Hulle weet nie wat ons weet nie (met 'n kopknik aan Kurt Darren en Dricus du Plessis), is seker wat vele kopers wat reeds 'n jongste geslag Mercedes-Benz GLE-model aangeskaf het nou heimlik dink.
Want sien, hierdie opgekikkerde weergawes van Stuttgart se baanbreker-weeldesportnuts is reeds van einde verlede jaar by Driepuntster-passasiersmotorhandelaars beskikbaar, wyl die mediabekendstelling van dié nuwelinge moes wag vir die nuwe jaar.
Feit is, as jy nie weet waarvoor om te kyk nie, sal jy sukkel om die nuwe GLE of sy koepee-weergawe van die vorige reeks te onderskei, synde die enigste visuele verskille 'n subtiel vernuwe voorbuffer, 'n nuwe sierrooster-patroon, subtiel veranderde hoofligte en aangepaste agterligte behels.
Die nuwe sierrooster, nou met driepuntster-patroon vir modelle met AMG Line-afwerking, het twee horisontale, verchroomde insetsels wat daardeur loop, en die LED-hoofligte met kenmerkende ligpatroon het nou twee ligpunte wat die daglig-ryligte komplementeer (wyl die opsionele Multibeam-LED-ligte vier sulke ligpunte het).
Ook die agterligte is aangepas - met die ligsein van die GLE-sportnuts wat nou twee blokke vorm, terwyl die GLE Coupé se sein na twee stawe verander is. Ook kom die GLE Coupé nou standaard met AMG Line-afwerking, wat chroom-afwerking vir die voorbuffer, bakkleurige AMG-kantpanele en wielboogbedekkings, asook 'n eiesoortige chroombedekte AMG-lugverdoeseler agter insluit.
Benewens hierdie uiterlike verskille, sluit veranderinge in die binneruim onder meer 'n nuwe stuurwiel met raak-kontroles in, meer chroomafwerking vir die luguitlate (soos in die GLS-model) en opgegradeerde omgewingsbeligting, asook nuwebeige, bruin en swart kajuit-kleurkombinasies (swart en klassieke rooi vir AMG Line-modelle).
Ook is blinkswart Manufaktur-afwerking en swart Nappa-leerbekleedsel (soos in die GLS gebruik), 'n Burmester-stelsel met Dolby Atmos-klankbeheer, die sogenaamde Energizer-klimaatbeheer (opsioneel) en tweede-geslag-MBUX (Mercedes-Benz User Experience)-stelsel met verbeterde kleurdifferensiasie en koordlose Apple CarPlay en Android Auto-aanpasbaarheid nou beskikbaar.

Dis mos nou windmaker
Benewens die opsigtelike, behels die GL-evolusie ook 'n eerste: Die bekendstelling van sewesitplek-weergawes in die reeks ('n lang-as-weergawe is ook beskikbaar, dog net Indië bestem).
Boonop vind die jongste modelle baat by effens verbeterde kraglewering van hul hibridiese aandryfstelsels, bestaande uit turbopetrol- of turbodieselenjins gekoppel aan 'n 48V-batterystelsel.
Ons GLE 300d 4Matic- en 450d 4Matic-toetsrygoed, feitlik almal met AMG Line-afwerking en geskoei met (opsionele) breë 20-duim- of 21-duim-laeprofiel-bande, het windmaker en imposant in die parkeerterrein van die George-lughawe vertoon.
Van daar het ons roete na Mosselbaai en oor die Robinson-pas na Oudtshoorn gelei, en van daar na die Louvain-gasteplaas en terug oor die Outeniqua-pas na George en Oubaai. Selfs met sy kleiner tweeliter-dieselmeul was die GLE 300d 4Matic g'n futloos op die hoofweg of oor die passe nie.
Met 198 kW en 'n stewige 550 Nm draaimoment beskikbaar, en danksy 48V-batterykrag en 'n kortstondige 15 kW en 200 Nm hupstoot van sy geïntegreerde-aansitter-generator (ISG), het die 300d - met 'n imponerende 0-100 km/h-versneltyd van 6,9 sekondes - die langpad sommer lekker kort gemaak, en verbruik van minder as 9,0 liter gehandhaaf.
Die byna lineêre kragstuwing in sy 450d 4Matic-grootboet, met 'n bewese drieliter-kragbron wat nou 270 kW (net 10 kW minder as sy V6-petrol-stalmaat) en 'n allemintige 750 Nm wringkrag lewer danksy die ISG se elektriese kraghulp, was hoogs indrukwekkend - en dit stel dié model in staat om die 0-100 km/h-toets in net 5,6 sekondes kaf te draf.
Des te meer imponerend is die feit dat dié tyd gelykstaande is aan die petrolmodel s'n. En die dieselvariant is nie eens 'n volwaardige AMG-model nie. Tog het die breë tekkies op albei modelle (asook die GLE Coupé) hul rygehalte oor enigiets behalwe gelyke teer beïnvloed.
Selfs in Comfort-rymodus was dit amper te ferm (wat beteken het Sport-modus is net geskik vir hoofweë), en dit het ook beteken dat enige grondpad met omsigtigheid benader moet word.
In ag genome hierdie situasie sou dit raadsaam wees om eerder 18-duim of hoogstens 19-duim rubber te spesifiseer.
As weelderige, gerieflike langafstand-padmissiel vir die hele gesin het die jongste GLE-modelle min gelykes, solank die roete nie rowwe agterpaaie insluit nie.
Ook het ek die 300d verkies, grotendeels omdat dié model als doen wat verwag word, maar sonder om oordadig te wees.
Tog meen ek daar's ook plek vir die imponerende 350de 4Matic-inprop-hibried, en ons hou asem op vir die jongste AMG GLE 53 en GLE 63-modelle, met kraglewering van 400 kW tot 450 kW.















