Kraam is harde werk en dit sou onwys wees om dit sonder beplanning aan te pak. As jy jou liggaam en gees voorberei en sorg vir 'n paar hulpmiddels wat die sintuie streel, verbeter jy jou kans dat die groot dag vlot verloop. Die Johannesburgse vroedvrou Tina Otte, deel 15 wenke vir 'n positiewe ervaring.
1. Drink water
Ontwatering kan die kontraksies van jou baarmoeder baie seerder maak. As jy tydens die bevalling begin ontwater, sal dit die proses ook onnodig uitrek. Probeer om iets te drink wanneer jy dors is. As jy nie dors is nie, neem in elk geval gereeld klein slukkies water. Jy kan ook ysblokkies of ysies suig.
2. Beweeg, beweeg
Die bed is die laaste plek waar jy wil wees, tensy jy daar móét wees. As jy in verskillende posisies regop en aan die beweeg bly, help jy die kraamproses om te verloop soos dit moet. Maak gebruik van swaartekrag - dis immers gratis! Die gewig van jou baba op jou bekken terwyl jy in 'n regop posisie is, sal die bekkenbene aanmoedig om oop te maak.
As jy hurk, gaan dit nóg meer help. Beproef verskillende posisies soos hurk of handeviervoet, of leun teen iemand wat jou ondersteun - die voordele is groot. Wissel jou posisie af en bly aan die beweeg. Beweging help om die pyn te laat verdwyn. Maak geluide en kreun met mening. Dit help met die vrystelling van endorfiene, wat goed is vir jou baba ook.
3. Maak plek vir baba
Sorg dat jou blaas en ingewande leeg is. 'n Vol blaas kan besonder ongemaklik wees tydens swangerskap en veral ook wanneer jy kraam. Dit kan die bevalling terughou en jou pyn vererger. As jou maag nie gewerk het nie, kan jy gerus vra vir 'n dermspoeling vooraf. Dis werklik 'n goeie idee. 'n Leë rektum beteken daar is meer plek vir jou baba om te beweeg en dit gee jou ook die gemoedsrus dat daar nie ietsie anders saam met die baba "gebore" word nie.
4. Positiewe houding
Hoe jy dink terwyl jy kraam, kan 'n groot verskil maak aan hoe jy dit hanteer. Aanvaar dat dit harde werk gaan wees en dat dit seer gaan wees, maar glo ook dat die pyn maklik hanteerbaar is. Leer al die vaardighede wat jou kan help om dit te oorkom, van massering, akupunktuur en posisionering tot asemhaling en ontspanning. Gee jou oor aan die proses en moenie daarteen baklei nie. Dink aan die pyn as iets positiefs wat jou baba aan jou gaan gee, nie 'n negatiewe ervaring wat op 'n probleem iewers dui nie.
5. Klim in die water
Water het ongelooflike pynverligtingskragte. Gebruik water om jou te streel en kalmeer tydens die kraamproses. Maak seker die bad is diep genoeg sodat jy voel of jy dryf. Hoe dieper jy kan wegsak, hoe meer doeltreffend is die pynverligting. As jy nie 'n spesiale geboortebad het nie, gebruik jou eie bad. Selfs 'n stortkop wat op jou onderrug gerig word, kan rugpyn verlig.
6. Teetyd
Framboosblaartee en ander homeopatiese middels kan die serviks help voorberei en jou baarmoeder gereedmaak. Studies toon dat vroue wat dié tee tussen 32 en 35 weke van swangerskap drink, 'n korter tweede stadium van kraam deurmaak en minder dikwels geboorte-ingrypings nodig het. Moet dit egter nie voor 32 weke drink nie.
7. Luister musiek
Musiek kan jou meesleur na 'n ander plek en tyd. Dit trek jou aandag af, laat jou ontspan en hou jou brein besig terwyl jy luister.
8. Dra gemaklike klere
'n Oorgroot T-hemp waaroor jy nie heilig is nie, sal jou meer gemaklik laat voel as 'n hospitaaljurkie. As jy beplan om water vir pynverligting in te span, pak dan ook 'n ekstra hempie met skouerbandjies in wat jy in die water kan dra.
9. Haal asem
Bly bewus van jou asemhaling. Dit help regtig om pyn te verminder. As jy met aandag en fokus asemhaal, kan jy ook seker wees jou baba kry goed suurstof in die baarmoeder. Die pynreseptore in die baarmoeder hou nie daarvan as hul suurstoftoevoer beperk word nie. Moet dus nie jou asem ophou terwyl jy kraam nie - dit sal net meer spanning en pyn veroorsaak.
10. Gebruik aromaterapie
Die geur van aromaterapie-olies kan die kraamlokaal se harde reuk versag en die omgewing verwelkomend en huislik maak. Olie soos laventel, kamille, wierook, lemoenblom en salie het 'n wonderlike, strelende effek op die gees en liggaam. Vryf dit in jou lyf of asem dit van 'n sneesdoekie af in.
11. Gebruik slim tegnieke
Ontspannings- en visualiseringstegnieke is besonder nuttig. As jy beskik oor die vermoë om spanning te laat wegsmelt en jou gedagtes in positiewe prentjies te omskep, gaan jy makliker kraam. Spanning tydens kraam veroorsaak meer pyn en 'n uitgerekte proses. Probeer eerder elke kontraksie verwelkom en gee jou oor daaraan. Maak jou lyf slap en verbeel jou jy's 'n groot stuk jellie. Dink: lyf oop, baba af.
12. Geboorteplan
Kommunikeer hoe jy voel en waarop jy hoop aan die mense wat vir jou sorg verantwoordelik is. 'n Goeie geboorte-ervaring begin by die gevoel dat jý in beheer van die situasie is en dat jy betrokke is by en geraadpleeg word oor besluite wat geneem word oor jou gesondheid tydens jou swangerskap, die kraamdag en die geboorte. Jy behoort soos die middelpunt te voel. Dit sal help dat jy goed voel oor die hele ervaring, ongeag wat gebeur.
13. Vertrou jou span
As jy jou versorger vertrou, sal jy gerus voel en kan ontspan. Kies die regte mense om jou by te staan - dié keuse is een van die belangrikste besluite wat jy sal maak. As dit voel of jou versorger nie na jou luister nie, of die geboorte anders wil aanpak as wat jy wil en nie gehoor gee aan jou wense nie, moet jy iemand anders soek - hoe gouer, hoe beter.
14. Aanraking en massering
Aanraking is 'n kragtige hulpmiddel tydens kraam wat nie onderskat moet word nie. Die meeste vroue geniet aanraking tydens kraam baie, maar daar is sommiges wat glad nie daarvan hou nie. Die manier waarop jy aangeraak wil word, sal ook verander tydens die verskillende fases van kraam. Dit sal wissel van sag en sensitief tot fermer drukkies.
15. Emosionele ondersteuning
Wanneer mense wat vir jou omgee jou aanmoedig en deurlopend prys, help dit jou baie om deur kwaai kontraksies te kom. Positiewe aanmoediging en 'n geloof in jou vermoë om te kraam is baie belangrik.





















