Dis interessant om die X-Trail se verloop deur die jare te volg. 20 jaar gelede se eerste model was 'n kompakte sportnuts in 'n segment wat pas sy voete nog gevind het.
Terwyl daardie eerste X-Trail basies so groot soos die huidige Toyota Corolla Cross was, het hy gou meer lyf bygekry: Hoogte, lengte en breedte.

Die tweede en die derde weergawes was straks die beste vergestaltings van Nissan se idee vir 'n middelslag-nuts. Genoeg sitplek vir vyf mense en hul bagasie, gemaklik op die grondpad danksy billike grondvryhoogte en 4x4-vastrap in die topmodelle, met 'n jong gevoel aan hom met daardie dakrak en speelse kajuit.
Maar later het die X-Trail ernstiger geword. Daar is amper meer stasiewa in sy DNS as prettige sportnuts. Van die enkellopende se naweek-wegbreker na die gesinsman se sedige vervoermiddel na die laerskool.
Die nuwe, vierdegeslag-X-Trail is tans in drie afwerkingsvlakke by ons te kry en pryse is van sowat R650 000 tot R760 000. Dis nie meer goedkoop nie en die swak rand het grootliks daartoe gelei dat die X-Trail vandag eintlik buite bereik van sy teikenmark is, waar die middelklas voertuie soos die Toyota Urban Cruiser, Hyundai Creta en Kia Seltos oorweeg.
Dun kuite, daardie
Van die drie weergawes (Visia, Acenta en Acenta Plus) het ek die topmodel, die Acenta Plus, van nader leer ken. Maar hierdie weergawe is 'n sewesitplekker, terwyl die goedkoper twee net vyf sitplekke bied.
Almal is ewe lank, maar die Acenta Plus het twee klein sitplekke wat agter in die laairuim kan regop slaan. As dit plat lê, is die vloer plat (maar wel hoër as die ander twee modelle s'n).
Die swak rand het die pryse opgejaag én dit beteken ook dat ons nie die lekkerste weergawes hier kry nie. (Nissan sê dit kom dalk later vanjaar.) Dis nou die hibridiese modelle met 'n turbo-enjin gekoppel aan 'n e-motor. Die stelsel bied goeie krag met 'n lae verbruik.
Hierteenoor kry ons tans net die Renault-Nissan-groep se bekende 2.5-liter, wat sonder enige aanjaging sit. Dit verklaar sy middelmatige kragsyfers van slegs 135 kW en 244 Nm wringkrag. Terwyl die onderste twee modelle net voorwielaandrywing het, kry die Acenta Plus wel 4x4-vastrap wat jy met 'n ritmodusknop kan aktiveer, sou jy wou stofpad ry.
Maar deftig ingerig binne
Die nuwe X-Trail het 'n mooi skoon ontwerp. Hy's lank en elegant, en lyk nou bepaald meer stadsgerig as vanmelewe se hoekige, vierkantige sportnutse wat "bergfiets!" geskree het.
In die kajuit kry jy sagte sponsagtige oppervlakke bo-op die instrumentpaneel en by die deure, wat saam met die effense tweekleur-afwerkings die kajuit heel modern, deftig en stylvol vertoon.
Ek het ook van die breë middelkonsole gehou, met die dekseltjie wat in twee klappe weerskante toe oopwip. Daar's ook 'n elektroniese handrem en 'n plat, breë rathefboom wat ook as rusplek vir jou polsgewrig kan dien.
Al die instrumente is digitaal, met 'n groterige kleurskerm in die middel van die voorpaneel wat jou nutsfunksies huisves. Die topmodel het ook ruitinligting, wat jou spoed en satnav-stelsel se rigting laag voor jou op die voorruit projekteer.
Beenruimte agter is heel gemaklik vir volwassenes en die laairuim sal almal se bagasie kan sluk, sou jy die klein sitplekke agter platslaan.
Wat die noodwiel betref - die halfgrootte band lê heel maklik bereikbaar onder die vloer.
Help 'n bietjie daar!
Soos vroeër genoem, kry ons tans nie die modernste enjins hier nie. Die groep se 2.5-liter, wat jy ook in die Renault Koleos vind, doen diens hier, gekoppel aan 'n CVT-agtige outomatiese ratkas.
Dis kostebesparend, maar die resultaat is iets tussen 'n beurtkrag-bulletin en teetyd by die kerkraadsvergadering: Jy weet wat die boodskap gaan wees en geen vuurwerk word verwag nie.
Ry jy bedeesd, is jou verbruik lekker laag - ek kon maklik 6,5 liter handhaaf. Wil jy saam met die verkeer wegtrek, dreun die CVT-'kas soos 'n kwaadgemaakte haardroër.
Die topmodel het 4x4-vastrap. As jy die X-Trail aansit, is hy outomaties in sy voorwielaandryf-modus, reg vir die rit vergadering toe. Tik jy hom in 4x4-modus, kan jy met vertroue vet gee op 'n stofpad.
Afsaal
Nissan het 'n goeie produk hier beet met sy nuwe X-Trail. Hy is stylvol en skoon gestileer, en die toerustinglysie is lank (soos sleutellose toegang, tru-kamera, outomatiese hoofligte). Hy is 'n heerlike, moderne stasiewa-op-stelte, net reg vir die voorstedelike gesin.
Maar vir 'n driekwart-miljoen wil jy meer tegnologie en woema onder die enjinkap hê, of hoe?
• Prys: Nissan X-Trail Acenta Plus - R759 900.




















