Motors

Uiteindelik! ’n Mazda wat spiere bult

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Uiteindelik met die fris bene wat hy nog altyd nodig gehad het. Mazda se nuwe topmodel in sy CX-60-reeks, die Takumi, kombineer ’n turbodiesel met e-krag – ’n eerste in Suid-Afrika – om hom die nodige spierkrag te gee.
Uiteindelik met die fris bene wat hy nog altyd nodig gehad het. Mazda se nuwe topmodel in sy CX-60-reeks, die Takumi, kombineer ’n turbodiesel met e-krag – ’n eerste in Suid-Afrika – om hom die nodige spierkrag te gee.

Het jy al ooit 'n Mazda van R1 miljoen gesien? Die nuwe Mazda CX-60 Takumi, Suid-Afrika se eerste turbodiesel-hibried, het verlede week gearriveer - met hierdie fris pryskaartjie aan sy spieëltjie.

Wat het ons hier?

Die CX-60 is reeds verlede jaar bekend gestel met twee 2.5 liter-petrolmodelle.

Heel gaaf, maar altyd arm aan die nodige enjinkrag, het 'n mens gevoel.

Nou is die reeks uitgebrei met 'n nuwe topmodel wat 'n interessante aandryfstelsel bied.

Die Takumi (Japannees vir "strewe na volmaaktheid") kombineer 'n 3.3 liter-turbodiesel (inlyn-ses) met 'n e-motor wat sy krag van 'n litiumioon-battery ontvang.

Die dieselkragbron dryf die agterwiele aan, terwyl die e-motor die voorwiele aandryf.

Dis die eerste en tot dusver enigste diesel-hibried op ons mark, wat nogal vir 'n gawe alternatief­ sorg.

Gesamentlik skop die CX-60 'n lewendige 187 kW en 550 Nm uit en hy kan die versnellopie in 'n wakker 7,3 sekondes (vir 'n diesel) kafdraf.

Wys jou lyf

In sy Takumi-afwerkingsvlak verskil die CX-60 nie veel van sy stalmaats nie. Die sierrooster het 'n nuwe ontwerp, terwyl "INLINE6" in blokletters by die flanke pronk. Die sierwiele kry ook hul eie nuwe ontwerp.

Van die kant af gesien herinner die CX-60 se profiel my aan die Jaguar F-Pace (wat veel duurder is) en die Alfa Romeo Stelvio, waarmee die CX-60 onder meer meeding.

Hoe groot is hy?

Die CX-60 is heelwat groter as 'n deursnee-sportnuts soos die Hyundai Tucson. Hoewel die Mazda 'n ware vyfsitplek-voertuig is, ding hy eintlik ook met sewesitplek-kalante soos die Ford Everest en die Hyundai Santa Fe mee. Dus, in plaas van twee beknopte sitplekke wat in die bagasieruim gestoor word, het jy 'n massiewe kattebak tot jou beskikking wat lag-lag Desembervakansie-bagasie vir vyf én Pa se gholfsak kan huisves.

Die CX-60 se teenstanders sluit in die Mercedes-Benz GLC, die Audi Q5, die Volvo XC60, die BMW X3 en die Lexus NX, asook Honda se nuwe CR-V.

'n Slim blikbrein meet jou ooghoogte en pas jou sitplek en stuurwiel daarvolgens aan om jou nommerpas agter die stuur te posisioneer.
'n Slim blikbrein meet jou ooghoogte en pas jou sitplek en stuurwiel daarvolgens aan om jou nommerpas agter die stuur te posisioneer.

Lekker deftig uitgerus binne

Bestuurder-gefokus en met 'n minimalistiese, logiese uitleg - dis die DNS van die topmodel-CX-60.

Tipies Mazda is die sentrale skerm nie die raakskerm-soort nie; jy gebruik die sentrale draaiknop wat onder jou linkerhand val, of jy kan die satellietknoppies op die stuurwiel gebruik, of jou stem via CarPlay of Android Auto.

Dit wérk, om die volgende redes: Jou aandag word nie afgelei nie en daar is geen vuil vingerafdrukke op die skerm nie. Vir my is dit heelwat meer intuïtief en makliker om te gebruik as die onnodig komplekse stelsels in die Duitse teenstanders.

Maar moenie die stelsel vlak kyk nie: Om 'n voorbeeld te noem, Mazda gebruik gesigherkenningstegnologie wat jou identifiseer en dan die korrekte verstellings doen.

Nadat die bestuurder sy lengte vir die blikbrein ingevul het, sal 'n kamera in die dak jou oogposisie opspoor en jou sitplek outomaties daarvolgens verstel. So ook die tru- en kantspieëls en die hoogte van die nuts-inligting wat teen die voorruit verskyn.

Die stelsel kan die profiele en voorkeure van ses gebruikers onthou.

Die CX-60 bied ook 'n uitmuntende kamerastelsel wat jou in staat stel om reg rondom asook "deur" die motor te sien ('n kamera sit onder die neus).

Die lysie van ander geriefstoerusting is lánk.

Hoe ry hy?

Soos 'n ruimteskip met wringkrag! Die aandryfstelsel is gekoppel aan 'n outomatiese agtgang- ratkas en danksy die e-motor, wat aktief is wanneer jy wegtrek, is daar geen turbo-traagheid nie; jy trap die lepel en die diesel-oond spring ná 'n paar tellings aan die werk met 'n diep dog verfynde grom.

Let wel, omdat dit 'n ligte hibridiese stelsel is (die battery is klein), het hy nie 'n e-modus waar jy slegs met elektriese krag kan ry nie. Dis meer soos 'n assistent wat ekstra woema verskaf as jy wil verbysteek of inskop as jy op 'n gelyk pad op vaart rustig jou pas behou. Dan help hy om diesel te bespaar.

Ons brandstofverbruik in stadsverkeer het 8,5 liter beloop, maar dit sal aansienlik daal wanneer jy op die oop pad is.

Sal ek hom koop?

Die CX-60 is 'n statige en gesofistikeerde sportnuts-bielie wat re­spek afdwing. Hy is gelaai met toerusting, is wonderlik ruim en ry soos 'n droom. Hy is net 'n rapsie duur en die embleem-bewustes wat meer as R1 miljoen kan bestee, het baie om van te kies in dié segment. Maar, al die luukshede in die CX-60 Takumi-model is standaardtoerusting, terwyl die Europeërs jou laat hoes vir ekstras soos verhitbare sitplekke, 360°-kameras en aanpasbare spoedbeheer.

Maar, uiteindelik het die CX-60 nou die krag wat hy so desperaat nodig gehad het.

  • Prys: Mazda CX-60 Takumi - R1 049 200.
Ané Albertse

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM