Foto's: Piet van Heerde
Ná 12 uur op die pad kom die konvooi uiteindelik by die oornagpunt aan. Hier is 21 voertuie in die groep en van hulle is nog besig om teen die laaste bult uit te ry. Die deelnemers is honger en moeg, maar skielik roep 'n benoude stem oor die radio: "Die Pajero het gerol!"
Avontuurlustig
Die Rocking Crawlers is 'n klomp hardebaard-4x4-entoesiaste en hulle jaarlikse Ultimate 4x4 Adventure is die hoogtepunt van hulle jaar.
'n Konvooi uitgesoekte motors vertrek uit Gauteng op pad na 'n onbekende bestemming waar hulle 4x4's tot die uiterste getoets word. Hardcore, soos die Engelse sou sê. As daar 'n goeie lyn aan die regterkant van 'n hindernis is, vat hierdie menere die pad bo-oor, waar bobbejaan se kind nie eens met 'n kierie kan loop nie.
Dié avontuur is nie almal beskore nie. Jy doen aansoek en word genooi as jou voertuig aan 'n klompie streng minimumvereistes voldoen… jou ryding moet minstens 33"-tekkies dra, hy moet 'n ewenaarslot voor én agter hê, en jy mag die avontuur nie sonder 'n selfherwinbare wenas meemaak nie.
Om deel te neem is dit nie nodig dat jou ryding met duisende rand se toerusting moet spog nie, maar wat jy wel moet saambring, is kameraadskap. As jou antwoorde die organiseerders genoeg beïndruk, word jy genooi om deel van hierdie jaarlikse epiese avontuur te wees.

Dag 1
Hier gaat ons!
Die bymekaarkomplek is in Midrand by een van die werkswinkels waar van die Rocking Crawlers modifikasies aan hulle voertuie doen. Hulle is allermins 'n klomp wildewragtigs wat lus het om hulle karre te breek. Nee, alles is netjies beplan en met groot sorg aanmekaargesit.
Al die deelnemers is vriendelik, maar hier hang 'n onsekerheid in die lug omdat niemand weet waarheen hulle op pad is nie. Elkeen het vooraf 'n paklys ontvang, met jou paspoort heel boaan.
Die deelnemers word byeengeroep en die bestemming word aangekondig. Ons gaan Swaziland toe! Dan word die konvooireëls verduidelik: Jy is verantwoordelik vir die voertuig agter jou; skakel jou hoofligte aan op die snelweg; en gee toe vir ander padgebruikers. T-hemde, buisserpe en pette word uitgedeel en dan vertrek ons sonder veel seremonie. Een na die ander.
Corné van der Merwe ry heel voor met Bronx, die Jeep met die meeste veranderings. Veral sy 39"-tekkies tref die oog. Agter hom is Nicholas Harris en dan volg ons - ek, Shane Klebb en Arné Kotze in Ruby, die Jeep Rubicon van Corné se vrou. Shane en Arné is ook die tegniese span. Die groep is egter nog nie volledig nie, want 'n paar voertuie kom van Polokwane af en sal later by ons aansluit.
Alles gaan goed tot net anderkant Bronkhorstspruit wanneer die Rubicon probleme begin gee.
Alles gaan goed tot net anderkant Bronkhorstspruit, wanneer die Rubicon probleme gee. Die hele konvooi hou stil, die enjinkap word gelig en daar word beraadslaag. Dit blyk met die vorige diens is aan die ratkasolie se termostaat gekarring en nou word die olie nie reg deur die verkoeler gelei nie. Daarom word hy te warm.
Die manne besluit om op Middelburg hulp te soek. Die res van die konvooi kan aanbeweeg; ons sal hulle later inhaal.
Die probleem word vinnig opgelos en ons kies koers Carolina toe. Die pad is besaai met slaggate, maar met die 37"-Cooper-bande voel ons dit skaars.
Ons ontmoet die res van die konvooi by die Waverley-grenspos, handel die papierwerk af en vertrek na die Mhlambanyatsi-sportterrein waar ons vanaand oornag. Hier wag ordentlike geriewe en warm storte op ons.
Ons bespreek môre se roete en dis duidelik dat 'n lang dag op ons wag. Ons word egter die versekering gegee die skouspelagtige uitsigte sal dubbel en dwars daarvoor vergoed.

Dag 2
Klippe toe
Die meeste van die voertuie in die groep is Jeep Rubicons, almal met 'n aansienlike klomp modifikasies. Hier is ook drie Pajero's en twee Toyotas - 'n Cruiser en 'n ou Hilux-bakkie.
Een van die dinge wat 'n mens onmiddelik opmerk, is hoe liggies almal in die groep trap. Hulle los skaars 'n spoor waar hulle gery het, en van 'n getol en onnodige vermakerigheid is hier nie sprake nie.
Kort ná ons vertrek staan die een Pajero langs die pad. Sy dryfas is onklaar en dit lyk of sy avontuur voortydig tot 'n einde gekom het. Die res van ons kom bymekaar, en weer gesels ons oor wat die dag vir ons inhou. Iemand mompel iets oor 'n spaardryfas wat hy eers moet aansit.
Die roetes waarop ons vandag gaan ry, is ou skoolbusroetes wat só erg deur erosie beskadig is dat busse dit nie meer daar kan waag nie. Dis egter nommerpas vir 4x4-entoesiaste.
Bande word afgeblaas en ons begin in 'n rivierloop opry. Hier is verskeie groot klippe waaroor ons moet klouter met die voertuie. Dit gaan moeilik, en binne die eerste kilometer is daar reeds 'n lang lys voorvalle. Die een Pajero se regternaaf wil nie inskop nie, maar dit word vinnig herstel. Een van die Jeeps het 'n band van sy velling afgetrap, en dit kan ook taamlik vinnig teruggesit word. 'n Ander Jeep se voorste ewenaarslot wil nie laat los nie, maar die werktuigkundiges is gou daarmee doenig.
Die grootste probleem is met die Land Cruiser-bakkie wat sy hele regterkantste voorste dryfas verloor het. Die eienaar, Paul Ruschenbaum, is op die foon om nuwe onderdele te bestel. Hy gaan moet agterbly om daarvoor te wag en sal hom later by die konvooi aansluit - mits hy vinnig genoeg gehelp word.
Hiervandaan verloop sake klopdisselboom, selfs oor die hindernisse wat al hoe meer uitdagend raak.
Die volgende deel van die roete is heen en weer teen 'n berg op. Die deelnemers toets hulle vernuf teen enorme diep erosieslote, en telkens word 'n herwinstrop aan iemand se ryding vasgemaak om hom deur 'n sloot te help. By elke hindernis is daar 'n makliker opsie, maar wie wil nou daar ry?
Die konvooi beweeg aan, maar dit gaan stadig. Om só 'n lang trein deur die heuwels van Swaziland te lei is 'n tydsame ervaring. Ons ry af oor 'n groot granietrots en deur nog 'n paar slote... en die volgende oomblik begin een van die Jeep Rubicons skielik agteruitloop. Hy hop hoog en kom dan tot stilstand. Almal draf nader om te sien wat gebeur het.
Blykbaar het die enjin, net toe hy bo-op 'n rots was, om die een of ander rede uitgesny. Toe die bestuurder, Len Nel, die handrem wil oppluk, het sy waterbottel in die pad gekom en hy het die kar uit rat uit gestamp, met die gevolg dat die kar sonder beheer agteruit geloop het. Dit wys jou net hoe vinnig iets kan skeef loop.
Omtrent 'n kilometer verder is daar weer 'n bottelnek, en die een band van Nick Erasmus se Jeep klim van sy velling af - nou staan die hele konvooi. Dié wat kan help, help en die res staan maar rond en wag.
Met die terugkyk sien ons die silwer Pajero wat vanmôre sy dryfas verloor het, ry weer volstoom saam. Die Cruiser het ook intussen sy verlore boute en moere vervang en weer by ons aangesluit. Ons is weer voltallig.
Van hier af is daar nie meer hinderisse nie, maar dit raak nou vinnig donker en ons het nog sowat 'n uur se ry oor vir die dag. Die roete van hier af na die kampterrein is nie moeilik of ver nie, maar tog bedrieglik en ons moet baie versigtig ry.
En dis nét hier waar Martin Ferreira met sy Pajero net effens van die regte lyn af beweeg en beheer verloor.
Die eerste rol was blykbaar nogal stadig. Hy het vir 'n oomblik weer op sy wiele beland en toe ewe grasieus verder begin rol en gelukkig - drie rolle verder - teen 'n boom tot stilstand gekom. En gelukkig het niemand seergekry nie.
Almal wat kom help, is kundiges. Ons besluit op een persoon wat die herwinning bestuur, en wat besonders is van die groep is dat daar te alle tye by die veiligheidsaspekte van 4x4-herwinning gehou word. Met wenasse, stroppe en kabels word die Pajero herwin tot hy terug is op sy wiele. Ná 'n vinnige skadeberaming word die voertuig teen die bult uitgesleep tot waar ons kamp vir die aand. Ons sal moet wag vir daglig voor ons 'n beter kan sien presies wat die skade is. Dan sal hulle besluit of die silwer Pajero, wat nou meer soos 'n reuse gebakte aartappel lyk, verder sal kan ry of eerder huiswaarts moet keer.

Dag 3
Die mooi van Swaziland
Vanoggend kom dit aan die lig die Pajero het skade aan sy enjin en ratkas. Die gebakte aartappel moet huis toe.
Ná koffie en ontbyt in die gloed van 'n manjifieke sonsopkoms ry ons verder. Stelselmatig word die roete weer al hoe moeiliker en lekkerder. Ons gaan op teen heuwels, af deur slote. Veringstelsels word tot op die uiterste beproef en meer as een band word van die velling afgery. Maar dis deel van die avontuur en dié klein probleempies word in 'n oogwink reggemaak.
Maar net toe dit begin voel dit gaan nou té goed, gaan staan een van die Jeeps. Sy koppelaar wil nie meer lekker ontsluit nie en die ratte is weg. Die tegniese span kyk en krap - en ná 'n rukkie is die ratte terug. So ry ons aan deur verskeie plekke met interessante name, soos Snake River en Cross Your Legs.
Ons eet middagete, maar toe ons verder wil ry, het die Jeep se koppelaar besluit tot hier toe en nie verder nie. Ons sleep hom tot by die naaste diensstasie in Mbabane. Dit is ongelukkig die einde van Gerrit Oosthuizen se avontuur.
Ons ry deur die skone natuur, tussen groot heuwels en groot rotse tot by 'n uitkykpunt waar dit voel of jy die volgende klompie dae kan sien aankom.
Die laaste deel van die roete neem ons oor groot granietrotse met berge wat strek tot doer bo waar hulle blou word. By die waterval Zone Waterfalls, waar ons gaan oornag, ry ons halfpad langs die waterval af op terrasse en slaan kamp op. Van die manne gebruik die geleentheid om 'n bietjie sweet af te was in die ysige waterpoele.

Dag 4
Moddergate en moeilikheid
Die heel eerste hindernis vir die dag is langs die waterval af. Dié een is vir die manne wat lus is vir steil afdraandes - die helling word op plekke op 52º gemeet. Drie voertuie besluit om dit te doen, en 'n paar mense besluit dis 'n beter idee om eerder af te stap.
Met hulle terugkeer is almal klaar opgepak en reg om te ry. Voor ons behoorlik aan die gang kom, sny 'n Jeep se enjin uit. Die tegniese span maak 'n groepie om die enjinkap, maar hulle kry nie dadelik die fout nie.
'n Rukkie later rol die Jeep se wiele weer. Dit was net 'n smeltdraad en ons is verlig om verder te kan ry. Maar met die wegtrekslag is dit die mense in die Cruiser wat van hulle laat hoor: Hulle sukkel met 'n pap battery. Gelukkig is die oorbrugkabels naby en ons kan uiteindelik verder aanstoot.
Ons ry deur die skone natuur, tussen groot heuwels en groot rotse tot by 'n uitkykpunt waar dit voel of jy die volgende klompie dae kan sien aankom. Van hier af ry ons nou so half op die kruin van die heuwels, slinger-slinger tusen die enorme granietblokke deur.

Ons bereik 'n punt waar ons weer teen die helling afgaan en in 'n groenerige lappie aarde eindig. Bronx gaan eerste in en dit is duidelik nie sommer net gras daaronder nie, maar 'n groot modderspul. Dis net 'n wenas wat hom uit dié gemors gaan kry. Nóg twee voertuie waag dit daar in, maar die herwinningstyd is net te lank en die res van die konvooi besluit om eerder op droë grond te bly.
Die deelnemers praat onder mekaar en daar word besluit om Handbrake Hill ook aan te durf. Dit is 'n kort stukkie van die oorspronklike skoolbusroetes, sowat 'n kilometer lank, maar erosie het sy tol geëis op die pad. Die slote is só diep jy kan iemand daarbinne verloor. So begin ons met die konvooi daar opry, en aanvanklik lyk dit heel doenbaar.
Ons maak dit oor die eerste paar slote en stop gedurig om vir mekaar aanwysings te gee. Die volgende oomblik is dit asof álles skielik ophou werk. Nick het weer 'n band van sy velling afgery, die Cruiser voor ons lê op sy pens met al vier wiele wat in die lug tol, en oor die radio kom die boodskap van die rooi CJ Jeep wat sy as afgebreek het. En om alles te kroon het dit pas begin reën.
Die ander manne met die rooi Pajero is by die Jeep en begin dadelik om hom uitmekaar te haal. Hulle reken hulle kan hom gou-gou regsweis. Hulle moet net êrens 'n sweismasjien kry. Daar is ook iemand wat Ruby se wenas aan die Cruiser voor ons koppel sodat hy weer kan aanry, en later hardloop iemand met 'n hoogligdomkrag verby om vir Nick te gaan help. Die kameraadskap word nou uitgepak en almal help almal wat hulp nodig het.

Intussen het daai manne 'n tannie op 'n plaas gekry, 'n sweismasjien by haar geleen en die gebreekte onderdeel van die rooi CJ so goed as moontlik herstel.
Die konvooi kan weer aanbeweeg, maar omdat niemand die gesweiste onderdeel heeltemal vertrou nie, word daar besluit om die CJ eerder op 'n sleepwa te laai.

Weens al dié drama kom ons eers ná donker terug in Mbabane. Hier besluit die ouens om eerder nie die roete terug na die eerste aand se kamp te vat en in die reën te probeer kamp nie. Ons oornag in die nabygeleë Hawani-oord.
Môreoggend ry ons terug huis toe ná 'n uitmergelende klompie dae propvol drama en moeilikheid. Maar een ou se drama en moeilikheid is 'n ander se hoogtepunte en avontuur. Die Rocking Crawlers sal dié klompie dae se saamry vir niks verruil nie.













