Ouerskap

Magiese magietyd vir jou baba

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Getty/Gallo Images
Getty/Gallo Images

As jou baba gereeld op haar magie lê, versterk dit haar nek-, rug- en skouerspiere en help dit die romp, skouers en heupe stabiliseer. Jou kind leer om haar lyfie in die omgewing te beheer en dit help weer met balans, koördinasie en liggaamsbeheer, wat die grondslag van alle bewegings vorm.

Ons word al jare lank vertel dat die beste manier om wiegiedood te voorkom, is om baba op haar rug te laat slaap - en dit is waar. Maar dié veldtog was nie sonder sy nadele nie: studies het gewys babas wat op hul rug slaap, is geneig om motories stadiger te ontwikkel as babas wat op hul magie slaap. Rugslapers begin eers later sit, omrol en kruip.

Dié wat in hulle wakker tye meer tyd op hul maag deurgebring het, het egter heelwat beter gevaar in toetse van motoriese vaardighede as dié wat min of geen wakker tyd op hul maag was nie. Babas wat min op hul maag neergelê word, kan ook vir 'n korter tydperk kruip, wat middellynkruising beïnvloed.

Spring weg

Jou baba kan dit aanvanklik haat om op haar magie te lê - veral as sy nie van geboorte af gereeld so neergelê is nie - en sal luidkeels beswaar aanteken. Dis immers harde werk: as sy iets wil sien, moet sy haar koppie lig, iets wat glad nie nodig is as sy regop in 'n motorstoeltjie sit of op haar rug lê nie. Onthou dat dit haar nie seermaak om op haar magie te lê nie - sy hou net nie daarvan nie, want sy is dit nie gewoond nie en haar spiere het nog nie goed ontwikkel nie.

Probeer haar aandag aftrek met musiek, deur te gesels of met 'n speelding. As sy erg gefrustreerd raak, kan jy 'n opgerolde handdoek of kussinkie onder haar bors indruk (arms vorentoe) sodat sy makliker kan rondkyk. Sodra sy meer krag in haar bolyf ontwikkel, kan jy hierdie ondersteuning wegneem.

Die ideaal is om magietyd by jul normale roetine in te bou. Elke keer wanneer jy haar doek ruil, kan jy haar byvoorbeeld gou op haar magie neerlê. Vermy dit egter direk ná voedings, aangesien die drukking op haar maag kan veroorsaak dat sy melk opbring.

Vloertyd is bobaas

Met so baie geriefsmiddels soos elektroniese swaaie en wiegies, motorstoeltjies en drasakke waarin baba regop kan sit, gebeur dit maklik dat babas byna nooit op 'n kombersie plat op die vloer neergelê word nie. Die probleem is dat jou kleinding in hierdie geriefsmiddels eintlik bitter selde die geleentheid kry om die spiere van haar bolyf te oefen. Die posisie wat haar die heel meeste geleentheid gee vir spieroefening is op haar maag op die vloer.

Gooi 'n warm kombersie oop of sit haar op 'n interessante speelmat. Op die vloer kry sy kans om te reik en die wêreld om haar vanuit 'n ander hoek te beskou sodat haar aanvanklike frustrasie gou verdwyn namate haar spiertjies ál sterker word.

Wanneer?

Die Amerikaanse pediatrie-akademie sê magietyd kan al begin op die dag wanneer jou baba van die hospitaal af huis toe kom - so help jy haar daaraan gewoond raak. Plaas haar twee tot drie keer per dag vir kort rukkies op haar maag. Drie tot vyf minute is genoeg, veral as jou baba dit nie geniet nie.

Namate sy ouer en haar spiertjies sterker word, kan jy die tyd op haar magie ál langer maak en sal jy ook vind dat jou baba dit ál meer geniet.

Maak dit lekker. Sit jou baba neer op 'n kombers met helder kleure of interessante patrone wat sy kan bestudeer, of op 'n speelmat met teksture, kleure en vorms. Plaas 'n spieëltjie of vrolik gekleurde speelgoed voor haar. Dit sal haar aanmoedig om haar kop te lig en ouer babas om te strek tot hulle aan die speelding kan raak.

Speel gerus saam. Julle kan heerlike saamweestyd geniet - daar is niks lekkerder as 'n baba wat rustig op haar magie teen jou bors lê nie! Dit sal vir haar heerlik wees om na jou hartklop te lê en luister. Terwyl baba nog nie haar nekkie vir 'n lang ruk kan lig nie, kan jy langs haar lê en met haar gesels of vir haar sing. Speel met haar handjies, kyk in haar ogies. As sy ouer is en haar kop langer gelig kan hou, lê gesig teen gesig voor jou kleinding. Sy sal haar kop lig om vir jou te kyk. Verander van posisie om haar aan te moedig om haar kop te beweeg.

Hoe gemaak?

Jy kan jou baba uit die staanspoor op haar magie op 'n kombers laat lê. Sy sal dalk baie kla; moet haar dus nie te lank op 'n slag so laat lê nie - vyf tot 10 minute elke dag is vir eers genoeg.

'n Makliker alternatief is om self plat op jou rug met jou baba op jou bors lê. Jy kan haar ook die eerste paar weke op haar magie dwarsoor jou skoot laat lê terwyl jy regop sit.

Vanaf sowat drie maande is haar nek al sterker en sal sy haar kop kan oplig en draai. Ideaal gesproke moet jou kleinding teen drie maande elke dag altesaam 'n uur magietyd hê. Hoe meer gewoond sy daaraan raak, hoe langer kan jy die tyd op die vloer maak.

Magietyd versterk nie net jou baba se spiere nie; navorsers reken die vryheid wat dit jou kleinding bied om die wêreld om haar te ontdek, stimuleer ook haar breinontwikkeling. Sit 'n speelding voor of langs jou kind neer sodat sy haar kop moet oplig om daarna te kyk en later daarna sal reik. Jy kan ook daar gaan lê. As baba reeds stabiel genoeg is om gewig van een hand na 'n ander te verplaas, kan jy speelgoed op 'n plek sit waar sy daarna kan gryp. Sodra sy meer beweeglik word, kan jy die speelgoed in 'n sirkel om haar uitpak - net buite haar bereik, sodat sy haar lyf moet manipuleer om dit by te kom.

HET JY GEWEET?

Al is magietyd belangrik vir jou kleinding se ontwikkeling, moet jy nie in die versoeking beland om hom so te laat slaap nie. Dit verhoog die risiko vir wiegiedood aansienlik. Moenie jou baba alleen laat terwyl hy op sy magie lê nie.

Mylpaal

Jou baba se ontwikkeling vind van sy kop af ondertoe plaas en een van die belangrikste mylpale wat hy moet baasraak, is om sy koppie teen die swaartekrag regop te hou. Teen sowat drie maande oud het hy beter kopbeheer en behoort hy sy kop teen 45 grade te kan lig en dit sywaarts te kan draai terwyl hy lê.

Teen sowat vier maande behoort hy sy kop 90 grade van die grond af te kan lig in 'n maagliggende posisie en sy kop regop te hou terwyl hy op sy elmboë leun. Teen om en by vyf of ses maande oud is sy skouertjies al sterk en stabiel. Hy kan hom op sy arms opstoot en sy arms gebruik om uit te reik na speelgoed langs of voor hom. Hy sal ook om sy eie as begin draai en begin omrol. Teen agt maande kan hy begin kruip.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM