Ouerskap

WARE VERHAAL | Van mikropreemie na baba

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Solms-gesin van Centurion, Gauteng
Die Solms-gesin van Centurion, Gauteng

Daar was geen spesifieke komplikasies met Francine Solms (34) se swangerskap wat veroorsaak het dat haar dogtertjie, Alivia, vroeg gebore is nie. Dit het uit die bloute op 'n lenteaand net ná middernag gebeur.

Francine het daardie aand laat gewerk en toe sy uiteindelik in die bed klim, het sy vir haar man, Donovan (36), vertel dat sy nie haarself voel nie.

"Ek was duiselig en is badkamer toe. Dáár het ek gesien dat ek bloei," vertel Francine.

Die Solms-gesin is onmiddellik hospitaal toe.

"Ons het my seuntjie, Axl (4), al slapende in die motor gelaai en hospitaal toe gejaag. Gelukkig woon ons baie naby die hospitaal."

Francine en haar gesin is direk na die obstetrieafdeling toe, waar verpleegsters haar ondersoek het.

Een van die verpleegsters het gesê Francine se water het gebreek en sy het begin kraam. Toe sê sy boonop dat babas eers teen 25 weke lewensvatbaar is.

"Ondanks dié onnodige opmerking het ek baie kalm gevoel. Dit was asof ek geweet het alles sou goed uitwerk," sê Francine.

Die verpleegpersoneel het 'n hartklopmonitor gebruik om seker te maak Alivia is gesond. Francine is verder ondersoek om seker te maak dat daar genoeg vrugwater vir Alivia in die baarmoeder is.

"Teen seweuur die oggend is ek op bedrus in die obstetriesaal geplaas om te kyk hoe lank ons Alivia binne kon hou. Ek het medikasie gekry wat die kontraksies stopgesit het - en toe begin die lang wag."

Donovan en Axl is intussen huis toe sodat Axl 'n bietjie kon rus. Die plan was dat dié twee weer teen drieuur die middag vir Francine in die hospitaal sou gaan kuier.

"Ek het net voor drie kontraksies begin voel en het die verpleegsters onmiddellik laat weet. Daarná het ek drukking gevoel en besef Alivia is op pad."

Francine is wéér ondersoek en was teen drieuur 10 cm ontsluit.

Alivia is teen halfvier die middag gebore en het maar 650 gram geweeg.

"Ek kon haar glad nie sien nie, maar het haar gehoor geluide maak wat soos 'n klein hondjie geklink het. Hulle het haar dadelik weggevat," vertel Francine.

'n Gesinsaffêre

Donovan, wat intussen by die hospitaal aangekom het, het saam met Alivia na die NISE (neonatale intensiewe sorgeenheid) gegaan.

Axl is deur 'n verpleegster opgepas. "Axl het onrustig geraak. Nadat alles effe skoongemaak is, is hy na my in die obstetriesaal gebring. Ek het hom by my op die bed laat sit en vir hom vertel dat sy sussie pas gebore is. Ek wou alles so normaal moontlik hou en het hom oor sy dag by die skool uitgevra," vertel Francine.

Donovan moes weer huis toe om 'n oornagtas vir Francine te pak en kon gelukkig die apteek in die hospitaal besoek om die nodige, soos vogdoekies, vir Alivia te koop. Hy kon egter nie doeke by die apteek kry wat vir Alivia pas nie en hulle moes by die hospitaal leen tot hulle dit by Takealot kon bestel.

Donovan en Axl is teen agtuur die aand huis toe. Toe eers kon Francine haar dogtertjie vir die eerste keer in die NISE sien.

"Alivia se velletjie was papierdun, amper deursigtig, en haar ogies was toe. Sy was baie klein. Ek het uitgemelk sodat dit deur 'n voedingsbuis aan haar gegee kon word."

Hoewel Alivia maar baie klein was toe sy gebore is, het sy al haar preemie-mylpale met vlieënde vaandels geslaag.

Alivia se brose beentjies twee dae ná haar geboorte.
Alivia se brose beentjies twee dae ná haar geboorte.

NISE toe

Francine beskryf die verpleegsters in die NISE as engele.

"Die verpleegsters wat in die NISE werk, was goed vir ons. Een het selfs tyd afgestaan om vir my en Donovan berading te gee."

Sy is twee dae ná die geboorte ontslaan.

"Ek was verlig om huis toe te kon gaan en by Axl en Donovan te wees. Ek het geweet Alivia is in goeie hande en gaan goeie sorg daar kry."

Alivia was vir sowat twee en 'n half maande in die toe broeikas en is die eerste drie weke aan 'n ossillator gekoppel om met asemhaling te help. Daar is openinge aan die kant van hierdie broeikas sodat die ouers hul hande daardeur kan steek.

"Hoewel jy jou hand deur die gate kan druk, mag jy nie aan jou mikropreemie raak nie. So 'n jong baba se vel is onontwikkel en kan nie aanraking hanteer nie. Ons is geleer om ons hande in 'n bak-vorm te maak en om die voetjies en koppie te sit," verduidelik Francine.

Hierdie "positiewe aanraking", soos dit genoem word, is vir die eerste drie weke ná Alivia se geboorte toegepas.

Alicia het oor die algemeen goed gevaar en het net een aand die mense om haar laat skrik.

Dit was in die week ná haar geboorte. Haar suurstoftelling was laag en haar infeksietelling hoog.

"Maar sy is 'n klein vegter en het ons nie teleurgestel nie," vertel Francine.

Francine het twee keer per dag by Alivia gaan kuier en dan ook genoeg uitgemelk vir haar voedings. Aan die begin het Alivia maar min gedrink; omtrent 0,5 ml per uur.

Sy was al twee weke oud voor haar ogies die eerste keer oopgegaan het.

Die eerstes

Drie weke ná haar geboorte kon Francine en Donovan Alivia vir die eerste keer vashou. Dit was nadat die ossilator met 'n CPAP-masjien vervang is.

"My hart was kalm en gelukkig toe ek haar die eerste keer kon vashou," sê Francine.

Van hierdie oomblik af het die Solms-ouers 'n paar keer per dag kangaroesorg (vel teen vel) uitgevoer.

"Hoewel Alivia met geboorte bitter klein was, het sy al haar preemie-mylpale met vlieënde vaandels geslaag," vertel Francine. "Toe sy meer as 1,5 kg weeg, kon sy vir die eerste keer geborsvoed word. Sy het so mooi en gulsig gedrink!"

Wat preemie-ma's moet weet

Die geheim is om jou kind se verblyf in die hospitaal dag vir dag aan te pak, sê Francine.

"Sommige dae is beter as ander en ons het geleer om dit so te aanvaar. Soms behaal jy klein oorwinnings, ander dae groteres."

Sy sê die ervaring het haar geleer om alle oorwinnings te vier, hoe klein ook al.

Nog 'n brokkie raad is dat 'n mens die ondersteuningsnetwerk om jou moet gebruik.

"My man, ons vriende en kerkge- meenskap was wonderlike steunpilare."

Francine het 'n WhatsApp-groepie gestig om mense op hoogte van Alivia se vordering te hou.

"Almal se liefde het ons deur die drie maande in die NISE gedra. Ons het ook in dié tyd geleer dat die lewe vir niemand wag nie."

Alivia weeg nou op ses maande al 'n stewige 5,2 kg, en bereik ál haar gekorrigeerde mylpale. (Gekorrigeerde mylpale is mylpale wat vroeggeborenheid in ag neem.)

"Daar is soveel om voor dankbaar te wees," sê Francine.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM