Reis

3 Lekker doendinge in Astorga

Astorga se geskiedenis begin reeds by die 3de eeu en teen die 11de eeu was dit al 'n belangrike sentrum vir pelgrims. Dit is omdat dit so strategies geleë is as 'n poort tot die bergroetes. Op die hoogtepunt van die dorp se geskiedenis het dit 21 pelgrimherberge gehad, en is daar ook artefakte wat wys dat 'n jong Francis van Assisi op sy 1214-pelgrimstog op die dorp oorgebly het.

1. Die Astorga-katedraal

Die huidige gebou is opgerig op die terrein waar 'n Romaneske kerk van 1069 tot die 13de eeu gestaan het. Bouwerk aan die huidige katedraal het in 1471 begin, maar die meeste bouwerk het eers in die 16de eeu plaasgevind. Op die timpaan van die wesgewel kniel 'n pelgrim voor Christus. In die museum langs die katedraal kan jy onder meer 'n preekstoel uit die 10de eeu sien en 'n juwelekissie wat koning Alfonso III in 900 aan die biskop van Astorga geskenk het.

DIe Astorga-katedraal.
DIe Astorga-katedraal.

2. Gaudi se biskoppaleis

Antonio Gaudi het die neo-Gotiese paleis vir aartsbiskop Juan Bautista Grau Vallespinos ontwerp en die bouwerk het in 1889 begin. Die aartsbiskop se ontydige dood en ander probleme het bouwerk met 20 jaar vertraag. (Wat nie vreemd is vir Gaudi-ontwerpe nie, want hulle bou al sedert 1883 aan sy meesterstuk, die katedraal La Sagrada Familia in Barcelona.) Die biskoppaleis is in 1913 voltooi. Dit het Gotiese elemente waarin Gaudi wit graniet van die Bierzo-streek met versierde teëls en gebrandskilderde glas kombineer.

Sedert 1963 huisves die Gaudi-paleis ook die pelgrimmuseum waar jy 'n eiesoortige versameling van hoede, skoene, skulpe en ander pelgrimaandenkings kan sien.

3. Die Sjokolade-museum

As jy al 'n bietjie uitgekuier is aan katedrale en "ernstige" besienswaardighede, maak 'n draai by die Museo Del Chocolate. (Die toeristekantoor oorkant die Gaudi-paleis sal jou in die regte rigting stuur.) Volgens oorlewering was Astorga die eerste plek in Europa waar die betowerende drank van kakao geproe is, en die dorp het verskeie spesialiswinkels en die museum wat daaraan toegewy is. Dit is nie 'n groot museum nie, maar jy kan die basiese proses sien van hoe 'n kakaoboon in 'n sjokoladestafie omskep word. Jou 2,50 euro-toegangsgeld sluit 'n proe-sessie in. (So asof ons nie weet hoe sjokolade proe nie.)

Bronne: The Pilgrimage Road to Santiago - The Complete Cultural Handbook deur David M. Gitlitz en Linda Kay Davidson.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM