Net voor die geboorte van jou baba het jy nog gedroom hoe jy by jou vriendinne spog met jou stroopsoet aapstert wat heeldag ruik asof sy nou net uit die bad kom. Maar nou voel jy of die werklikheid jou deur die gesig kom klap het, want jou baba huil dag en nag sonder rede en ruik oomblikke ná badtyd weer na suur melk.
Jy is nie alleen nie. Die helfte van babas jonger as drie maande spoeg elke dag. Dis natuurlik waarom pa's en ma's met klein babatjies éérs die spoegdoek optel en dán die baba. As jy voel dat jou baba 'n bietjie meer spoeg as ander, moet jy verder lees sodat jy kan oordeel wanneer dit 'n probleem is, en wanneer jy maar net nog 'n ruk langer geduldig moet wees.
Wat is refluks?
Wanneer melk of kos wat in die maag is tot in die slukderm opstoot, noem ons dit refluks. Regurgitasie ontstaan wanneer hierdie teruggespoelde melk tot in die mond stoot en selfs by die mond uitkom.
Refluks is niks ongewoons nie. Gesonde babas, kinders en grootmense kom dit normaalweg sommer 'n paar keer per dag oor; gewoonlik ná ete. Die meeste mense weet nie eens dat dit gebeur nie.
Regurgitasie is meer algemeen by babas omdat hul slukdermpie nog kort is, maar kom teen sowat 12 maande vanself reg.
As 'n baba se liggaam hom nie self teen die gewone uitwerking van refluks kan beskerm nie, ontstaan reflukssiekte. Dit beteken dat die refluks meer gereeld is en langer duur as gewoonweg en dan probleme veroorsaak.
Refluks en regurgitasie is dus normaal en jy hoef nie dokter toe te gaan nie, maar reflukssiekte moet behandel word. As jou baba spoeg, maar mooi groei en gelukkig is, is daar niks om oor bekommerd te wees nie.
Dokter toe
Jou dokter sal vra wanneer die gespoeg begin het, hoeveel dae dit voorkom en hoeveel keer per dag. Hulle sal ook jou baba se groei nagaan, uitvra oor voedings en soek na tekens van infeksie in die slukderm.
Vertel die dokter van enigiets anders wat jy opgelet het, soos as jou baba bloed opbring, donker stoelgange het, meer as gewoonlik huil, moeilik asemhaal, koors het of lusteloos is. In sommige gevalle sal die dokter jou baba laat opneem om toetse te doen wat sal help vasstel of die refluks normale perke oorskry.
Hoe om jou baba te help
Of jou baba nou reflukssiekte het of net baie spoeg maar steeds gelukkig is, is daar tog 'n paar goed wat jy kan doen om te help.
Winde kan die melk maklik laat uitkom. Vryf windjies gedurende en ná voedings versigtig uit sonder om druk op haar magie te sit. Laat haar op jou been sit eerder as dat sy oor jou skouer hang en vryf haar ruggie.
Hou jou baba direk ná 'n voeding sowat 'n halfuur lank so stil as moontlik en regop. Ruil haar doek dus liewer voor 'n voeding as agterna, en maak seker dat die doek nie te styf om haar magie span nie.
Die refluks kan minder wees as sy op haar maag pleks van haar rug lê. Moet jou baba egter nooit op haar maag of sy laat slaap nie, want dit verhoog die gevaar van wiegiedood. Magietyd terwyl sy wakker is, is veilig. Belê in een of twee skuins kussings waarop jou baba kan slaap om haar bolyf op te lig.
'n Karstoeltjie is ook nie die beste plek vir 'n baba met refluks nie, aangesien die posisie waarin jou baba is refluks aanmoedig. Hou haar dus net in die karstoeltjie terwyl julle ry en nie ander tye nie.
As jou baba bottel drink en spoeg, maak seker dat jy nie te veel melk op 'n slag gee nie.
Hoe weet 'n mens jou baba het reflukssiekte?
Een van die algemeenste tekens van reflukssiekte is gereelde regurgitasie, oftewel 'n baba wat baie spoeg. Dit alleen beteken egter glad nie dat sy reflukssiekte het nie. As die gereelde gespoeg veroorsaak dat jou baba nie genoeg gewig aansit nie, infeksie in haar slukderm kry of soveel pyn het dat sy buitengewoon baie huil of selfs voedings weier, het sy reflukssiekte. 'n Baba met reflukssiekte kan ook baie prikkelbaar wees, hoes of haar ruggie krom trek van die pyn. Alle babas met reflukssiekte spoeg egter nie en dit kan dus gebeur dat sy nooit spoeg nie en tog hierdie komplikasies ontwikkel. Ongelukkig is al die simptome van reflukssiekte nie-spesifiek en kan dit ook as gevolg van ander toestande ontstaan. As ma kan jy dit dus nie self diagnoseer nie. As jy vermoed jou baba het reflukssiekte, moet jy liewer 'n pediater raadpleeg.
Moet jy ander melk gee?
Dit kan 'n mens moedeloos maak as jou baba nou net al jou melk gedrink het en alles oomblikke later uitkom. Dit help om 'n eetlepel vol melk op die kombuiskas uit te gooi - jy sal sien dat dit dalk na baie lyk, maar eintlik nie te veel is nie.
Die hoeveelheid wat jou baba spoeg lyk gewoonlik vyf keer meer as wat dit is. Al lyk dit dus of sy alles opgegooi het, is dit waarskynlik net 'n bietjie.
Een van die eerste dinge wat jy kan verander is om minder melk op 'n slag te gee, maar meer gereeld. Gee melk op aanvraag, soos 'n bietjie elke twee uur pleks van groter hoeveelhede elke vier uur.
In sommige gevalle kan 'n koeimelk- allergie regurgitasie veroorsaak. As jy borsvoed en jy vermoed koeimelkallergie is die probleem, kan jy twee tot vier weke lank alle suiwel uit jou dieet skakel en kyk of die spoegery afneem.
Vroue wat nie borsvoed nie, sal 'n spesiale borsmelkvervanger moet gebruik om dieselfde toets te doen. 'n Dieetkundige kan daarmee help. As dit nie beter word nie, is suiwel nie die oorsaak nie en kan dit weer ingesluit word.
As jou baba reflukssiekte het, kan dit help om voedings te verdik. Die maklikste manier is om 1 eetlepel ryspap by 30 ml melk te voeg. Doen dit net voor die voeding omdat die ensieme in die borsmelk dit ná 'n paar minute weer dun sal maak. As jou baba reeds 'n borsmelkvervanger drink, kan jy 'n spesiale antiregurgitasie- (AR-) soort oorweeg.
Verdikte melk help dat minder melk by jou baba se mond uitkom omdat dit nie so hoog in die slukderm kan opbeweeg nie. Navorsing wys egter dat die melk nie minder gereeld in die slukderm opstoot nie, en die suur melk kan selfs langer in die slukderm bly. Dit gaan dus nie in alle gevalle die probleem oplos nie. As die slukderm te veel gebrand word, sal die dokter medisyne voorskryf wat die suur in die magie verminder sodat die melk wat opstoot, nie so brand nie.
Hou moed
Die meeste babas wat spoeg, is geluk- kig en sonder probleme. Net 'n klein persentasie ontwikkel reflukssiekte, die ander moet net vasbyt! Dit is nie altyd maklik vir jou as ma nie, maar met genoeg ondersteuning sal jy maklik daardeur kom. Gaan drink tee saam met ander ma's wat ook babas het wat baie spoeg. Net die wete dat iemand anders dieselfde as jy deurmaak, sal wondere vir jou gemoed verrig. Wanneer jou baba begin eet, sal sy heelwat minder spoeg. Dit voel dalk nou soos 'n ewigheid, maar hierdie tyd van spoeg gaan sommer vinnig verby.
Nog hulp
Raadpleeg gerus 'n dieetkundige as jy hulp met enige aspek van jou baba se voeding nodig het. Gaan na www.adsa.org.za om iemand in jou omgewing te vind.




















