Ouerskap

Lekker eet!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: Getty Images
Foto: Getty Images

DIE BESTE TYD VAN DIE DAG

Die beste tyd om jou baba haar eerste vaste maaltyd te gee, is in die oggend. Babas het soms 'n allergiese reaksie op kos. As jy haar saans voed en sy allergies reageer, gaan sy waarskynlik in die middel van die nag siek begin voel. Dis beter vir jou as jy nie tweeuur die oggend met 'n knieserige baba hoef te sukkel terwyl jy doodmoeg en half aan die slaap is nie. Kies ook 'n tyd wanneer baba nie moeg, olik of koliekerig is nie.

Vroeg in die dag is jy en sy albei meer ontspanne, energiek en vrolik - en gereed vir die groot stap. Gee jou baba se eerste maaltyd wanneer sy nie té honger is nie. Ja, jy het reg gehoor: wanneer sy nie té honger is nie. Sy moet natuurlik honger genoeg wees om te wil eet, maar nie flou van die honger nie. 'n Doodhonger baba wat dringend kos in haar maag wil kry, kan geweldig gefrustreerd raak tydens hierdie nuwe en onbekende maaltyd met allerlei vreemde goed soos lepels en borslappe.

Gee haar eerste vaste kos vir haar nadat sy 'n gedeeltelike melkvoeding gehad het. Gee 'n halwe melkvoeding, dan die vaste kossies en handel daarna die borsvoeding af. Deur jou baba gedeeltelik so te voed, kan jy ook verseker dat haar melkinname konstant gehou word. Jy kan ook die vaste kos halfpad tussen twee voedings gee wanneer sy net effens honger is.

DIE EETSTOELTJIE

Onthou: Veiligheid kom eerste. Talle kinders word beseer weens ongelukke in eetstoeltjies - maak dus seker dat jy die veiligheidswaarskuwings deeglik bestudeer. Moet jou kind nooit alleen in haar eetstoeltjie laat nie. Hierdie stoeltjies is net veilig wanneer 'n volwassene byderhand is om te verseker dat 'n energieke baba nie toertjies daarin probeer uithaal nie. Moet ook nie jou ouer kinders toelaat om in baba se eetstoeltjie te speel nie.

Hul gewig en manewales kan veroorsaak dat die stoeltjie omslaan en hulle seerkry. Nadat jou baba in haar stoeltjie geplaas is, moet jy altyd seker maak dat die skinkbordjie stewig vas is. 'n Los skinkbordjie hou gevaar vir jou baba in.

DIE EETPLEK

Rig 'n plek in jou huis in waar jy jou baba die meeste van die tyd kan voer. Babas hou van stabiliteit en voorspelbaarheid. Sy sal presies weet wat om te verwag as jy haar elke keer in dieselfde eetstoeltjie op dieselfde plek in die kombuis kos gee. Rig die plek so gerieflik moontlik vir julle albei in. Sit jou stoel voor jou baba s'n sodat jy in haar gesiggie kyk en met haar kan gesels.

DIE LEPEL

Baba se tandvleis is baie sensitief. Gebruik liewer 'n plastieklepel of een wat met rubber bedek is - dus 'n spesiale babalepel eerder as 'n metaallepel wat haar tandvleis kan irriteer.

Die lepel moet klein genoeg wees om maklik in jou baba se mondjie te pas. Dit moet ook vlak wees en geen skerp kante hê nie. Hoewel jou baba eers teen omtrent twee oud genoeg sal wees om 'n vurkie te gebruik, is dit dalk die moeite werd om nou reeds in 'n volledige eetstelletjie te belê.

DIE KOS SE TEMPERATUUR

Onthou dat jou baba se mondjie baie meer sensitief vir hitte is as jou eie - wees dus baie versigtig om die kos nie te warm te maak nie. Jou baba se kos moet matig warm wees. Borsvoedende babas is gewoond aan die temperatuur van borsmelk, wat dieselfde as jou liggaamshitte is. Babas sal heeltemal tevrede wees om hul eerste kos ook teen liggaamstemperatuur in te neem. Dis nie nodig om dit te verhit nie, maar as jy wil, kan jy dit vir 'n paar sekondes op die stoof of in die mikrogolf warm maak. Wees egter versigtig met die mikrogolf omdat dit nie altyd die kos eweredig verhit nie en die kos plek-plek baie warm kan word.

DIE HOEVEELHEID KOS

Vir jou baba se eerste maaltye is net 'n teelepel kossies genoeg. Onthou dat sy nie baie honger sal wees nie omdat jy haar reeds die helfte van haar melkvoeding gegee het. As jy haar tussen twee voedings kos gee, moet jy onthou dat dit waarskynlik minstens 'n uur vroeër is as waarop sy nog 'n voeding verwag.

DIE TEKSTUUR VAN DIE KOS

Baba se eerste kossies moet só vloeibaar wees dat dit maklik uit die lepel in haar mondjie kan invloei. Sy kan verstik aan kos wat te dik is. As jy winkelpap gebruik, maak dit lekker slap aan.

Borsmelk sal help om die kos 'n meer bekende smaak te gee. As jy gekookte patat, pampoen, ryp piesang of avokado gebruik, moet jy dit verpulp tot dit baie glad is en absoluut geen klonte bevat nie. Neem dan net 'n teelepel vol en meng dit met vloeistof tot dit van die lepel afloop. By jogurt hoef jy net 'n klein bietjie vloeistof te voeg.

WENK

Hoe rustig, vol vertroue en geduldig jy tydens maaltye is, gaan help bepaal hoe goed die maaltyd verloop.

OP JOU MERKE ...

Noudat jy alles vir baba se eerste maaltyd gereed het, moet jy jou reg instel. Besluit vooraf dat jy nie teleurgesteld of ongeluk- kig gaan wees as sy nie goed vaar met die eerste maaltye nie. Wees gereed om jou gesig vriendelik te hou, maak nie saak wát gebeur nie. Onthou ook dat babas glad nie dom is nie - hulle kan 'n geveinsde kalmte 'n myl ver ruik. Moet dus nie probeer voorgee jy is kalm nie. Wees eerder vooraf vasbeslote om nie gefrustreerd te raak as jou baba nie wil eet of die kos in jou gesig spoeg nie.

GEREED ... WEG!

Jy en jou baba sit albei gemaklik en jy het 'n glimlag op jou gesig. Jy het haar nou net 'n halwe melkvoeding gegee en sy is nog honger. Dis nou tyd om te begin. Sit 'n klein bietjie van die vloeibare kos op 'n teelepel (omtrent soveel soos 'n ertjie se grootte). Sit die lepel nou saggies op baba se onderlip neer en glip dit sagkens in haar mond in sodat dit bo-op haar tong lê.

Laat haar toe om die kos van die lepel af te suig. As sy dit nie wil doen nie, kan jy die lepel effens lig sodat die kos stadig in haar mondjie vloei. Jy kan ook probeer om die kos 'n bietjie dieper op haar tong te sit omdat sy geneig sal wees om haar tong vorentoe te stoot. Wees versigtig sodat sy nie stik nie.

GLIMLAG EN Sê "MMMMMM"

Onthou dat dit 'n nuwe ervaring vir jou baba is. Moenie jou teleurstelling wys as sy haar tong vorentoe stoot en die kos uitspoeg nie. Hoe jonger sy is, hoe langer sal dit duur voor sy leer sluk. Hoe nader sy aan ses maande is, hoe makliker sal dit wees. Hou aan om haar te voer vir solank as wat sy bereid is om saam te speel.

Glimlag vir jou baba en praat met haar terwyl sy eet. Hou aan om haar te voer tot die kos op is of sy haar gesiggie wegdraai of haar mond toehou wanneer sy die lepel sien kom. As sy nie goed op die lepel reageer nie of die hele tyd ongemaklik lyk, moet jy liefs die kos wegpak en eers weer 'n paar dae later probeer. Jou baba se gesondheid sal nie benadeel word as sy nie vandag nog vaste kos begin eet nie. Wees geduldig en moet haar nooit dwing om te eet nie.

Jy wil graag hê jou baba moet na haar maaltye uitsien. Probeer weer oor 'n paar dae en hou dinge ontspanne en aangenaam. As sy aanhou sukkel, kan jy jou bekommernisse met jou pediater bespreek.

WAT VAN DIE OORSKIET?

As die oorskiet met jou baba se spoeg in aanraking gekom het omdat die lepel uit jou baba se mond daaraan geraak het, moet jy die kos weggooi. Die ensieme in jou baba se mond sal aanhou om die kos in die bakkie te verteer en die belangrike voedingstowwe daarin afbreek sodat dit sleg word.

Die beste plan is om die een helfte van die kos vir baba te voer terwyl jy die ander helfte eenkant hou en vir latere gebruik vries as baba dit nie dadelik eet nie.

Moet geen babakos - hetsy gekoop of self gemaak - langer as twee dae in die yskas hou nadat jy dit oopgemaak het nie. Baba se kos kan bederf wees sonder dat dit noodwendig sleg ruik. Gooi dit liewer weg as jy enigsins twyfel of dit nog reg is.

WENK

Moenie groot hoeveelhede van 'n nuwe soort kos maak voor jy weet of jou baba daarvan sal hou en dit sal eet nie!

Vier maniere om te verseker baba se kos is veilig vir eet

1. Ontdooi en verhit enige vooraf gaargemaakte kos deeglik en laat die kos tot louwarm afkoel voor jy dit vir jou baba aanbied.

2. Was jou baba se bakkie en lepel in warm, seperige water. Hou aan om voedingsbottels en spene te steriliseer.

3. As jy voorafvervaardigde babakos vir jou baba gee, moet jy die oorskiet nie langer as 48 uur in die yskas hou nie. Gooi dit weg as jy dit nie voor dan gebruik nie.

4. Probeer om nie die kos in 'n mikrogolfoond te verhit nie omdat dit "warm kolle" veroorsaak. As jy wel die kos in 'n mikrogolf verhit, moet jy die kos behoorlik roer om warm kolle op te breek en die kos te laat afkoel. Van die voedingswaarde in die kos kan ook deur die gebruik van 'n mikrogolf verlore gaan; beperk dit dus tot die minimum.