Ouerskap

NUWE BABA | Sorg só vir jou pasgeborene se naelstringstompie

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Getty Images
Getty Images

As jou baba eers gebore is, het sy nie meer haar naelstring - wat voedingstowwe en suurstof aan haar verskaf het - nodig nie.

Kort ná jou pienkvoet se geboorte word haar naelstring geklamp en naby haar naeltjie gesny. Voor hy dit gesny het, het die dokter dit op twee plekke vasgeklamp om die bloeding tot die minimum te beperk. Die klamp word net so gelos tot die string verdroog het, gewoonlik een tot twee dae later. Wanneer dit verwyder word, is daar soms effense bloeding.

Jy en jou baba sal geen pyn ondervind wanneer die naelstring geknip word nie omdat dit geen senuweepunte het nie. Die stompie wat oorbly, is 'n deel van die naelstring wat ná 'n ruk uitdroog, afval en jou baba se naeltjie agterlaat. Dit is belangrik dat dié stompie deeglik versorg word tot dit afval. Dít gebeur gewoonlik in omtrent die eerste 10 dae ná geboorte.

VERSORGING

Die kleur van jou baba se stompie verander van geelgroen na bruin en swart voor dit eindelik afval. Tot dit gebeur, moet jy die volgende doen.

1. Hou dit skoon. Die stompie van die naelstring sal gou genees as jy dit uitlos, maar as dit per ongeluk vuil word, kan jy dit afspoel en 'n wattepluisie in ontsmettingsalkohol doop (onthou om die oortollig vloeistof uit te druk) en dit dan daarmee skoonvee. Herhaal met nog 'n stukkie watte, maar vee nou onder die stompie skoon. Dis egter nie nodig om soos in die ou dae die stompie elke dag te ontsmet nie. Selfs in hospitale word droë sorg deesdae verkies.

2. Hou dit droog. Stel die stompie aan lug bloot net wanneer jy kan. As dit warm is, kan jy vir jou baba 'n doek en T-hemp aantrek sodat lugsirkulasie om die stompie aangemoedig word. Vou die bokant van jou baba se doek aan die voorkant terug sodat dit nie teen die stompie skuur nie en dit aan lug pleks van urien blootgestel is.

3. Boudjies en bokant. Probeer om jou baba in dié tyd nie ten volle te bad nie. Hou by 'n sponsbad sodat die stompie droog bly, maar moenie stres as dit 'n bietjie nat word nie.

4. Laat die stompie self afval. Moenie aan jou baba se stompie trek nie, selfs al hang dit net aan 'n draadjie. Dit sal vanself afval en wanneer dit gebeur, het sy naeltjie dalk nog nie heeltemal genees nie. Dit kan dalk effens bloei en 'n dag of wat teer wees. Soms bly 'n paar stukkies knoetserige weefsel agter nadat die naelstring afgeval het. Dit kan mettertyd verdwyn, maar moet moontlik deur 'n dokter behandel word.

MEER AS 'N NOODLYN

Jou baba se naelstring en die bloed daarin kan help met die behandeling van siektes wat sy dalk later in haar lewe kan ontwikkel danksy die stamselle wat daarin voorkom. Stamselle is die oerselle van die liggaam - selle waaruit alle ander selle met gespesialiseerde funksies geskep word. Dié gespesialiseerde selle voer spesifieke funksies uit en word mettertyd die bloed, hartspiere en beendere. Hierdie selle word uit jou baba se naelstring getrek en gevries om te dien as versekering teen sommige toekomstige siektes soos bloedkanker. Gaan na netcells.co.za of cryosave.co.za om meer uit te vind.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM