Mary Poppins het die medisyne makliker laat afglip met 'n lepel vol suiker, maar vir hedendaagse ma's is dinge nie altyd so eenvoudig nie. Lees hier hoe jy verskillende soorte medisyne moet toedien - en hoe om dit sommer woeps-waps gedoen te kry.
STROPE MET 'N INSPUITING
Sonder die naald natuurlik! Hierdie metode gee jou maksimum beheer. Trek die korrekte hoeveelheid medisyne in die spuit op. Druk die spuit tussen jou baba se tandvleis en wang in sodat sy nie sommer die medisyne kan proe en uitspoeg nie en spuit dit stadig by haar mond in.
As jou baba ouer as 'n jaar is en teëstribbel, kan jy dié metode probeer: Plaas die spuit met die regte hoeveelheid medisyne langs jou op die tafel. Hou jou kind op jou skoot sodat sy na jou toe kyk met haar bene weerskante van jou lyf.
Leun haar agtertoe oor jou bobene sodat haar kop oor jou knieë afhang en effens laer as jou lyf is.
Gebruik jou arms om haar arms weg te hou en ondersteun haar kop met jou een hand. Druk dan met die ander hand die spuit tussen haar tandvleis en wang in en spuit klein hoeveelhede op 'n slag terwyl jy in haar gesig blaas. Hou aan tot die spuit leeg is.
IN BABA SE BOTTEL
Haal die bababottel se speen en ring af en laat haar daaraan suig. Vul 'n spuit met die korrekte hoeveelheid stroop. Spuit die stroop terwyl sy suig in die speen sodat sy die medisyne suig en sluk.
Daar is ook spesiale miniatuurbotteltjies met medisyne- afmetings soos die dinky feeder wat jy kan inspan om jou baba medisyne uit 'n bottel te laat drink.
MEDISYNEDRUPPER
Suig die medisyne met die druppertjie op. Hou jou kind op jou skoot met haar koppie effens agteroor sodat die medisyne vanself na agter kan vloei. Druk die drupper aan die kant van haar mond teen haar wang en drup die medisyne in haar mond.
TEELEPEL
Teelepels is nie 'n goeie keuse vir babas nie, maar werk gewoonlik goed vir ouer kinders. Maak net seker jy gebruik 'n regte medisynelepel met korrekte afmetings en nie 'n kombuisteelepel wat nie noodwendig die regte volume bevat nie. Die ideaal is 'n holsteel-lepel waar jy die medisyne in die steel afmeet en net vorentoe laat vloei sodra jou kind dit moet drink.
FOPSPEEN
Daar is deesdae oulike medisyne-fopspene te kry. Kies een wat maklik skoongemaak kan word en 'n meganisme het waarmee jy die medisyne vorentoe kan "stoot" as baba dit nie wil uitsuig nie.
Giet die medisyne volgens afmetings in die fopspeen en plaas dit in jou baba se mond. As sy suig, sal die medisyne outomaties in haar mond kom. So nie, kan jy dit stadig by haar mondjie instoot.
SETPILLE
Setpille is pynloos, word maklik toegedien en werk baie vinnig. Dis veral 'n goeie plan vir 'n kind wat braak, slaap of weier om medisyne te drink.
DOEN DIT SO:
Was jou hande. Laat jou kind op haar rug lê. Lig haar beentjies soos wanneer jy haar doek sou ruil (met haar knieë bo-op haar magie gebuig) en druk die setpil met die skerp punt eerste sagkens by jou kind se anus in. Moet dit nooit indwing nie. Hou jou kind se boudjies 'n minuut of wat teen mekaar.
WENKE
- Smeer 'n bietjie petroleumjellie aan die setpil om dit makliker te laat inglip.
- In warm weer kan jy die setpil vooraf in die yskas sit sodat dit nie te sag is wanneer jy dit wil gebruik nie. As dit te koud is, kan jy dit tussen jou hande warm maak.
- Onthou dat die inplaas van 'n setpil kan veroorsaak dat jou kind 'n stoelgang het. As dit dadelik gebeur nadat jy die setpil ingeplaas het, plaas weer een in. As dit eers 'n paar minute later gebeur, bel jou apteker en vra raad.
NEUSDRUPPELS
Was jou hande. Laat jou kind haar neus sagkens blaas. Vul die drupper met die medikasie en laat sy met haar kop agteroor sit. Druk die drupper sowat 5 mm by die neus in en drup die voorgeskrewe aantal druppels in die neus.
Laat jou kind twee minute so sit. Herhaal die prosedure in die ander neusgat. As jy 'n neussproei moet gee, doen dieselfde as hierbo, maar spuit die sproei in die neus en laat jou kind dan deur haar neus en mond inasem.
OOGSALF
Doen dieselfde as met oogdruppels (kyk regs bo), maar druk die salf in die "sakkie". Pleks daarvan dat jy druk op jou kind se neusbrug uitoefen, moet jy haar vra om haar oë te rol terwyl dit toe is sodat die salf oor die oog versprei. Verwyder oortollige salf met 'n sneesdoekie.
WENK
As jy oogdruppels sowel as oog-salf moet toedien, gee die oogdruppels eerste en die salf vyf minute later.
OOGDRUPPELS
Was jou hande deeglik. Hou jou kind se kop effens agteroor. Trek die onderste ooglid met jou ringvinger en duim weg van die oog sodat dit 'n "sakkie" vorm en laat jou kind na jou opkyk. Drup die medisyne in die "sakkie" en laat jou kind haar oog toemaak.
Moenie dat sy haar oë knip nie. Hou die oog toe en oefen een of twee minute lank saggies druk op die neusbrug uit. Dit sal die medisyne langer in die oog hou.
WENKE
- Moenie dat die punt van die aanwender aan die oog raak nie om besmetting van die oogdruppels te voorkom.
- Wag vyf tot 10 minute tussen toedienings as meer as een soort medikasie nodig is.
OORDRUPPELS
Was jou hande. Laat jou kind op haar rug op die bed lê en laat sy haar kop weg van die seer oor draai. As sy onder drie jaar oud is, trek die vlesige deeltjie van haar oor effens af en terug om die oorkanaal reguit te trek. As sy ouer is, kan jy dit boontoe en terug trek.
Hou die medisynedrupper in die ander hand en as dit nodig is, kan jy ook jou voorarm oor jou kind se kop rus om beweging te voorkom. Druk die punt van die druppertjie net-net in haar oor en druk die druppels uit.
Laat jou kind 'n rukkie so stil lê sodat die druppels tyd het om deur die kanaal te beweeg. Pas effense druk toe op die deel net voor die oorkanaal (tussen die kaak en die oor) om die druppels afwaarts te druk.
WENKE
- Hou die botteltjie 'n paar minute tussen jou hande om dit warm te maak sodat die druppels nie so koud in jou kind se oor is nie.
- Moenie dat die punt van die aanwender aan haar oor raak nie om te voorkom dat die oordruppels besmet word.
KAPSULES
Klein kindertjies kan nie kapsules heel sluk nie en die inhoud van 'n kapsule is gewoonlik baie sleg. Bespreek jou keuses met jou apteker - hy sal dalk aanbeveel dat jy die kapsule oopmaak en dit met kos meng.
Bêre medisyne altyd buite bereik van kinders
PRAKTIESE WENKE
- Vra jou dokter vir 'n meer gekonsentreerde vorm van medisyne sodat jy kleiner hoeveelhede op 'n slag hoef te gee.
- Vra jou dokter om lekkerder medisyne voor te skryf indien moontlik.
- Verduidelik vir ouer kinders hoekom dit nodig is dat hulle die medisyne drink.
- Moenie te veel van 'n drama maak van medisyne gee nie. Kies waar moontlik koutablette vir 'n ouer kind eerder as stroop.
- Moenie jou kind se medisyne met kos of vloeistowwe meng nie, tensy die dokter of apteker gesê het dit is reg so.
- Lees altyd die etikette en maak seker die dosis wat jy jou kind gee, is korrek en dat jy nie twee dosisse te kort ná mekaar toedien nie.
- Maak eers seker of die medisyne geskud moet word voor jy dit toedien.
- Bêre medisyne altyd buite die bereik van kinders.





















