Terwyl jy kyk hoe rooibokke en waterbokke senuagtig die krokodille probeer omseil om by die watergate van die Shingwedzi-rivieroewer in die Krugerwildtuin uit te kom, wonder jy straks waar die skouspelagtige Shingwedzi-kranse is waarvan jy al gehoor het... en waar langs die rivierbedding jy dit sal vind.
'n Vinnige soektog op die kaart wys jou die kranse is sowat 40 km suidoos soos die kraai vlieg, nagenoeg 20 km anderkant die Mosambiekse grens. Ook dat die kampterrein in die wildernis weer oop is vir die publiek nadat die ruskampe in die Limpopo- nasionale park gedurende die Covid-19-pandemie gesluit was.
Die Shingwedzi-kranse is bereikbaar met 'n 4x4-roete van 30 km, wat jou sowat 2½ uur sal besig hou as jy van die Giriyondo-grenspos met Mosambiek af kom. Jy gaan nie daar uitkom soos die kraai vlieg nie, maar jy kan die 100 km of so van die Shingwedzi-ruskamp of 40 km van Letaba af na die Giriyondo-hek op wiele aflê.
Jy moet minstens een aand in die Krugerwildtuin oorslaap voor jy die grens kan oorsteek, aangesien owerhede swaar voertuie wat die R447 as 'n deurpad wil gebruik, wil kortwiek. Maak dus seker jy het 'n kwitansie vir jou Kruger-bespreking. Maak ook seker jy bereik die grenspos voor die hekke gedurende die somermaande (Oktober tot Maart) om 16:00 en in die winter om 15:00 sluit.

Suid-Afrikaners het nie 'n visum nodig vir die besoek nie, maar wel jou paspoort wat minstens vir nog ses maande geldig is ná die datum van jou terugkeer. Jy moet ook jou ry- en sleepding se registrasiedokumente sowel as verpligte Mosambiekse derdepartyversekering hê plus twee rooi nooddriehoeke in jou voertuig.
As die motor nie in jou naam geregistreer is nie of jy ry met 'n huurmotor, moet jy 'n brief van die regmatige eienaar kan wys voor jy die grens mag oorsteek. Jou Suid-Afrikaanse rybewys is geldig in Mosambiek.
As binnelandse sake aan die Suid-Afrikaanse kant van die grens rekenaarprobleme ondervind, kan jy jou staal vir pynlik stadige diens. Dit kan tot 30 minute per persoon neem voor die haakplekke uitgeklaar word en alles verwerk is. Aan die Mosambiekse kant, waar jy 'n toegangstarief moet betaal, is die ongerekenariseerde prosessering aansienlik vinniger.

Die Mosambiekse grenspos aanvaar betaling in meticals of Suid-Afrikaanse rande, wat sake aansienlik vergemaklik. Toegang is 600 meticals (nagenoeg R175) p.p.p.d., 600 meticals per voertuig (met tot 6 sitplekke) en 400 meticals vir die wilderniskampplek met geen geriewe nie. Ja, daar is absoluut geen geriewe nie.
Die Shingwedzi-kranse is ongerepte wildernis, en dít is juis die attraksie. Maar jy beter goed toegerus wees met genoeg kos, water, brandstof en al die nodige 4x4- en kamptoerusting. Satelliet-ontvangs is goed en 'n GPS-ontvanger word sterk aanbeveel.

Goed, en daar gaan jy, met die wete dat die spoedperk in die park tussen 20 km/h en 40 km/h is. Die R447 van die Giriyondo-hek af is 'n goeie gebruikte pad wat 70 km suid loop tot by die Massingirdam.
Sowat 1½ km van die hek af sal jy die begin van die 4x4-roete aan jou linkerkant sien (S31.670464 E23.590621). Dis 'n baie rowwe, ongelyke roete wat 'n 4x4-voertuig met 'n hoë grondvryhoogte verg. Daar is twee plekke waar jy 'n rivier moet oorsteek, maar dié is droog in die winter en behoort volgens parkbeamptes in die somermaande nie 'n ernstige struikelblok te wees nie.
Jy kry ook op pad soontoe te doen met 'n soliede rotsformasie, maar dis relatief gelyk en heel maklik om te navigeer. In die verloop van 30 km daal die roete van 386 m bo seespieël by Giriyondo tot 200 m by die Shingwedzi-kranse.

Aan die begin mik die roete noordwes vir sowat 7 km en dan vir 23 km noordoos tot by die rivieroewer van die Shingwedzi-kranse - dis 'n lieflike ligging op 'n massiewe kronkel in die rivier. Hier sorg reuse-watergate vir hope speelplek vir die seekoeie en krokodille.
Die Limpopo- nasionale park het nie soveel diere soos die Krugerwildtuin nie, maar sedert hy in 2002 deel geword het van die Groter Limpopo-oorgrenspark, is "strategiese" stroke in die grensheining tussen die Kruger en Limpopo verwyder, sodat wild vrylik tussen die twee kan rondbeweeg.

Gevolglik is daar 'n voortdurende toename in getalle. Kameelperde, buffels en rooibokke word gereeld gesien en daar is duidelike tekens van olifantaktiwiteit - mis en gebreekte boomtakke - op die roete. Dit beteken jy moet soms stilhou om van die groter takke uit die pad te sleep. Volgens die parkbrosjure kan jy ook sebras, wildebeeste, koedoes en 'n wye verskeidenheid voëlspesies te wagte wees.

Hier is ook leeus, luiperds, jagluiperds en swartwitpense al in die park gewaar, hoewel minder gereeld. Soos jy jou bestemming (S31.670135 E23.408260) nader, lei die roete jou oor 'n rant na die kampplek met 'n uitsig op die Shingwedzi-rivieroewer daar onder... met die kranse wat bo uittroon.
Hoewel die Giriyondo-grenspos tussen Suid-Afrika en Mosambiek in 2005 geopen is om Suid-Afrikaners toegang tot die Limpopo- nasionale park te bied, is die park eintlik deel van die Groter Limpopo-oorgrenspark - amptelik gestig in 2002, maar steeds in die ontwikkelingsfase. Die oorgrenspark omsluit die Krugerwildtuin in Suid-Afrika, die Limpopo- nasionale park in Mosambiek en die Gonarezhou- nasionale park in Zimbabwe - 'n enorme bewarea van nagenoeg 35 000 km².
Die sogenaamde oorgrensvredesparke is die nalatenskap van oudpres. Nelson Mandela, met die doelwit om gedeelde bewaringsgebiede sonder grense te skep in wat eens frontliniestate was. Die ontwikkeling van 'n park om uiteindelik deel te vorm van die oorgrensinisiatief word ondersteun deur finansiering en tegniese kennis van die Vredesparkstigting.
En dis wat hierdie 4x4-roete so spesiaal maak: Hy neem jou tot in die hartjie van die Limpopopark met die geleentheid om van daar af verder te gaan verken - in die toekoms tot in Zimbabwe (via die Sengwe-korridor). Van die Shingwedzi-kranse af sluit die roete dus aan by 'n ander een wat noord strek, al met die rivier langs vir omtrent 25 km in die rigting van Makandezulo.

En van dáár af neem nog 'n roete jou na die Mapaihek en die R423, wat jy kan volg na die Pafurihek en dan terug na die Krugerwildtuin. Net 3 km van Crookes Corner af.
Kortom, 'n lieflike sirkelroete wat deur albei parke kronkel. 'n Ander opsie is om suid te mik en aan te sluit by 'n roete wat jou deur Machamba, Tchonguene, Bingo, Mavodze en uiteindelik tot by die Massingirdam lei, die suidelike grens van die Limpopo- nasionale park. Van daar af is Komatipoort jou logiese keuse terug na Suid-Afrika toe.
In die toekoms gaan die Groter Limpopo-oorgrensparkbewaringsgebied (TFCA), in omtrek bykans 100 000 km², ook die Banhine- en Zanive- nasionale park, die Massingir- en Corumana-gebied en die tussenstreke in Mosambiek insluit, sowel as verskeie bewaringsgebiede in private en staatsbesit in Suid-Afrika en Zimbabwe en wat grens aan die oorgrenspark.

Dit sal 'n enorme stuk aarde skep wat mense kan gaan verken en geniet. En nes die Kgalagadi-oorgrenspark - wat bewaringsgebiede in Suid-Afrika, Namibië en Botswana omvat - sal besoekers in die park kan reis sonder om doeanekantore aan te doen, tensy jy 'n park verlaat in 'n land waar jy nie vroeër ingekom het nie.
Goed om te weet
Maksimum voertuie? Die roete is smal en voertuie sal in 'n enkelgelid moet reis.
Kry ek 'n kaart? Nee, 'n GPS-ontvanger word dus sterk aanbeveel.
Sal my voertuig krapmerke kry? Moontlik. Wees versigtig as jy in lang gras ry of verby bome met lae takke.
Moet ek 'n kompressor saamneem? Dit word sterk aanbeveel. Die roete is ongelyk en rof, en 'n lekband is maar altyd 'n moontlikheid.
Kan ek langs die pad braai? Die hele rit duur net 2½ uur en die beste braaiplek is by die Shingwedzi-kranse.
Kan ek omdraai as ek moet? Ja, jy kan inderdaad omdraai.
Selfoonsein? Nadat jy die Giriyondo-grenspos verlaat het, is daar geen selfoonsein op die roete nie.
Beste tyd om te gaan? Regdeur die jaar - in die somer gaan jy dalk 'n rivier moet oorsteek, maar dis 'n klein uitdaging.
Kan my gesin saamkom? Beslis.
En my hond? Nee, geen troeteldiere word in die Krugerwildtuin of Limpopo- nasionale park toegelaat nie.
Dagbesoek of naweek? Dis 'n dagbesoek, maar kan benut word om ander dele van die park te verken vir langer besoeke.
Hoe lank neem dit? Die roete sal jou 2½ uur neem om te voltooi.
Is daar enige geriewe? Nee, daar is geen geriewe nie. Daarom is dit belangrik om deeglik voor te berei en toegerus te wees.
Aanwysings Die 4x4-roete is beskikbaar in GPX-formaat om te gebruik saam met 'n GPS-ontvanger. Jy het ander GPS-inligting nodig as jy die Limpopo-park verder wil gaan verken - skaf dit aan by Tracks4Africa.
Kontakbesonderhede 00 258 843 011 719; pnlimpopo@gmail.com; lsalinha6@gmail.com; parquelimpopo.gov.mz
Prys 600 meticals (R175) p.d. plus 600 meticals per voertuig. Wilderniskampering kos 400 meticals p.n.















