1. Waarin word jou kruideniersware gepak wanneer jy inkopies doen?
A In tuisgemaakte lapsakke
B In die plastieksakkies wat ek van die huis af gebring het
C In dubbele plastieksakke wat ek saam met my goedere koop
2. Watter soort doeke dra jou baba?
A Omgewingsvriendelike weggooidoeke
B 'n Kombinasie van katoen en bioafbreekbare weggooidoeke
C Die beste weggooidoek op die mark
3. Hoe word jou wasgoed droog?
A Ek hang dit buite op die wasgoedlyn, nes my ma dit gedoen het.
B Ek gaan haal dit by die droogskoonmaker.
C Ek gooi dit in die tuimeldroër, hoe dan anders?
4. Hoe maak die kinders hul hande en mondjies ná ete skoon?
A Met klam katoendoeke in die kombuis
B Met servette van herwonne papier
C Met die fraaiste papierservette wat by ons eetgerei pas
5. Jou kind gaan soggens skool toe per ...
A Voet, aangesien ons 'n hanetree van die skool af woon.
B Fiets! Want sy het oefening nodig.
C Motor, want ek laai haar elke oggend op pad werk toe af.
6. As jy saans die battery van jou skootrekenaar gelaai het en almal se selfone gelaai is, haal jy al die laaiers uit die muurproppe?
A Getrou
B Soms
C Nooit nie; dit lyk of dit deel van die dekor is ...
7. Is jul verwarmers in die winter ...
A Altyd af, want jou gesin het die kuns al goed bemeester om hul klere in lae aan te trek?
B Altyd aan, maar op die laagste eenheid, want julle sit ook onder komberse?
C Permanent aan, want jou kinders moet te alle tye lekker snoesig en warm wees?
8. Jy het jou kinders geleer om telefoonboodskappe neer te pen op ...
A Jul uitveërbord net langs die telefoon - die kinders hou van die gekleurde penne!
B Ou papiere wat jy langs die telefoon neergesit het en wat later weggegooi kan word.
C Kleurryke Post-it-plakkers.
9. Waarin pak jy jou kind se skooltoebroodjies?
A Die oulikste plastiekhouers
B Herwinbare plastieksakkies in verskillende kleure en motiewe, want dis so gerieflik
C Foelie om dit vars te hou en wat hulle by die skool weggooi.
10. Waarop het jy koek voorgesit met die laaste verjaardagpartytjie?
A Oulike herwinbare papierborde
B Jou beste eetservies, wat agterna gewas moes word
C Swierige weggooibare plastiekborde wat by die tema gepas het
11. Jy was wasgoed ...
A Net sodra daar genoeg vuil klere is om in die wasmasjien te gooi.
B Volgens jou gereelde skedule en dit kan meer as twee keer per week wees.
C So gereeld dat dit vir jou gesin begin lyk asof die wasmasjien pal aan is.
Meestal A's
Jy is so groen dat mense dink jy is Fiona van Shrek! Jy is die soort vrou wat innoverend genoeg is om jou eie komposmengsel te maak van teesakkies, vrugte- en groenteskille, koffie, eierdoppe en talle ander afbreekbare stukkies afval en dit in jou tuin te gebruik. Wenk Plaas 'n baksteen in jou toiletbak en mors so minder spoelwater.
Meestel B's
Eisj, dis nie maklik om groen te word nie, maar jy is darem op die regte pad. Jy kan dinge verbeter deur energiebesparende gloeilampe te gebruik. As jy volgende keer inkopies doen, skryf jou inkopielys op ou papier neer en probeer die katoensakke gebruik wat by meeste winkels verkoop word. Wenk Vermy plastiek en wees ook op die uitkyk vir die "recycled"-ikoon wanneer jy produkte koop.
Meestal C's
Jy lê ver anderkant groen aan die teenoorgestelde kant op die kleurwiel! Dalk is jy nog nie oortuig dat die groen tendens belangrik of die moeite werd is nie. Maar dis hier om te bly - komaan, dis nou of nooit!















