Noudat sportnutse uit die Europese bronlande - soos Audi, BMW, Volkswagen, Mercedes-Benz en Volvo - so peperduur geword het, kyk kopers al hoe meer na die kleiner modelle in hul portefeuljes as die tradisionele Q7, X5 of GLE.
In Mercedes-Benz se taal beteken dit die kompakte GLC is nou die sportnuts van voorkeur. Wel, die GLC en ook sy meer sportiewe stalmaat, die GLC Coupé.
Die Coupé is Merc se antwoord op BMW se X4 en Audi se Q5 Sportback.

Kyk na die Coupé se mooi, geronde profiel en die meer sportiewe voorkoms. Hy lok straks nie so baie kopers soos die meer tradisionele, hoekige GLC nie. Maar hy bied karakter en styl, dinge waarin veral vrouekopers meer belangstel as wat die meer brutale GLC sal bied.
Kragtoer met diesel
Die nuwegeslag-GLC Coupé is pas in die land bekend gestel en dié keer is hy slegs met twee dieselweergawes te kry: die 220d en die 300d. Albei kom terloops met matige (48 V) elektriese enjinhulp.
Voordat jy raai dat die 220d die groep se tweeliter-turbodiesel moet hê en die 300d 'n drieliter-diesel, laat ons net 'n sluier lig oor Stuttgart se meesterwerk met enjins.
Daardie 300d is een en dieselfde enjin (van 2.0-liter) as wat jy in die 220d sal vind. Maar net met heelwat meer perde onder die regtervoet.
Dis eintlik ongelooflik wat Mercedes-Benz met enjins regkry - dink gou aan sy A45 AMG, wie se 2.0-liter-turbopetrol 310 kW en 500 Nm wringkrag losdraai. Dis vandag die kragtigste tweeliter op die mark.
Vir sy tweeliter-diesels het hy dieselfde filosofie gevolg. Die 220d lewer 'n reeds gewillige 145 kW en 440 Nm wringkrag vir 'n dieselenjin.
Maar dis die frisser weergawe van hom in die 300d wat die oë laat rek met 198 kW en 550 Nm wringkrag.
Dis 'n syfer wat Porsche nie eens kon ewenaar met sy drieliter-diesel Cayenne nie.
Vir die nuwe GLC Coupé kry jy 'n negegang- outomatiese ratkas wat krag na al vier die wiele stuur en vierwielstuur-aksie is opsioneel vir die topmodel te kry, tesame met lugvering.
Stylvol en elegant
Die kajuit se afwerkings is net so uit die C-klas en GLC geneem. Daar's 'n breë middelkonsole, met 'n groot raakskerm wat skuins teen die instrumentpaneel geplaas is.
Dis lekker gemaklik binne bereik van jou hand terwyl jy ry om aksies en opdragte daarop uit te voer.
Jy kan ook stembevele gebruik (geaktiveer met 'n "Hei, Mercedes!") om enigiets van die lugversorger se temperatuur of die radiostasie te verander.
Die voorpaneel strek netjies reg rondom die kajuit van die een kant se deur tot by die oorkant in 'n mooi geboogde lyn. Dit lyk heel treffend.
Agter sal twee volwassenes hul sit heel gemaklik kan kry, maar die dalende daklyn beteken dat 'n langeraat liefs voor moet sit.
Mercedes-Benz sê intussen die laairuim is van die ou model se 500 liter na 545 liter vergroot.
Iets wat ons moet noem, is dat Mercedes-Benz volhard met raakoppervlakke pleks van skakelaars en knoppies in die kajuit. Die volume is byvoorbeeld net met 'n glypaneel vir jou vingerpunt beheerbaar, op die stuurwiel en by die radio self.
Dis lastig en onnodig.
'n Knoppie sou veel meer prakties wees.
Gooi kole
Die frisser 300d bied 'n lekker gewillige rit. Gee vet en die Merc-sportnuts skiet vorentoe, diesel of te nie. Dis als daardie hope kilowatt se skuld. Hy's so rats soos 'n politikus met sy rug teen die muur.
Nog iets wat dadelik opval, is hoe stil die kajuit is. Jy kan die dieselenjin maar hard roer, jy hoor skaars 'n enjindreuning daar voor.
Op sy beurt bied die 220d 'n meer gematigde ervaring, hoewel hy steeds oorgenoeg krag het om die langpad mee kort te maak en verbysteek soos poeding ná aandete.
Albei modelle kom met matige hibridiese aandrywing. Dis grootliks aktief wanneer jy wegtrek of as jy jou kruisspoed behou op 'n gelykpad. Oorsee is 'n inprop-hibried te kry, wat jou 'n 130 km-reikafstand bied.
Afsaal
Mercedes-Benz sê daar's nog baie lewe (en hope sin) in fris turbodiesels vir sportnutse - en ons stem saam.
Die GLC Coupé is dalk al net oor die R1 miljoen-kerf, maar hy lyk elegant, bied goeie ruim-te en bied jou 'n heerlike, sorgvrye 1 000 km per tenk brand-stof.
Dis al wat jy in 'n moderne sportnuts soek.















