Ouerskap

PEUTER | Raad met tandeborsel

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Getty Images
Getty Images

Stel jou voor 'n fliek waarin die held se tande nie pragtig skitterwit is nie, maar vrot met selfs hier en daar een weg? Of 'n nuusleser van wie die gebit nie eweredig en wit is nie? 'n Mooi, goed versorgde stel tande is ononderhandelbaar vir 'n aantreklike voorkoms. Natuurlik is jou asjas se tande in jou toekomsdrome vir hom net so pragtig, perfek en skitterwit soos dié van enige televisieheld, maar dit sal ongelukkig net 'n werklikheid word as jy nou reeds jou deel doen om 'n gesonde tandesorgroetine by hom te vestig - wat soms makliker gesê as gedaan is, veral met 'n woelige peutertjie! Hier is kenners se beste raad.

0 tot 18 maande

Jou kleinding se tandesorg begin eintlik reeds voor sy eerste tandjies 'n verskyning maak, sê dr. Ronel Podde, 'n tandarts van Pretoria wat in kinders spesialiseer. "Voor die verskyning van enige tand moet die tandvleis en tong elke oggend en aand met 'n nat waslappie of watte afgevee word."

Sodra die eerste tandjie verskyn, word goeie mondhigiëne nóg belangriker. Die tandjies kan ook met 'n nat waslap afgevee word, of 'n klein tandeborsel kan gebruik word - eers sonder tandepasta, dan met tandepasta sonder enige fluoried. Dis omdat baba die tandepasta sal insluk en dit fluorose kan veroorsaak - 'n toestand waar wit vlekke vorm op die ontwikkelende tande as gevolg van 'n te hoë inname van fluoried.

18 maande en ouer

Vanaf sowat 18 maande behoort ouers 'n klein tandeborsel te gebruik om hul kind se tande mee te borsel, sê Ronel.

"Laat jou peuter met die tandeborsel in sy mond speel om gewoond te raak aan die gevoel daarvan. Jy moet egter self die eintlike borselwerk doen en 'n sirkel-borseltegniek gebruik." Jy moet ook nou jou peuter se tandjies begin vlos, beklemtoon sy. "Hy sal nie self sy tande skoon genoeg maak nie en julle moet dus nog volle verantwoordelikheid daarvoor aanvaar. Hierdie roetine moet twee keer per dag herhaal word."

Ronel verduidelik dat vlos noodsaaklik is omdat 'n tandeborsel nie tussen die peuter se tandjies kan skoonmaak nie. 'n Groot persentasie van tandbederf tussen die tande vorm as gevolg van kos en plaak wat nie deur vlos verwyder word nie.

" 'n Tand het vyf kante wat skoon gehou moet word: die bovlak, die twee kante en die dele tussen die tande. Met 'n tandeborsel kan ons slegs die bovlak en die twee kante skoon hou. Vlos is verantwoordelik vir die skoonmaak van die dele tussen die tande."

Maar hoe kry jy 'n eenjarige se tande gevlos? Die Johannesburgse kindertandarts dr. Angela Gilhespie, skrywer van die boek The ABC's of Children's Teeth, vertel sy het gevind hoe vroeër sy haar kinders se tande begin vlos, hoe makliker was dit. Ouer kinders bied dikwels meer weerstand teen nuwe gewoontes.

Die volgende metode het baie goed vir haar gewerk: Maak dit 'n troeteloomblik saam met jou kind. Laat jou japsnoet op haar rug op die bed lê met haar kop op 'n kussing bo-op jou bene of skoot terwyl haar bene tussen joune lê. (Jy kan ook in hierdie posisie haar tandjies met 'n elektriese tandeborsel borsel. Moenie dan water gebruik nie - gebruik net 'n droë smeersel tandepasta.)

Laat sy haar mondjie oopmaak en vlos versigtig tussen haar tande. Jy kan die vlos met 'n effense saagbeweging tussen die tandjies inkry (maar maak seker jy beskadig nie die tandvleis nie) en dan die vlos in 'n C-vorm om elke tandjie vou terwyl jy dit so drie keer op en af beweeg om die plaak af te skraap. Doen dit met elke tand. Verwyder weer die vlos met 'n ligte saagbeweging.

Elektriese tandeborsels borsel vinniger en doeltreffender - en dis meer pret.

Vrot se vriend

Seker een van die grootste probleme is die gebruik van drankies wat suiker bevat om babas aan die slaap te maak.

"Die aanhoudende gebruik van 'n bottel gevul met melk, suikerwater, versoete drankies of vrugtesap lei tot ‘bababottelsindroom,' " verduidelik Ronel.

"Dit ontstaan wanneer al die voortandjies wat bo uitgekom het, slegte plekke ontwikkel. Dit gebeur omdat die voortandjies heeltyd blootgestel word aan vloeistowwe wat baie suiker bevat en tande laat sleg word.

"Dit lei tot die vorming van plaak en verhoog die suur in jou kind se mond, wat baie vinnig tandbederf veroorsaak."

Sy beveel aan dat jy in die heel laaste bottel net water skink sodat daar geen suiker in jou baba se mond is wanneer hy aan die slaap raak nie. Verwyder dan die bottel sodra baba slaap.

"Vermy ook medisyne met 'n hoë suiker- inhoud. En hou so gou moontlik op om vir jou kind 'n bottel te gee, verkieslik tussen 12 en 15 maande," is Ronel se raad.

Angela waarsku ook teen te veel sap, selfs al is dit verdun, omdat dit so 'n hoë suurinhoud het.

Hoe lank moet ek borsel?

Jy behoort jou kind se tande twee minute lank te borsel, dus 30 sekondes per kwadrant, sê Ronel. "Die mond word in die middel bo en die middel onder in vier dele gedeel, dus is daar vier kante wat elk 'n kwadrant genoem word."

Wat van grootmens-tandepasta?

Kinders tot en met vier jaar behoort tandepasta sonder enige fluoried (wat jy in grootmens-tandepasta kry) te gebruik.

Ronel verduidelik waarom: "Fluorose (kyk op die oorkantste bladsy) ontstaan baie maklik tussen twee en vier jaar oud. Peuters van dié ouderdom sluk die meeste van hul tandepasta in en kan as gevolg daarvan te veel fluoried inkry.

"As fluoried-tandepasta wel gebruik word, moet 'n spikkel net so groot soos 'n ertjie op die tandeborsel geplaas word."

Moet ek fluoriedpilletjies gee?

Dit is baie belangrik om eers doodseker te maak dat jou kind nie reeds genoeg fluoried inneem deur fluoriedbevattende water, kos of formulemelk nie, sê Ronel. "Fluoriedpilletjies soos Zymafluor of Listerfluor word ingeneem en kan slegte gevolge soos fluorose hê.

"Die hoeveelheid fluoried wat in die water voorkom in die omgewing waar jy bly, kan by die munisipaliteit nagegaan word, want dit verskil drasties van streek tot streek."

Praat met jou tandarts daaroor.

Wanneer moet my kind die eerste keer tandarts toe gaan?

Jy behoort jou kind tandarts toe te neem terwyl daar nog niks met sy tande verkeerd is nie, is Ronel se raad.

"Dit sorg dat die eerste besoek aan die tandarts 'n vriendelike besoek is en dat jou kind sien hy hoef nie bang te wees nie. Die eerste besoek word aanbeveel sodra die eerste tandjie verskyn het."

Moet ek my peuter se tande by 'n tandarts laat verseël?

'n Eenvoudige manier om slegte plekke bo-op tande te voorkom is om 'n fissuurseël aan te bring, sê Ronel. " 'n Fissuurseël verseël die kou-oppervlakke. Dit maak die groewe in die tande dus vlakker sodat geen kos of bakterieë daarin kan beland nie, en dis makliker om skoon te hou omdat dit vlakker is.

"Fissuurseëls is egter omstrede. Omdat 90 persent van kinders onder 18 wel die een of ander vorm van tandbederf het, moet elke kind geëvalueer en die nodigheid van 'n fissuurseël bepaal word. Die tandarts sal die besluit neem, maar geskikte kandidate is dié kinders wat klaar slegte plekke op enige van hulle groot agtertande het, of kinders wat 'n diep fissuur het waar kos kan vashaak wat moeilik met 'n tandeborsel verwyder kan word. Fissuurseëls word afgeskraap namate ons eet, dus is dit belangrik dat die seëls met elke sesmaande-ondersoek bekyk word."

Omdat 90% van kinders onder 18 wel 'n vorm van tandbederf het, moet die tandarts individueel besluit of 'n kind 'n tandfissuur nodig het.

Elektriese tandeborsel?

Hou jou kind nie van tande borsel nie? "Skaf 'n elektriese tandeborsel aan," sê die Pretoriase tandarts dr. Ronel Podde. "Kinders vind dit snaaks en interessant en borsel so makliker tande. Elektriese tandeborsels se borselkoppies is ook baie klein en so word moeiliker toeganklike dele geborsel. Dit draai verder teen 3 000 omwentelinge per minuut, iets wat die hand nie kan doen nie, en is dus baie doeltreffender."

Borsel jy reg?

  • Borsel die voorkant of buitekant (lipkant) van al die tande met klein sirkelvormige bewegings.
  • Borsel bo-op die tandjies in vorentoe-agtertoe-bewegings.
  • Borsel die binnekant van die tandjies (tong) weer met klein sirkelbewegings.
  • Borsel jou kind se tong omdat daar baie plaak op die tong self voorkom wat 'n slegte reuk of smaak tot gevolg kan hê.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM