vlagskip-Dolce Vita wat nou Style genoem word. Dié variant kry nou ook 'n 1.2-liter-driesilinder-enjin in die plek van die 875 cc-tweesilinder.
Die drie modelweergawes - die intreevlak-500, Style en afslaandak-Style Cab - kry almal 'n klein raakskerm met Apple CarPlay- en Android Auto-versoenbaarheid, asook 15-duim-allooiwiele.














