Ouerskap

Yster vir baba

Hoeveel yster is genoeg?

Gedurende die laaste trimester van swangerskap word sowat 80 persent van die yster wat met geboorte in jou baba se lyfie is, opgeneem en geberg. Om hierdie rede het voltermynbabas in die eerste ses maande nie so baie yster nodig nie; net sowat 0,27 mg per dag.

'n Baba wat vroeg gebore is, het egter nie hierdie ystervoorraad wat sy lyfie kan gebruik nie, daarom het hy van vroeg af reeds groot hoeveelhede yster nodig. As ma 'n ystertekort gehad het tydens swangerskap, of as sy rook, onbeheerde diabetes het, aan hoë bloeddruk ly of plasentaprobleme gehad het wat baba se groei belemmer het, of as die baba 'n lae geboortegewig gehad het, kan selfs 'n voltermynbaba se ystervoorraad onvoldoende wees. Sulke babas sal dus ook van vroeg af ekstra yster moet inneem.

'n Baba wat met geboorte 'n goeie ystervoorraad het, sal teen ses maande nie meer gebergde yster hê om te gebruik nie. Ses tot twaalf maande oue babas het 11 mg yster per dag nodig. Dit is selfs meer as wat jý nodig het terwyl jy borsvoed.

Dalk te min yster?

As 'n baba minder yster inkry as wat sy lyfie nodig het, sal hy 'n ystertekort ontwikkel. As hierdie tekort nie vinnig herstel word nie, sal hy 'n ernstiger toestand - ystertekort met bloedarmoede - ontwikkel. 'n Baba met 'n ystertekort is meer huilerig, het 'n swak eetlus, sal sleg slaap en minder oplettend wees.

Babas wat in die eerste ses maande 'n ystertekort ontwikkel se motoriese ontwikkeling sal daaronder ly, wat hul hele interaksie met hul omgewing beïnvloed. Ook hul sosiale gedrag kan aangetas word: Sulke babas kan skamer wees en minder positiewe gevoelens hê.

Navorsing wys dat as 'n baba enige tyd van die laaste paar maande in ma se maag tot sowat driejarige ouderdom te min yster kry, dit die ontwikkeling van sy brein kan belemmer. Die nare waarheid is dat sulke skade onomkeerbaar is, aangesien dit 'n kritieke tyd vir breinontwikkeling is. 'n Kind wat as baba 'n ystertekort gehad het, se leer- en onthouvermoë kan dus sy hele skoolloopbaan lank belemmer wees, ondanks behandeling.

Dit is nie maklik om te sien as 'n baba te min yster inkry nie. Teen die tyd dat tekens sigbaar is, is die tekort al ernstig en die skade gedoen. Maak dus seker jou baba kry genoeg yster eerder as om te wag tot jy tekens van 'n tekort sien.

Hoekom is yster belangrik?

Yster verrig 'n paar belangrike take in jou baba se lyfie: dit maak 'n belangrike deel van ons bloed uit, want dit help om suurstof na elke klein selletjie in die liggaam te dra. Yster is ook nodig om spiere te laat werk en help om jou baba se immuunstelsel sterk te maak. Yster is belangrik om jou baba se brein te laat ontwikkel en werk, en is nodig vir die vorming van nuwe breinselle en senuweeselle. Dit maak ook deel uit van die oordragstowwe in die brein en help om energie te gee dat die breinselle kan werk.

Spring só weg

Dis 'n goeie idee om wanneer jou baba op ongeveer ses maande begin eet, sommer heel eerste 'n babapap te gee wat met yster verryk is. Lees die etiket goed want nie almal is verryk nie. Daarna kan jy 'n groente gee, 'n vleis en 'n vrug. As jy elke vierde dag 'n nuwe kossoort byvoeg, sal jou baba dus binne twee weke nadat jy vaste kos begin gee het, vleis kry.

Gee een keer per dag ysterverrykte babapap en aanvanklik een keer per dag omtrent 'n eetlepel vleis, hoender of vis. As jy 'n vrug wat baie vitamien C bevat by die pap gee, sal dit die opname van die yster bevorder. Wanneer jou baba op ongeveer sewe maande drie maaltye per dag eet, kan jy een eetlepel vleis, hoender of vis twee keer per dag saam met die ander kos gee. Op omtrent agt maande kan jy begin lewer gee, wat 'n uitstekende bron van yster is. Vermy tee omdat dit ysteropname kan belemmer. Dit is wys om 'n dieetkundige te raadpleeg as jou baba vegetaries is.

Moenie wag tot jy tekens van 'n ystertekort sien nie - maak liewer seker baba kry genoeg.

Raakgekoop

Babe-Eeze se bord en plekmat is van suiwer silikoon. R300, Dis-Chem.

Waar kry ons yster?

Jy voel dalk sommer lus om by die naaste apteek 'n ysteraanvulling te gaan koop, maar wees versigtig! Te veel yster kan ook nadelig wees. Probeer eers om met kos genoeg yster te verskaf en aanvullings te hou vir wanneer jou dokter of dieetkundige dit voorskryf. Besoek eerder 'n dieetkundige as jy onseker is of jou kind deur kos genoeg yster inkry, of as jy wonder of jy 'n aanvulling moet gee voor sy begin eet, of as julle vegetaries is.

Borsmelk bly die beste vir jou baba, ook as dit by yster kom. Hoewel borsmelk min yster bevat, word 50 persent daarvan opgeneem. Net 4 persent van die yster in borsmelkvervangers word opgeneem en daarom moet dit baie meer bevat sodat babas genoeg kan kry.

Kos kan een van twee soorte yster bevat: heemyster en nieheemyster. Heemyster word gevind in dierprodukte soos vleis, hoender en vis, en nieheemyster in plantprodukte soos spinasie en bone, en in kos wat afkomstig is van diere soos eiers en melk. Jou baba se lyfie kan heemyster beter opneem as nieheemyster. Kyk na die tabel hieronder om vas te stel watter kossoorte baie ysterryk is.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM